Saterdag 21 April 2018

Ons moet Gee om te kan Ontvang


‘n Reisiger is op ‘n tog deur die woestyn. Hy had ‘n paar waterbottels by hom. Die water raak op en hy besef hy gaan sterf. Dan sien hy ‘n ou waterpomp. Hy strompel daarheen en begin pomp, maar dis staal op staal en niks gebeur nie.

 
            Toe sien hy ‘n ou bakpoeier blikkie onder aan die pomp hang. Hy maak dit oop en binne is ‘n kennisgewing met potlood op ‘n stuk bruin papier geskryf.

Dit lees: “Hier is meer as genoeg water onder die grond. Glo net en volg die aanwysings en jy sal water in oorvloed hê. Langs die pomp onder die wit klip is ‘n houer met water in die sand. Moet dit nie drink nie.

Die pomp se wasser is uitgedroog in die woestynson. Gooi die water in die pomp af sodat die leer wasser kan uitswel en die suigkrag kan inskop en begin dan pomp.

            Wanneer jy klaar is, maak die bottel weer vol en bêre dit weer onder die sand vir die volgende reisiger.

Waarskuwing: Jy sal in versoeking wees om die bottel onder die sand uit te drink. Moenie.  Jy sal nie ver kom nie dan sterf jy in elk geval van die dors. Volg die aanwysings, maak al jou waterhouers vol en drink soveel jy wil. Daar is genoeg water om sommer jouself te was ook.

Bêre weer die bottel vol water onder die sand. So sal jy genoeg water hê en so ook die volgende reisiger wat verby kom.

Onderteken deur Desert Pete.”

            Dit is hoe die lewe werk. Daar is genoeg vir jou solank jy aan die volgende persoon ook dink. Eers moet jy gee, dan sal jy ontvang. As jy lewende water van Jesus ontvang het, sorg dat die volgende ongelowige ook van daardie water kry.

            Dink nou mooi, wat sou jy of ek gedoen het as ons by die pomp sou kom. Weet jy wat ‘n dodelike dors is. Skrywer het in die Kalahari so dors geword dat ek ysblokkies uit die lug sien val het. Wanneer ek dit wou vang was daar niks. Ek het kort daarna op water afgekom en gedrink asof ek nooit genoeg sou kon kry nie.

            Sou ek in daardie toestand, ooit die briefie klaar kon lees? Van die water in die bottel onder sand mog mens nie drink nie, anders sou dit te min wees om die pomp te laat werk.

            Jy moet geloof hê en glo.  Jy moet ten eerste die pomp voorberei om te kan pomp. Die wasser moet ten alle koste kans kry om uit te swel anders is daar geen suigkrag nie.

            Die water wat jy onder die sand uitgehaal het, durf jy nie drink nie. Jy moet eers van jouself gee, dan is jy waardig om te kan ontvang.

            As jy die water wel gedrink het, sou diegene wat na jou kom, gladnie water kon kry nie... maar jyself sou ook die uiterste prys moes betaal het.

            Al vra dit wat van ons, asseblief, dink ook aan ander. Jyself is gered en op pad na die Nuwe Jerusalem, maar jy durf nie alleen daar aankom nie. Wat van jou huisgesin, vriende, die boemelaar, die tronkvoël.

            ‘n Man wat tot lewenslank sonder die opsie van parool gevonnis is, het getuig: “Ek moes in die tronk beland om Jesus te vind. Tot my dood toe moet ek hier sit, maar ek is vryer as wat ek ooit in my lewe was.”

            Hoe vorder jy op die Geloofspad vandag? Leef jy net vir jouself, of sien jy die groter prentjie, die oesveld, en pak jy die woestynpad om by siele uit te kom?

            Beleef jy die verfrissende water in die woestyn?  Jakob se dienskneg het vir Ragel by ‘n put ontdek. Jesus het die vrou by die put ontmoet.

            Lees die Woord. Dit is vol aanwysings van diegene wat voor ons die pad geloop het. Jesus het hulle almal water gegee wat soos fonteine by hulle ontspring het. Gaan drink van daardie lewegewende water.

            Hulle wat voor ons by die lewende water was, het net soos ons ook daaglikse probleme beleef... maar hulle het vir ons aanwysings nagelaat. Bestudeer die Woord. Dis noodsaaklik om dit te ken en te beleef.

            Mens moet gee voordat jy kan ontvang. Hulle wat voor ons was, het groot klem om hierdie lewensfeit gelê.

            Jesus sê in Joh 14:19 “... omdat Ek leef sal julle ook leef.”

            Die Kingston Trio het die verhaal in ‘n lied verewig:
  https://www.youtube.com/watch?v=08kEFELCb3I