Maandag 09 November 2015

Die Evangelie van die Boggelrug


Image result for hunchback


In 1972 bid skrywer vir die eerste keer in sy lewe vir iemand met ‘n gebrek...  ‘n man met ‘n groot boggelrug. Dit was omtrent ‘n ondervinding om vir die eerste keer in jou lewe vir iemand te bid en dan boonop vir ‘n boggelrug.
            Hy was ‘n onverwagte besoeker wat hulp kom soek het.
            Waar sou mens die geloof vandaan haal om vir 'n boggelrug te bid? ‘n Klein opmerking van ‘n prediker het die moed verskaf... wanneer ons vir iemand bid, dan is dit in die eerste plek nie ons nie, maar Jesus self wat genees.
            By handoplegging word ons hande maar net die verlengstuk van Jesus se hande... want ons is geroep om Jesus se werke op aarde voort te sit.
            Die groot besef was, as ek vir iemand die hande oplê en bid, dan is die onus op Jesus wat die genesing betref want ekself kan niemand genees nie.
            Dit was ‘n vreemde gevoel, gewaarwording, belewenis... om jou hande op ‘n boggelrug te lê.
            Maar toe mens begin bid, verander die hele situasie. Jy bid en jy weet dat dit weet, God genees want Hy is ‘n Waarmaker van Sy woord.
            Daar is vir die arm gehawende werklose man gebid nadat hy Jesus Christus as Saligmaker aangeneem het.... wonderwerk nommer een.
            Voordat hy opgewonde gegroet en uitgestap het, boggelrug en al, is hy van geld, kos, klere en ‘n Bybel voorsien.
            Die volgende dag en weke en maande daarna het verby gegaan sonder taal of tyding van die onverwagte besoeker van anderdag.
            In die vierde maand stap nog ‘n onverwagte besoeker by my kantoor in. Die man had die mooiste glimlag, netjies aangetrek, skoon en geskeer, fier en regop.
            Ek stel myself voor en bied hom ‘n sitplek aan. Hy kyk my stil aan en vra toe: “Onthou meneer my dan nie?”
Ek vra om verskoning, want ek het hom nie geken of erken nie.
            Hy sê triomfantelik: “Kyk meneer, by boggelrug is weg, Jesus het my genees...  ek het net kom dankiesê.” Hy het intussen ook ‘n goeiewerk gekry.
            En ek kyk en soos ‘n ongelowige Thomas voel ek... dis inderdaad die verslonste man wat die boggel had. Ons het mekaar vasgegryp en die HERE geloof.
            Toe dink ek aan aan Sondag 5 September 1971, toe Pastoor  Ray Stedman van die Peninsula Bible Church in Palo Alto, Kalifornië, sy preek “The Way To Wholeness” wou toelig.
            Hy vertel: 'n Klein boggelrugseuntjie het saam met al sy maats 'n paar Bybelverse gememoriseer. By 'n aanddiens kry die kinders geleentheid om hul tekse voor te dra.
Die Boggelruggie wou soos die ander, ook op die verhogie voor die preekstoel klim, om sy tekse voor te dra. Hy struikel op die verhoog.
Een van die seuns in die gehoor sien dit en skreeu: “Hi kreupel, hoekom kry jy nie daai vrag van jou rug af nie”
Mens kon 'n speld hoor val, toe die seuntjie stop en in trane uitbars. 'n Man staan in die middel van die gehoor op en stap na die verhoog toe. Hy sit sy arms om die seun.
Hy sê: "Ek weet nie watter soort mens so iets sou sê nie, maar ék wil net sê, die dapperste persoon in hierdie saal vanaand, is hierdie seuntjie. Hy is my seun en ek is trots op hom."
Met daardie woorde buig hy af en tel die seuntjie op en dra hom na sy sitplek toe.
Pastoor Stedman sluit af met hierdie woorde: “Dit is presies wat God vir ons doen. Ten spyte van ons gekneusde boggelrug gebroke lewens, doen ons steeds ons bes, maar wanneer ons in die proses struikel en selfs val, sê die HERE Jesus: “Jy is myne, Ek is trots op jou en baie lief vir jou.”
            Die Here se Woord bevestig hierdie beskerming van die Here vir almal wat Hom wil dien. "Die Here my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar?" Jes 50:9.
"Daarom kan ons met vertroue sê: 'Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie; wat kan 'n mens aan my doen?” Hebr 13:6. Laat ons met ons gebreke en al die HERE dien en Sy werk doen.
            Sê soos Dawid: "Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied." Ps 28:7.
            Die HERE is ook gereed om alle soorte boggelrue, versperrings, siektes, kneusings, ens.,  te genees en mense vry te maak:
            “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” Jes 53:5 – Sjibbolet