Dinsdag 03 April 2018

Dis die Laaste Uur…




Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed voort na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit dalk vertoef, wag daarvoor, want alte seker sal dit kom en nie versuim nie. – Hab. 2:3



Die  Huis van Judah en Jerusalem is die Eindtyd barometer. Alles word in die stryd gewerp om soveel Joodse siele moontlik in te bring voordat Jesus kom.

            Die Amerikaanse Joodse Evangelis Sid Roth, het ‘n boek saamgestel met die getuienisse van tien vooraanstaande geredde Jode.

            In Amerika is reeds een miljoen Joodse huishoudings met die boek bereik.

Sid Roth, is besig met die tweede miljoen nadat hulle reeds meer as 600 000 Jode in Rusland bereik het. Hulle is ook druk besig in Israel. Dit word gratis by die huise afgelewer. Die HERE voorsien die astronomiese koste.

Oral oor die wêreld blaas die Jode die ramshorings met mening en meer gereeld.

 



Voordat die ramshorings geblaas word, bid hulle die volgende:

“Vanuit my smalle plek, vanuit my dieptes en beperkings, roep ek na U en U antwoord vanuit U uitgestrekte woonplek.”

Met “smalle plek”word bedoel, my plek van moeilikheid, pyn, frustrasie, verwyte, hartseer. Hulle weet die einde spoed nader, ook vir hul oorlogeteisterde land Israel.

Met die ramshoring roep hulle na God om weg te kom van hul aardsgebonde materialistiese werklikheid.

Hulle blaas vanuit hulle harte na die reinste heilige plek, die Hemel, vir ‘n stortvloed van seëninge.

            Talle Eindtydtekens is bekend wat op die tyd van die Wegraping dui, maar die Herlewing onder die Jode, is seker die grootste en belangrikste teken.

Die skille is besig om van die Jode se oë af te val en hulle neem in hulle honderde, selfs duisende, Jesus aan as Messias en Verlosser. Hier kom ‘n uitstorting van die Heilige Gees soos wat die wêreld nog nooit aanskou het nie. Jesus is op pad.

Roth sê die tyd loop uit, ons moet onverwyld doen wat ons kan om siele in te win.

            Roth verduidelik ons is in die tydvak wat die Bybel na verwys as “…die tye van die nasies vervul is.” Luk 21:24 en Rom 11:25

            En dan die belofte in Rom 11: 26-27 “… en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob (Israel) afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.”

            Dit beteken nie dat die tyd vir die ander volkere verstryk het nie, maar bloot dat die fokus nou op die Jode sal val. Tog dui dit aan dat ons skielik baie nader na die einde beweeg.

            In en om Jerusalem is daar reeds 281 Messiaanse gemeentes. Oor die res van die wêreld is daar meer as 450 gemeentes, selfs in Suid-Afrika.

            Die vervulde profetiese lyn loop soos volg:

·       Die Jode word weer ‘n volk. Jes 11:11-12 en dit het in die 20e eeu in vervulling gegaan en duur voort;

·       Die Staat Israel word gevestig. Jes 66:7-8 & Eseg 37:21-22. Gaan op 14 Mei 1948 in vervulling;

·       Die Jode neem weer Jerusalem in. Sag 8:4-8. Is op 7 Junie 1967 vervul;

·       Israel word weer ‘n land van melk en heuning. Eseg 36:34-35. Vervul in 20e eeu en duur voort;

·       Die Hebreeuse taal sal herleef. Sef 3:9. Vervul in 19e & 20e eeu;

·       Die nasies van die wêreld neem saam standpunt in teen Israel oor Jerusalem. Sag 12:1-31. Dit gaan huidiglik in vervulling in die VN en op die grense van Israel.

·       Die Arabiese nasies wil Israel vernietig. Sag 12:6. Dit is tans aan die gang met die opbou van ‘n geallieerde mag bestaande uit weermagte van 57 Arabiese lande.

·       Israel sal sekureiteit en voorspoed geniet. Eseg 38:11;

·       ‘n Russiese geallieerde mag bestaande meesal uit Arabiese state gaan Israel binneval. Eseg 38:1-17; Hierdie aanslag sal bonatuurlik deur God self verslaan word. Eseg 38:18-23 & 39:1-8… Na verwagting sal dit plaasvind sodra die vredesverdrag wat dalk binnekort tussen Israel en die Palestyne onderteken word, in duie stort. Dan word Jesus verwag.


In1973 moes skrywer Nuwe Testamente Israel binne smokkel aan Jode en Joodse soldate tydens die Yom Kippoer Oorlog. Daar was ook die ernstige waarskuwing dat as mens betrap sou word, jy dadelik gedeporteer sou word.

Vandag word die Evangelie deur Jode in Israel verkondig. Sid Roth had bv. ‘n diens in Jerusalem wat deur 550 Jode bygewoon was. Altesame 525 Jode is in daardie diens Wedergebore.

Feit is dat daar min tyd oor is vir mense om gered te word, veral nou dat die soeklig te meer op die Jode val.

https://www.youtube.com/watch?v=dUqm_N8muT0&list=RDp5jX2G1hHtY&index=3

Luister hoe tien duisende Arabiere, die half-broer van die Jood, die HERE loof:

https://www.youtube.com/watch?v=0Aa1tmkTG8k&list=RDp5jX2G1hHtY&index=14