Woensdag 12 Oktober 2016

Trek die Volle Wapenrusting aan...


Image result for wapenrusting van god


“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.” 1 Joh 4:1
            In hierdie tyd waarin ons leef, is dit ‘n dringende noodsaaklikheid om oor die gawe van onderskeiding te beskik. Nie alle geestelike aktiwiteite kom vanaf die Heilige Gees nie. Soms is dit moeilik om die oorsprong te bepaal, maar nie wanneer jy die gawe van onderskeiding het nie.
Gelowiges en hulle kinders beleef ‘n totale aanslag.                    
Soos wat enige gawe ontwikkel, ontwikkel die gawe van onderskeiding ook in diepte van waarneming, kennis en openbaring. Soos wat die boosheid op die aarde toeneem, is dit nodig om hoër vlakke van onderskeiding te reik.
Daar is verskillende gawes: “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
“Want aan die een word deur die Gees...
·       'n woord van wysheid gegee,
·       en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
·       aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees,
·       en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
·       aan 'n ander werkinge van kragte,
·       aan 'n ander profesie,
·       aan 'n ander onderskeiding van die geeste,
·       aan 'n ander allerhande tale,
·       aan 'n ander uitleg van tale.” 1 Kor 12:7-10

Watter van hierdie gawes het jy of strewe jy na?
Op aarde beleef ons ‘n fisiese wêreld, maar ook ‘n geesteswêreld. Ons ken die fisiese wêreld, maar meeste van ons is onbekend met die geestelike.
“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
(Let op) “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Efes 6:10-12
Dit kan mens alleen op geestelike vlak aandurf. Later kan jy sien in die geesteswêreld, neem jy persepsies waar in die Heilige Gees, beide goed asook onheil afkomstig van demoniese engele. Mens verkry in die groei- en ontwikkelingsproses totale insig in die bonatuurlike geesteswêreld.
Jy lê nie iemand haastig die ander op nie sodat jy rein kan by bly en nie straks gemeenskap het met die sondes van die sieke nie. 1 Tim 5:22
Jy beweeg en leef in die Gees. “Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; (hoekom?) want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.”
Net om seker te maak ons het reg gehoor, herhaal Johannes: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
Die gawe van onderskeiding van geeste is die Godgegewe vermoë om die geeste wat sit agter verskillende manifestasies of aktiwiteite, te kan identifiseer. So kan mens ook die persoon of toestand identifiseer.
‘n Man vertel in ‘n diens hy ly aan geweldige rugprobleme gepaard met erge pyn. Hy vertel vier mense het al vir hom gebid. Elke keer was alles binne ‘n oomblik normaal en geen pyn nie en binne 24 uur later was alles van vooraf net soos dit was.
Die gawe van onderskeiding wys die fout lê by sy vrou, sy is die medium waardeur die bose gees werk. Sy was onbewus hiervan. Die vrou vertel hoe haar ma altyd die toordokter op die buurplaas laat kom het wanneer daar siekte in die huis was. Die toordokter het hulle dan gesond gemaak.
Daardie gees van die toordokter is uit die vrou gedryf en onmiddellik was haar man vir altyd volkome genees.
Wyle oom Moses van Rooyen van Kakamas het gereeld kom kyk hoe dit met weduwee Hester Brand en haar kinders gaan. Hulle het weerskante van die watervoor gewoon. Een oggend vra Hester vir oom Moses of dit sy baadjie is wat agter haar kombuisdeur hang. Hy het nee gesê.
In daardie stadium is goed oral in huis deur ‘n onsigbare hand rondgeskuif en verplaas, genoeg om enige mens met doodsvrees te vul.
Oom Moses had die gawe van onderskeiding van geeste. Hy het die eienaar van die baadjie binne minute uitgewys en die saak opgelos.
Daar is hope sulke gevalle om aan te haal.
Vir mense wat nie die gawe het, mag dinge obskuur klink, maar vir die een wat die gawe het, is dit ‘n normale lewensgang soos enige van sy ander talente.
Met die gawe van onderskeiding kan mens ‘n diens hou en jy sal skielik weet van mense en hul probleme en dadelik werk daarvan maak.
Hoe lank is jy al ‘n Gelowige? “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat 'n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.
“Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy 'n kind is.
“Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat (let op) geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” Hebr 5:12-14
Iemand met die gees van onderskeie begin ook later Engele sien beleef. Kyk maar wat gebeur het in Luk 22:43; Joh 20:11-13; Hand 27:23-24
Paulus onderskei ‘n gees van geloof in ‘n verlamde man. Hand 14:8-10. Paulus het dit nie met elke verlamde gedoen nie, maar in hierdie geval kon hy die gees van geloof onderskei.
Soms, nie altyd nie, is liggaamlike gebreke vanweë bose geeste. Iemand met die onderskeiding van geeste sal dit weet. Jesus het tydens Sy bediening dit hoevele kere beleef. Luk 13:11-13
Iemand moet nooit probeer voorgee of selfs lieg vir iemand wat die gawe van onderskeiding het nie.
‘n Man vra vir gebed vir sy verbrokkelde huwelik, maar die gees van onderskeiding wys hom op die botteltjie muti (toorgoed) wat hy in sy sak het. Toe vir hom gesê word die HERE weet van die muti, toe sê hy maar as die gebed nie sou help nie dan wou hy die muti gebruik. Helaas, God laat Hom nie afdreig of bespot nie.
‘n Hoteleienaar reis byna 1 000km om vir sy rug te laat bid. Ons besoek hom nikswetend. Hy vertel sy storie. Verwese staan hy daar. Die gees van onderskeiding sê vir hom: “Jesus wil jou genees, maar Hy kan nie. Jy verkoop drank onwettig en jy sit gereeld onwaardig by die nagmaaltafel aan. Toe loop sy trane onbedaarlik.
Die gawe van onderskeiding het niks met suspisie te doen nie. Dit wat jy beleef, is nie vir goedkoop praatjies nie. Die Heilige Gees gee jou die gawe om te bou en te genees. Wanneer jy ingryp in ‘n situasie, vra die HERE om wysheid en bly nederig.
Saam met Petrus sê ons vir jou ook: “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here!” 2 Pet 1:2 – Sjibbolet