Maandag 09 November 2015

Enige dag, enige uur... wees net gereed


Image result for wederkoms van jesus christus 


Binne ‘n kwessie van ure voor Jesus Christus se Kruisiging, vind ‘n allerbelangrike gesprek plaas. “En toe Hy gaan sit het op die Olyfberg, regoor die tempel, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas Hom afsonderlik:
            “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?” Mark 13:3-4
            Hier word die koers van die menslike geskiedenis uitgestippel.
            Jesus voorspel met merkwaardige akkuraatheid die verloop deur die eeue tot en met sy Wederkoms.
            Ons sou getuie wees dat die pad nie maklik en ons las nie lig sou wees nie. Ons sou getuie wees van die ontstaan van sektes en vals goddienste binne en buite die kerk, ook van etniese en sosiale konflik, rampe in die natuur en vervolging van Gelowiges uit alle oorde.
            Jesus het geweet dat ten spyte van alles wat sou gebeur, Sy Evangelie deur die hele wêreld verkondig sou word en dat diegene wat volhard tot die einde toe, gered sal word.
            Die nuus van die pad wat voorlê, was mistroostig, maar die toekoms van die volgelinge van Jesus rooskleurig, triomfantelik. Hy laat weet vir ons sy Wederkoms vind plaas in krag en glorie tesame met al sy Engele.
            Jesus het baie gebeure uitgestippel wat sy Koms vooraf sou gaan, maar bygevoeg dat die dag en die uur van sy Koms die weet net die Vader.
            Jesus bemoedig ons en waarsku om ten alle tye gereed te wees vir sy Koms. Miljoene wat reeds gesterf het, wis toe ook nie hul dag en tyd om te gaan nie. So weet ons wat in die lewe is ook nie ons dag en uur nie. Ons word egter bemoedig om deurentyd gereed te wees. Is ons?
            Ons is vandag getuies van een regering wat opstaan teen ‘n ander, van massa bewapening met veral kernwapens, van oorlog in 65 lande van die wêreld waar sowat 650 militêre, paramilitêre en groot getalle terroriste organisasies oorlog maak asook 22 lande waar Gelowiges weekliks brutaal vermoor word.
            Ons is getuies van rampe in die lug, op land en see, aardskuddings wat toeneem, vuurspuwende uitbarstings, droogtes, oorstromings, hongersnood.
            Gelowiges word onskuldig aan die regbanke oorgelewer. Probleme tussen ouers en kinders neem toe, selfs vyandigheid en moord.
            Altesame 29 miljoen mense is al gesteel, gekaap, ontvoer, meeste van hulle vroue, jongmeisies en meisietjies en aan die sekshole van die wêreld gesmous.
            Haat teen Gelowiges is aan die toeneem, ook teen die Jode, die Huis (Volk) van Juda). Gelowiges, en ook ander, vlug in hulle miljoene reg oor die wêreld heen na veiligheid.
            Die kerk en die Ekklesia skei. Die afval beloop miljoene mense. In Frankryk en Duitsland wil Moslems nou leë Roomse Katolieke en Protestante kerkgeboue betrek. In sommige gevalle het hulle reeds ingetrek.
            In Frankryk is daar 2 500 moskees met 300 in aanboud, maar hulle benodig 5 000 moskees vir die sowat 6 miljoen Moslems.
            In Duitsland staan 400 Roomse kerkgeboue toe asook 100 Protestantse kerkgeboue. Dit word verwag dat nog 700 Roomse kerkgeboue binne die volgende paar jaar gaan sluit.
            Daar is nou 40 mega-moskees in Duitsland, 160 gewone moskees en 2 600 Moslem gebedsale. Islam is besig om die dominerende geloof in Frankryk te word. Dit neem die hele Europa in.
            In Brittanje het 8 000 Metodiste kerkgeboue sedert 1960 al gesluit, tesame met 1 700 Anglikaanse kerkgeboue. Nog 4 000 kerke in Brittanje gaan hule deure in die volgende vyf jaar sluit.
            Daar is nou 1 700 Moskees in Brittanje, meeste daarvan was voorheen kerke en is in moskees omskep. Die tendens speel hom reg oor Europa af.  
            Jesus het daardie dag ondermeer gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Mark 13:30. Die geslag wat Hy na verwys het, is ons geslag, ons wat nou leef wanneer al hierdie onheile in volle swang is.
            Al Israel se vyande is al sowat vier weke lank in Sirië saamgetrek, onder meer 12 verskillende lugmagte. Dis glo om die Islamitiese Staat te verslaan, maar die Islamiete wen steeds veld in Sirië.
            Sommige vegtendes steun Pres Assad en ander wil hom onttroon.
            Die vermoede bestaan dat die betrokkenes dalk skielik hulself op Israel kan toespits wat tot die vervulling van Eseg.38 en 39 kan lei.
            Verlede week het die Konings van die Ooste, Sjina, Japan en Suid-Korea skielik hul trilaterale verhouding “volledig herstel”. Hulle gaan nou gereeld vergader. Sjina is ook in Sirië betrokke. Intussen het Sjina en Taiwan na 60 jaar vrede gemaak.
            Intussen word in die “Telegraph”gewaarsku dat ‘n klein insident in die Suid-Sjinese see tot oorlog tussen Amerika en Sjina kan lei. Die waarskuwing kom nadat ‘n Amerikaanse oorlogskip dit naby die Sjinese mensgemaakte eilande gewaag het. Dis provokasie, sê Sjina.
            So bou die haat dag en nag op tussen groot en klein moondhede. Van vrede is daar geen sprake nie.
            So kan enige van ons vandag reeds Huis toe gaan.
            Ons gebed vir hierdie dag en tyd moet wees: HERE help my dat ek nie geestelik aan die slaap val nie, dat ek wakker en wakend en gereeds sal wees!
             Daar is egter 'n Getal wat volgemaak moet word. Bring die siele in en bid ernstig vir 'n omvankryke Herlewing. – Sjibbolet