Maandag 02 November 2015

Bely jy Jesus voor die mense?



Matt 10:28-32: "Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor My Vader wat in die hemele is" (vs.32).
         'n Amerikaanse prokureur kom met groot opgewondenheid by sy huis aan. Toe hy sy vrou groet, sê hy vir haar: "Vroutjie, wees saam met my bly. Ek is vanaand by die diens wat ek bygewoon het, Wedergebore. Kom ons hou sommer nou ons eerste aandgodsdiens."
         "My man, ek is so bly saam met jou, maar in die sitkamer sit drie prokureurs vir jou en wag om 'n saak te bespreek. Ons kan saambid, maar ons sal dit nou eers sommer in die kombuis moet doen."
         Haar man reageer baie beslis. "My vrou, ek het Jesus nog nooit in my huis ingenooi nie, en ek sal hierdie eerste keer, Hom regtig nie kombuis toe vat nie." Hiermee stap hy sitkamer toe. Sy vrou trippel onseker saam. Toe hy in die sitkamer kom, groet hy sy kollegas met 'n wuif van die hand en sê: "My vriende, heel eerste wil ek graag vir julle sê, ek het vanaand die Here Jesus Christus as my Verlosser en Here aangeneem. Sal julle asseblief nou saam bid. Ek wil die Here dank dat Hy uiteindelik in my lewe en daarom ook in my huis ingekom het."
         Die drie manne buig hulle koppe en sluit die oë en die nuwe volgeling van die Here Jesus dank eers die Here vir sy eie redding en bid toe vir vriende om hom spoedig te volg.
         Die nuwe bekeerling wat Christus dadelik na sy sitkamer toe geneem het en Hom voor sy vriende bely het, het voortaan hierdie uitgesproke getuienis gehandhaaf. Ek haal die oorsproklike skrywer aan: "This new convert made a clear-cut confession of Christ as his Lord and lived to witness for Him. He became Chief Justice of the United States Supreme Court, John McLean."



Dis wat Jesus van ons verwag: Om Hom in die openbaar te bely... mondelings maar ook deur ons leefwyse. "Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor My Vader wat in die hemele is." God eer hierdie gesindheid ook, deur vir Sy nuwe kinders weë vorentoe oop te maak.
            Mense word nie gered om Hemel toe te gaan nie. As dit so was dan kon ons mos maar net na ons Wedergeboorte gesterf het.
            Ons is gered om Jesus Christus se werk wat Hy op aarde begin het, te voltooi. Nie die predikante nie… maar ek en jy.
            Herders kry nie lammers nie, skape kry lammers.
            Wanneer ons gered is sê Hebr 6:1 “Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap.”
            Na die Wedergeboorte stap ons in die krag van die Heilige Gees, doen ons Woordkennis op en begin ons die HERE se opdragte een na die ander uit te voer.
Ons het dit nodig want ons moet siele wen, bid en getuig.
            Die bekende prediker C.H.Spurgeon, het dit so gestel: Na 'n mens na Jesus gekom het, vorder geloof 'n bietjie verder en KLEM aan Christus vas. Geloof begin Christus aansien in Sy voortreflikheid en aanvaar Hom en neem Hom aan en beskou Hom as 'n ware Verlosser en is oortuig van Sy volkome vermoë om te red.
 Nou gaan geloof nog verder en dit LEUN op Christus.
Die laste van sorge, droefheid en kwelling word op Sy geseënde skouers gelê.
Geloof kan nou nederig, maar vasbeslote, alles wat Christus is en alles wat Hy bewerk het, toeëien... ons maak dit ons eie.
Onthou, by die Wedergeboorte het jy die Ewige Lewe ontvang. Jy is ‘n “nuwe skepsel” in Christus. Nou leef, doen en praat en dink jy anders as voorheen. Daardie nuwe mens moet geestelike gevoed word.
            “Deur Christus het julle… die Evangelie van julle verlossing gehoor en tot geloof gekom. In Christus het die Heilige Gees julle as die eiendom van God beseël.” Efes 1:13
"Laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.” Hebr 10:22
"… verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die Woord, dat julle daardeur kan opgroei…" 1 Pet 2:2