“Maar weet dit dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom – 2 Tim. 3:1, skryf Paulus aan Timotheus, en noem dan in die daarop volgende strofes verskeie voorbeelde van hoe die swaar tye daar sal uitsien.
Hierdie swaar tye gaan gepaard met spanning wat in ons tyd in meeste gevalle aan uiterstes grens. Die 680 000 arm-blankes in kampe in die Transvaal is tekenend hiervan.
Daar is oorlog in 67 lande van die wêreld. Oral sterf onskuldige mense.
Hierdie spanning vernietig gesinne, huwelike, gemeenskappe, en dwing van die grootste maatskappye in die wêreld om spesiale maatreëls te tref om hul werknemers te beskerm en daarvoor te laat behandel. In sommige gevalle lei dit tot gesinsmoorde.
Die steeds toenemende spanning van uiterstes raak meer mense se lewens as pandemies. Hospitale en mediese spreekkamers loop oor van mense wat aan spanning verwante siektes ly.
In sommige opsigte reeds, is strofe 12 ook besig om in vervulling te gaan: En almal wat ook Godvrugtig wil lewe, sal vervolg word! Christene word tans in 50 lande van die wêreld wreed vervolg.
Vervolging in watter vorm ook al, bring sy eie soort spanning en meesal ook erge spanning. Spertye bring spanning. Perfeksionisme bring spanning. Om iemand geestelik te dra bring spanning. Ondraaglike werksituasies bring spanning. Droogte bring spanning.
Skuld bring spanning, so ook onvergewensgesindheid, leuens, bedrog, dit alles veroorsaak ‘n binding in ‘n mens se gees. Jou lewensbestaan is abnormaal.
In 2 Kor. 11:27-28 praat Paulus oor spanning wat hy persoonlik beleef het en verwys hy onder meer na slapelose nagte en daaglikse bekommernis.
Ons het almal al dae van druk en uitsonderlike hoë druk beleef, maar Paulus gaan voort en vertel dat hy vasgestaan het en GOD hom daarvan verlos het... 2 Tim. 3:11 lees: “Watter vervolginge het ek nie al almal verdra nie! En die HERE het my uit almal verlos!”
As Paulus kon vasgestaan het, dan kan ons ook. Maar dit sal dieselfde onwankelbare geloof van ons vereis as wat ons by Paulus sien – aldus 2 Tim. 4:7: “Ek het die Goeie stryd gestry...”
Deurbrake kom nie altyd maklik nie, maar wanneer mens aanhou vertrou, aanhou met klop, dan kom die deurbraak die een of ander tyd wel.
Dit bring ook (onnodige) spanning wanneer ons meen dat ons nie genoeg het nie. Ons vrees tekorte.
Ons gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis en dit omdat ons nie moeite maak om ons Bybels te bestudeer nie. Gaan met ‘n notaboek en pen kerk toe en maak aantekeninge. Word ‘n Skrifstudent.
As ons wel die kennis opdoen, dan is die volgende aan uit Ps 37:18-19, 25 baie betekenisvol:
“Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly. Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in die dae van hongersnood sal hulle versadig word. Ek was jonk, ook het ek oud geword (let op), maar nooit het ek die regverdige verlate gesien nie, of dat sy nageslag brood soek nie.”
Koning Dawid sou nie die bogenoemde geskrywe het, as hy nie self getuie daarvan was nie.
GOD sal ons nie verlaat nie. Hy sal Hom ook nie aan ons onttrek nie. Sy Liefde, Genade en Guns, skenk Hy aan ons.
Een keer was Dawid onseker oor sy verhouding met GOD en toe vra hy in Psalm 8:5 “Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”
Dis ‘n vraag wat ons ook kan vra: “Wie is ons (ek en jy) as nietige mens, as gras van die veld, dat die Almagtige GOD aan ons sou dink?
1 Petrus 5:7 lees: “Werp al julle bekommernisse op Hom (hoekom?) want Hy sorg vir julle!”
Asook Ps 55:23: “Werp jou sorg op die HERE en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”
En dan is daar Ps 9:10: “So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.”
En strofe 11: “En hulle wat U Naam ken, sal op U vertrou, omdat U diegene wat U soek, nie verlaat nie, o’ HERE!”
GOD behoed en bewaar ons. Hy dra ons, wat die omstandighede ook al mag wees. Al wat dit vra is dat ons dit sal erken, bely en glo en Hom daarvoor eer – in Gees en in Waarheid aanbid, Sy Naam grootmaak! Bid jy in Gees en in Waarheid?
Dan maak dit nie saak hoe hoog die prys van wat ook al word nie, GOD sal die inkomste voorsien. Hy sal ons nooit verlaat nie.
Lees asseblief al 17 strofes van die hele 2 Tim 3. Die onheil is ook rondom ons, maar GOD belowe: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid (hoekom?), sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Wat sê onse GOD vandag aan ons? Eenvoudig: Moet julle nie bekommer nie. Ek die HERE GOD is in beheer! – Sjibbolet