Vrydag 07 Oktober 2016

Die Tong van die Wyse is genesing


Image result for person talking


“Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing.” Spr 12:18
            Thomas lig sy kop van die kussing af op. Hy is seker hy het 'n gesnik gehoor. En nou hoor hy dit duideliker. Iemand kreun. Hy beter gaan kyk. In die skemerte van die kamer loop hy versigtig deur toe. Die vertrek waar hy nou instap, lyk vreemd. Hy word bang.
Dié kamer is ligter en hy sien drie figure op die vloer lê: 'n seun van so ses jaar oud, 'n dogter van seker tien, en 'n vrou. Om hulle is plasse bloed. Daar is nog iemand in die kamer.
Dié een praat skielik, met 'n harde, onverbiddelike stem met Thomas: "Sien jy nou hoeveel leed jy veroorsaak het?" "Ek?" roep Thomas verbaas uit. "Dis nie ek nie! Ek sal nie so iets doen nie!"
"Ken jy hierdie mense?" vra die vreemdeling en wys met sy hand na die figure op die vloer. Thomas kyk en trek sy asem hard in. Dis sy ma en boetie Hansie en sussie Edna."
“Kyk na die wond aan haar skouer," beveel die man. Thomas sien dit is 'n lelike sny in Edna se skouer. Dit kon die spiere in die skouer dalk beseer het. "Mm...maar..." stotter Thomas. Dan word hy kwaad. "Wie het dit gedoen?"
"Kyk na die seun se gesig," beveel die man. Thomas sien 'n yslike, bloeiende sny al langs Hansie se wang af.
"Kyk na jou ma," beveel die stem weer. "Daardie steek onderkant jou ma se linkerarm het amper haar hart getref." "Ons moet hulp kry! Van wanneer af lê hulle al hier?" roep Thomas uit.
"Van vanmiddag af toe jy hulle daar in die tuin so aangerand het," sê die man onverbiddelik.
"Ek het dit nie gedoen nie!" skreeu Thomas nou. "Ek het nie eers 'n mes nie en ek sal mos nie so iets doen nie."
"O, ja. Jy het 'n gevaarlike dolk. Ek was by toe julle vanmiddag in die tuin die blombeddinkies geskoffel het. Onthou jy nie? Edna wou jou met die emmer water help, en jy het haar toegesnou: 'Gee pad hier! Ek het nie 'n ou meisiekind soos jy se hulp nodig nie!'
Met daardie dolksteek het jy haar arm so 'n wond gegee, dat sy jou nie gou weer sal kan of wil help nie. En onthou jy toe Hansie....."
"Hou op!," skreeu Thomas. "Wie is jy?" "My naam is Gewete," sê die stem.
"Ek onthou," kreun Thomas, "maar ek het tog net met hom geraas. Hy het my so gepla. Ek het nie eers aan hom geraak nie. Ek kon hom tog nie so gesteek het nie. Ek het nie 'n mes nie!"
"Jy het 'n gevaarlike dolk. Jou tong. 'Praat sonder om te dink kan soos gevaarlike dolksteke wees (Spr 12:18).'
En: 'Sy tong ...sy woorde... is swaarde wat reg is om te steek...' (Ps 55:21)." Gewete gaan meedoënloos voort: "Toe jy vir jou ma gesê het...." "Asseblief, asseblief, moet dit nie sê nie!" huil Thomas nou.
Voordat Gewete kan antwoord, voel hy iemand trek hom aan sy arm. Hy rek sy oë oop en kyk vas in sy ma se vriendelike, liefdevolle gesig.
"Toe, toe, opstaan ou seun, dis tyd...." Thomas vryf sy oë. Hy het gedroom. Ag, hy het net gedroom! Hy gooi sy arms om sy ma se nek en gaan hartlik aan die huil. "Ekskuus, Mamma. Ekskuus, Mamma...." en hy snik sy droom teen haar nek uit.
            "Begryp julle nie...? Wat by die mond uitkom, kom uit die hart..." Valse getuienis (leuens), kwaadpratery (vloek, slegsê, verwyt, afjak, skinder en so meer). As ons hart reeds aan die Here behoort, moet die Heilige Gees dit beheer.
Die beheer wat die HERE op ons hart kry en handhaaf beskryf Paulus so: "Dit het Hy gedoen deur die Wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser" (Titus 3:5,6).
            Dit kom gereeld tydens berading aan die lig: Onskuldige vroue en kinders wat gereeld deurloop onder ‘n stortvloed van vloeke uit die mond van ‘n ongeredde pa. Hulle vertel van verbale mishandeling, soms gepaard met drank misbruik, en absolute verguising.  
            Die arme vrou wil vlug, maar waarheen. Die vrees van alleen op straat sit met kinders en die gevare daaraan verbonde, bring keer op keer ‘n groter onbekende vrees. Dan maar die hel by die huis probeer verduur.
            Die omgekeerde is ook waar: ‘n Vrou wat soos ‘n viswyf tekere gaan. Vir die man is dit maklik. Hy verdwyn eenvoudig. Meeste van hulle vind ook nog al gou ‘n “beter” heenkome.
            Die ware oplossing is en bly Jesus Christus. As jy van so ‘n huishouding weet, dan weet jy dit juis omdat jy daar moet gaan ingryp met die vrymakende genesende Evangelie. Ons as Wedergeborenes het ‘n roeping om ‘n verskil te maak.
            Daardie vloeke (en selfs aanrandings) is ‘n front. Agter daai fronte skuil gewoonlik ‘n diepe seer en hartseer. Daar is altyd ‘n rede.
            Die Wederkoms kan nie plaasvind te midde van sulke verskeurde huishoudings nie. Dis tyd vir restourasie. Dis ons almal se roeping nie net die van sekeres nie. Bid soos nog nooit te vore nie. Gee om vir die verlorenes en maak so seker jy sal nie eendag verantwoording vir hulle moet doen nie. Eseg 3:17-21 – Sjibbolet