Woensdag 18 November 2015

Laat God jou Min vermenigvuldig


Image result for gideon bible warrior



Jonathan het in 1 Sam 14:1-23, vir die dienaar wat sy wapens dra gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes; miskien sal die HERE vir ons optree, want vir die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie. – 1 Sam. 14:6.

Israel was in ‘n benarde posisie. Die Filistyne het teen Israel opgeruk met 30 000 strydwaens, 6 000 perderuiters en soldate soos die sand van die see (1 Sam. 13:5).

Israel se eie soldate was so vol vrees dat hulle in gate weggekruip het. Net 600 man uit Salomo se ganse leër het by hom gebly.

Maar Jonathan, Saul se seun, was nie bevrees nie. Hy het sy wapendraer saam met hom geneem en die Filistyne uitgedaag. Dit was net hulle twee teen honderde duisende, maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle was bereid om hulle lewens te waag in God se veldslae.      

Hulle het sowat 20 man om die lewe gebring, maar dit was genoeg. God het dit gebruik om vrees in die harte van die Filistyne plant en dit wil voorkom dat die Filistyne mekaar toe ook begin doodmaak het, weens ‘n totale verwarring wat onder hulle ontstaan het.

“En daar kom ‘n skrik in die laer, in die veld en onder al die manskappe; die wagpos en die roofkommando, hulle het ook geskrik, ja die land het gebewe, sodat dit ‘n skrik van God geword het.”

Jonathan het nie tyd gehad om die hele leërmag uit te delg nie. Al wat hy gedoen het was om 20 manskappe van die vyand te verslaan. God het dit egter geneem en vermenigvuldig tot ‘n reuse oorwinning.

Ons hoef nie die hele ding met een slag te doen nie. Soms moet ons net daardie stap in die geloof neem en God sal ons poging vermenigvuldig.

Neem ‘n stap in die geloof in dit wat God jou geroep het om te doen en sien hoe God dit dan gaan vermenigvuldig, presies soos wat Jesus Christus met die vissies en die broodjies gedoen het.

Die dissipels kon geredeneer het dat dit tog onmoontlik sou wees om 5 000 man en hulle vroue en kinders met daardie paar broodjies en vissies te kon voed, maar toe hulle die eerste tree in die geloof gee en begin uitdeel, het God se vermenigvuldende krag in werking gekom.

            In Rigters 6 en 7 is Gideon vol vrees vir die vyand. Hy wan sy koring onder in ‘n wynpers uit. En die HERE praat met hom en gee hom ‘n opdrag. Gideon antwoord dat die HERE eintlik met die verkeerde man praat want sy stam is die swakste van al die stamme en hy is op sy beurt die swakste in sy stam.

            Die HERE sê dis reg so want as ek die swakste gebruik dan sal die volk weet dat net God die vyand kon verslaan. Gideon kry uiteindelik 10 000 man gereed vir die veldslag en die HERE sê nee, dis hopeloos te veel en skaal Gideon se mannekrag af na net 300.

           Reg deur die Bybel het God nog altyd die min gebruik om die baie mee te doen.

Hoe min het jy?
           Dit maak nie saak hoe min jy het nie. Kom staan met jou min en al saam in gebed vir die grootste Herlewing ooit. Herlewing begin met gebed. Moedig ook ander aan om hulle min te bring en 'n gebedsvuur aan te pak. -- Sjibbolet