Woensdag 26 Oktober 2016

Het jy ook ‘n Doring in die vlees…



In 2 Kor 12:1-10 sê Paulus dat hy ‘n “doring in die vlees” het.
            Die doel van hierdie boodskap is om aan te toon dat Paulus se “doring in die vlees” nie ‘n siekte was nie.
            As ons met die verskoning kon wegkom dat siekte ‘n doring in vlees is en dus die Vader se Wil is, dan beteken dit noodwendig dat ons almal kort voor lank siek sal wees en dat diegene wat reeds siektes en liggaamlike gebrek het, nie genees kan word nie.
            As die “doring in die vlees” ‘n siekte was, dan sal daar gedurigdeur by alle gelowiges twyfel bestaan het oor waarom hulle siek is en of hulle genees kan word.
            En weet jy wat, as Paulus se doring in die vlees wel ‘n siekte was, dan verhinder dit in elk geval nie dat ons genees kan word nie. Paulus het dan self vir die siekes hande opgelê en hulle het genees.
            Ons lees egter nêrens in Die Bybel dat Jesus Christus of enige van sy dissipels, ‘n sieke of gebreklike weggewys het nie. Daar is ook nooit vir iemand gesê dat hulle nie kan genees nie omdat hulle siekte kwansuis ‘n doring in die vlees sou wees nie.
            Christus het almal genees wat na Hom toe gekom het.
            Boonop het Christus, in Sy Testament wat hy aan ons nagelaat het, skriftelik bevestig dat Hy ons sal genees.
            Kom met ‘n opregte hart na die Vader en jy sal beslis genesing ontvang.
            Let vir eers op: Paulus het nie gesê dat hy ‘n doring in ”sy” vlees het nie. Hy het gesê: ek het ‘n doring in “die” vlees.
            Maar, waarom het die Vader besluit dat Paulus van tyd tot tyd geteister sou word deur ‘n doring in die vlees?
            Onthou, hy was ‘n bevoorregte kind van God, seker meer bevoorreg as die meeste, want:

·        Hy was weggeruk in die Paradys
·        Hy het dinge gehoor wat ‘n mens nie mag uitspreek nie
·        Die Vader het die gawe van die Heilige Gees aan hom toevertrou
·        Hy was die geleerdste man van sy dag
·        Hy het 14 sendbriewe geskrywe
·        Hy het meer in tale gepraat as enigiemand anders
·        Ons kan hom as ‘n soort “super” Christen beskryf
·        Hy het die siekes op verskillende maniere genees
·        Hy was die man met al die antwoorde
·        Hy was bo verdienste deur God begenadig
·        Hy het ‘n besondere maat van wysheid en kennis in die Godsaak openbaar
·        Hy het dinge in die geestelike beleef wat niemand anders beleef het nie
·        Hy het homself op elke moontlike terrein van ander mense onderskei.

Kom ons vra nou onsself af: as ons met al hierdie wonderlike dinge toevertrou was, as ons alles gedoen en beleef het wat hy deurgemaak het, selfs ‘n groot deel van Die Bybel geskryf het, sou God nie dalk vir ons ook '‘ doring in die vlees moes gegee het om ons nederig te hou nie – sodat ons, net soos Paulus, ons ook nie van tyd tot tyd sou verhef nie?
Met ander woorde, Paulus had nie ‘n doring in die vlees vanweë die negatiewe nie, maar juis vanweë die positiewe.
Maar, Paulus het beslis ‘n doring in die vlees gehad, daarvan kom ons nie weg nie.
Wat was die “doring” dan waarna Paulus verwys het?
Paulus antwoord self die vraag, tesame met die rede vir die doring. In die 7e strofe sê hy:
“En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee (en wat was die during?) – ‘n engel van die Satan.”
Wat het hierdie engel van die Satan aan Paulus gedoen?
Paulus sê: om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.
Goed, nou weet ons dat hierdie engel Paulus soms met die vuis moes slaan. Dit was vir hom ‘n doring in die vlees.
Hy het egter goed geweet waarom hy van tyd tot tyd deur die betrokke engel met die vuis bygedam is – sodat hy hom nie sou verhef nie, en nederig sou bly.
Nog iets. Die woorde “met die vuis geslaan” is nie ‘n heeltemal korrekte vertaling van die Engelse woord “buffet” nie. “Buffet” beteken eintlik stormram, soos wanneer twee ramme mekaar bestorm.
Ons lees egter nêrens dat Paulus  deur siekte gestormram of ge-“buffett” is nie.
As Die Bybel dit dan nie so stel nie, waarom sou mense voortgaan om te sê dat dit ‘n siekte was?
Kom ons bekyk die doring-kwessie van nader.
In Num 33:55 lees ons: “Maar as julle die bewoners van die land, nie voor julle oë uitdrywe nie, sal die van hulle wat julle laat oorbly, “soos dorings in julle oë wees, en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waarin julle woon.”
Weer sien ons dat dorings en in hierdie geval ook “angels” beslis nie ‘n siekte is nie.
In hierdie geval was die dorings en die angels niks anders nie as die Kanaäniete wat die Israeliete in hul eie land sou stormram, sou beveg.
Met ander woord, die dorings en die angels was mense. En Paulus praat ook  van ‘n persoon wat hom telkens die skade aanrig.
Let op: Paulus sê: hieroor het ek die Vader drie maal gebid dat hy  (die persoon) van my sou wyk.
In Paulus se geval moes die gevaar bestaan het dat Paulus homself sou kon verhef, daarom dat die Vader  telkens, net wanneer dit sou gebeur, Paulus eers weer terug aarde toe gebring het.
Die Vader antwoord Paulus dan toe ook: My genade is vir jou genoeg.
Met ander woorde, solank Paulus hom nie verhef het nie, was daar geen gevaar dat hy gestormram sou word nie.
Weet jy hoe groot is God se Genade? Dit is soos die vissie wat in die magtige Oranjerivier geswem het en vir die Oranje gesê het: vandag drink ek jou leeg. En die Oranje het geantwoord en gesê: drink maar, my water is vir jou genoeg.
Paulus het inderdaad die gawe van genesing gehad want:

