Woensdag 19 Oktober 2016

Hindernisse is Leerskole


Image result for God praat met ons


God praat op velerlei wyses met ons, ook deur drome en gesigte, aldus Hand. 2:17. As jy ‘n droom van God ontvang het dan moet jy en jou droom, net soos in Josef se geval, onafskeidbaar van mekaar word (Gen. 37:19). Josef het hom so in sy drome ingeleef dat sy broers hom die “Dromer” genoem het.
            Jou hindernisse is nie jou uiteindelike eindpunt nie. Josef het ook in ‘n paar hindernisse verstrik geraak, soos die put in die wildernis, Potifar se huis en in Farao se tronk – elke hindernis was eintlik ‘n tree verder op sy roete na die paleis toe.
            Die hindernisse is bloot leerskole. God het hom geseën te midde van hierdie moeilike omstandighede. Dalk is jy nog vasgeval by ‘n hindernis op die roete na jou paleis toe! Moenie by die hindernisse vashaak nie. Behou jou visie en jou momentum om op die regte tyd verder te beweeg.
Moenie dat iemand of omstandighede jou van stryk af laat bring nie.  Josef het hom nie deur Potifar se vrou van stryk laat bring nie. Dit het hom tydelik sy vryheid gekos en hy het 'n paar jaar swaargekry, maar hy het deurgedruk en uiteindelik 'n heerser in Egipte geword.
Die tronk van hindernisse is 'n plek waar jy gevorm word.  Daar was verskeie eksterne invloede op Josef, maar hy het aan die droom vasgehou en toegelaat dat die Gees van God hom van binne verander.
            As jy jou oë op die einddoel hou, sal jy weldra aanskuif na die volgende leerskool om uiteindelik paleis toe te gaan. Josef het nie sy tronkstraf aanvaar nie.  Hy lê die skinker se droom uit, en vra dadelik vir hom om hom te help om uit te kom.
Ons is geneig om ‘n hindernis-mentaliteit te ontwikkel. Ons begin kla teenoor almal van die probleem wat ons het. Dit maak ons negatief en veroorsaak ‘n binding in ons gees.
Vertrou op die Almag van God. Niemand kan van Graad 1 af na Graad 12 toe spring nie. Mens moet eers die een eksamen na die ander slaag. Sien ‘n hindernis as eksamentyd.
Raak ontslae van jou tronk-mentaliteit, van gedagtes en gewoontes wat jou bind. Is die verlede altyd vir jou beter as die hede? Is daar swak verhoudings in jou lewe? Emosionele seer?  God wil iets daaraan doen. Wat doen jy daaraan?
Onthou, daar is meer glas in die voorruit as in die truspieëltjie!
            Indien jy ander help met hulle drome, sal God jou help met joune. Josef het die bakker en die skinker se drome uitgelê. Daarna het hy vir Farao ook drome uitgelê en van goeie raad bedien. Hy het ingeskakel by Farao se droom en God het in hierdie inskakeling Josef se eie droom bewaarheid.
            Jy kan vinniger vorder as jou perspektiewe reg is. Binne ‘n kort tydsbestek kan jy van die tronk na die paleis beweeg (Gen. 41:14). Josef se bevryding het snel geskied. Wanneer jy gereed is, kan jy 'n spoedige verandering in jou lewe verwag – 'n verborgenheid wat ons nie verstaan nie:  Ons leer om te wag op die Here, en dit neem soms lank, maar wanneer Hy begin beweeg, kan ons haas byhou!
            God posisioneer jou dalk ook vir toegang tot invloedryke mense in sleutelposisies wat rykdom en bronne tot jou beskikking kan stel, of dalk groot blydskap, dalk ‘n nuwe lewe.
            Die Here sê klop, en vir jou sal (beslis) oopgemaak word. Oor die klop sê die Here, alhoewel die man nie vir sy vriend wou oopmaak en aan hom brode gee nie, het hy nogtans later opgestaan en dit gedoen weens die man se aanhoudende irriterende geklop.
            As hy moedeloos geraak het en ophou klop het, dan het niks gebeur het nie. Hou aan, God is en bly ‘n Waarmaker van sy Woord.
            Mens het al my iemand aangeklop, gemeen hulle is straks uit en dan het jy geloop. Het jy maar aanhou klop, want hulle was agter in die tuin en kon jou nie hoor nie.
            Die HERE belowe, kyk: “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” Luk 11:10. Nie miskien nie, maar sal oopgemaak word. Hierdie proses kan een uur duur, of een dag, maar ook etlike jare. Hou net aan.
            Ons het die belofte van die Wederkoms. Moenie opgee nie. Bly leef in volle verwagting want so seker as jy hier lees, so seker gaan dit wel gebeur. – Sjibbolet