Vrydag 19 Januarie 2018

My Vriend Pine


Image result for stephan joubert ekerk


Stephan Joubert van e-kerk vertel: My vriend Pine, oftewel Salmon Pienaar, soos wat sy geboortesertifikaat sê, het vroeër vir die Suid-Afrikaanse Lugmag gevlieg.

            Vandag vlieg hy as private vlieënier die hele Afrika vol.

            Sy grootste 'vliegtuigstorie' is wanneer hy vertel hoe sy lewe se koördinate dramaties verander het toe hy die Man van Nasaret trompop raakgeloop het. Almal wat die ou Pine geken het, was oorbluf oor Pine II, wie se lewe nie meer ontsier is deur daardie dinge wat 'tawwe manne' gewoonlik doen om hul manlikheid te bewys nie.

            Maar 'n mens bly ook maar net mens. Hier en daar steek dinge vas wat moeilik uit jou sisteem padgee. Daarom dat Pine so geskok was toe hy op 'n dag bewus raak van 'n innerlike oortuiging dat hy sy huiswerker, Maria Ma-tseke, se voete moet was.

            Hy, 'n eks-lugmagvlieënier, wat voete was?! Dit het nie te lekker afgegaan nie. Maar vir iemand wat so radikaal tot geloof gekom het, en wat nie met die gewig van godsdienstige vroomheid opgesaal sit nie, is só 'n oortuiging nie grappies nie. Nogtans was dit nie 'n maklike ding om te doen nie.

            Jy moet immers op jou knieë voor iemand staan as jy voete was.

            Pine het weke lank oor hierdie voetwassery-ding getob. Tot op 'n dag dat hy dit nie langer kon uithou nie. Hy het vir Maria nader geroep en vir haar gesê om haar skoene uit te trek. Terwyl dié waardige dame, wat al jare lank by Pine werk, hom groot-oog aangekyk het, het hy haar voete onbeholpe gewas. Hy, 'n man onder die manne, op sy knieë voor sy huiswerker met 'n skotteltjie water het skielik hardop uitgebasuin

waarvoor Jesus staan.

            Toe volg die eintlike skok 'n paar dae later. Maria het kom sê: 'Meneer Pine, jy moet asseblief Sondag in Mamelodi kom voete was!'

            'Hoekom?’ het Pine gevra.

            'Ek werk al jare lank vir jou, maar jy het nooit agtergekom van die artritis wat maak dat ek moeilik oor die weg kom nie.

            'Nou die dag, toe jy my voete gewas het, sou my laaste werkdag by jou gewees het. Ek wou bedank want ek kan nie meer die pyn uitstaan nie. Maar toe was jy my voete. Kyk, ek kan weer loop.

            'Die pyn is weg. Die HERE het my aangeraak. Die mense by my kerk in Mamelodi het hiervan gehoor. Hulle wag vir jou!'

Egte Goeie Nuus het daardie dag gewen. Pine se buite-die-boks-gehoorsaamheid was al wat nodig was om sy lewe in sesde rat te plaas.

Terloops, jy moet hierdie ou grote deesdae hoor. My vlieg-vriend loop deesdae saam met Jesus op water rond! En ek leer by hom. Want dis dáár waar ek ook die graagste wil wees.

Miskien het ek self te gewoond geraak aan heilige dinge. Ek is al só ge-kerk, be-preek, op-gepreek, ingelig, geleer, of self aan die leer dat min dinge aan die geestelike front my nog soos 'n klein kindjie verras. Eintlik het ek my geloof lankal in 'n veilige boksie verpak met etikette aan alles en almal daarbinne én daarbuite. Ek is vas oortuig van wat reg en verkeerd is, en saam met ander sing ek Sondae half valerig oor Jesus wat die Bron van my vreugde is.

Dalk het ek ook tussendeur Christenskap in 'n stel dooie reëls vervorm, in plaas van 'n lewende verhouding met Jesus.

Ja, ek veg vir die waarheid en staan dapper op vir my beginsels, maar verander dit mense se lewe ooit op die regte manier?

Daarom dat ek skielik so doodmoeg is vir dié geblikte, kort-raklewe-godsdiens waarvan die vervaldatum lankal verstryk het. Met dié dat ek vandag amptelik bedank by die kerklike klub van veilige heiliges waarvan ek die erevoorsitter is! Ek wil Jesus weer op verrassende maniere ontdek, soos wat Hy vir Maria en Pine verras het deur hulle in 'n lewende seën vir mekaar en ander te verander.

            Terwyl ons kerklik dink, praat en dreig oor hoe ons nog eendag die wêreld gaan verander, gebruik Jesus intussen doodgewone mense onder ons neuse om 'n paar sentimeter op 'n slag splinternuut te maak. Salmon Pienaar van Pretoria-Oos en Maria Matseke van Mamelodi het Jesus se vlag stil-stewig geplant deur mekaar te dien.

            Dit het die hemele geskud. Dink net wat sal gebeur as ons almal die kerklike servette van ons nekke afhaal en ons dit 'n slag oor ons arms gooi om self ook bediendes van Jesus te word!