·        Hy preek en merk – met normale gesonde oë – dat die verlamde in die stoel geloof openbaar
·        Hy kon net na siekes kyk, dan het hulle genees
·        Siekes kon sy sakdoek op hulle lê dan het hulle genees

Waarom sou daar steeds gelowiges wees wat aanhou om dinge te beweer wat nie in Die Bybel staan nie?
As almal net bietjie moeite wil doen om hul Bybels deeglik te bestudeer, dan sal persepsies nooit bestaan nie.
Die Bybel sê hoegenaamd nie dat Paulus ‘n siekte gehad het nie, waarom sou ander dit dan sê.
Ons kan onsself nog ‘n interessante vraag afvra:
Veronderstel weer ‘n keer dat Paulus se doring in die vlees wel ‘n siekte was, hoe sou dit ooit moontlik vir hom gewees het om soveel reise te kon onderneem en in so ‘n besondere groot mate die werk van God kon gedoen het?
As dit ‘n siekte was, dan het Paulus  werklikwaar met siekte en al meer vir die Godsaak gedoen as enigeen van ons.
As dit ‘n siekte was, waarom verheerlik jy dan nie ook die Vader met siekte en al nie?
Waarom probeer jy om jou siekte te genees, selfs dokters en spesialiste te gaan spreek? Waarom aanvaar jy dan nie jou siekte nie?
Waarom kla jy gedurig oor jou siekte? Paulus het nooit oor ‘n siekte wat hy sou hê gekla nie.
Dit bring ons by Gal 4:13 … “Maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees, die eerste keer die Evangelie aan julle verkondig het … en julle het my beproewing in die vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as ‘n Engel van God, as Christus Jesus … Wat was dan julle saligprysing? Want ek getuig van julle dat as dit moontlik was, julle jul oë uitgegrawe en vir my sou gegee het.”
Nou is daar diegene wat beweer dat Paulus ‘n oogsiekte gehad het. Wanneer ons egter die Skrif ondersoek, dan kom ons weer ‘n keer by die regte antwoorde uit.
‘n Logiese vraag is egter, as God vir Paulus, toe hy nog Saulus was, met blindheid geslaan het en hom daarna weer genees het, waarom sou die Vader hom ‘n oogsiekte laat oorhou het?
Maar, uit die Grieks vertaal is die woord “astheneia” nie krankheid nie, maar swakheid, van die vlees.
Die direkte vertaling uit Grieks na Engels lui … “and ye know that on account of weakness of the flesh, I preached …”
In die volgende strofe lees die Afrikaans: “Julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie.”
In Engels lees dit: “And my temptation, which was in my flesh.”
Die direkte Grieks lees egter: “and the trial of you in the flesh of me…”
Die Nederlandse vertaling is ook korrek: “En gij weet, dat ik door zwakheid des vleesches het Evangelie eerstmaal verkondigd heb; en mijne verzoeking, die in mijn vleesch geschiedde, hebt gij niet veracht nocg verfoeid.”
Die sterkste wat ons hieruit kan haal, is dat Paulus aan die begin die eerste keer aan die Galasiërs die Evangelie gebring het, ‘n

·        swakheid in die vlees gehad het
·        dat die swakheid ‘n versoeking was, en
·        dat die swakheid dalk iets met sy oë te doen gehad het.

Die enigste logiese afleiding hiervan, is dat Paulus dalk deur sy oë in die versoeking gekom het. Dalk was hy té krities gesien in die lig van die Jodedom destyds en sy vermoeiende taak om hulle vanuit die Jodedom na die Christendom te bekeer.
Dit is tog so dat mens met jou oë, ook met jou tong, in die vlees en ook in die Gees kan lewe.
Baie van ons leef nog met ons oë in die vlees. Ons sien gedurig die negatiewe raak en pik gereeld daarop en kritiseer meesal tot nadeel van onsself, die Christendom en die uitbreiding van God se Koninkryk.
  “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;  en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12”12-15 – Sjibbolet