Maandag 03 Oktober 2016

‘Hy wat sy sonde bely... en laat staan, sal barmhartigheid vind’


Image result for rain


‘Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie;
maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.’ Spr 28:13

“Elía was 'n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die Hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.
“Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat 'n sondaar van sy dwaalweg bekeer, 'n siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek.” Jak 5:17-20

Die droogte van verlede jaar duur voort. Die Weerburo sê daar is nie tekens van reën nie. Damme is leeg of byna leeg. Die ondergrondse watertafel word gedreineer. Reën is ‘n seën vanuit die Hemel, maar die HERE kan Sy seën nie laat giet op ‘n sondige aarde nie. Bestudeer die 58 strofes oor reën by http://bible.knowing-jesus.com/topics/Rain
            Daar is mense, selfs boere, wat in kerke en selfs op kerkrade sit en hul gewone Afrikaanse omgangstaal bedags is besmet van vloek- en skelwoorde. Baie van hulle gebruik die naam van die HERE ook ydellik, maar hulle sit by die nagmaaltafel aan en drink oordele oor hulself. Sou God ons as onskuldig laat voortgaan? Sekerlik nie. Daar is ‘n hele rits onheile waarmee Christene hul besig hou... goed wat nie eers onder ons genoem moet word nie.  
            In die dag van ellende berus die antwoorde op gebed... nederige gebed, ‘n gebroke en teer hart wat sy saak met God regmaak... nie net die onreg teenoor die HERE en teenoor  mekaar bely nie, maar ook laat staan!
            Te midde van die ellende dra geloof en hoop ons. Dit open God se hand van genade en seën. “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” Rom 10:9-10. Sommige bely maklik, maar glo nie met die hart nie.
            In hierdie tyd van ellende het ons nie formele gebede nodig nie, maar gebed van geloof. As jy iets teen iemand gesondig het, bely dit, gaan maak reg. As jy moet teruggee, gee terug. Kry jou hande skoon... “Bely mekaar julle misdade en (let op) bid vir mekaar (hoekom?), sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.” Jak 5:16. So iemand bid in afwagting van die antwoord.
            Die Wederkoms gaan vir seker plaasvind. Volgens die tekens van die tye, kan dit enige oomblik wees. Leef in afwagting. Sorg dat jy sonder vlek of rimpel is, sonder skuldgevoelens, met ‘n rein gewete.
            Ons hou die toekoms in ons gebede. -- Sjibbolet