Sondag 09 Oktober 2016

Die Wedergeboorte...


Image result for baptism


Ons neem ‘n bewuste besluit om van die teenswoordige wêreld oor te stap na die Goddelike wêreld, van die tydelike materiële na die Ewige Geestelike.
Met ons Wedergeboorte het ons ‘n nuwe skepping geword. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Kor 5:17
  Wat behels hierdie werklikheid. As jy nie weet wie jy werklik is nie, kan jy nooit die volheid van die oorvloedige lewe in Christus ondervind nie.
  As Wedergeborenes hoor ons, ons lewe lank, ons is ‘n nuwe skepping. Ons hoor ook dat die ou dinge verby gegaan het. Ook hoor ons dat alles nuut geword het. Verstaan ons werklik wat dit beteken? Is ons nie net beter mense nie?
  ‘n Nuwe fusie, of versmelting, of samesmelting het plaasgevind. Maria vra hoe sou sy swanger sou word, en die Engel antwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.” Luk 1:35
  Toe dit gebeur vervleg die Heilige Gees en Maria se gees om Jesus te skep. Die DNA van die een het versmelt met die DNA van die ander.
  Dis presies wat gebeur wanner ons Wedergebore word. Ons onheilige gees word geheilig deur die Heilige Gees. Dis soos wanneer die DNA van ‘n moeder en ‘n vader vervleg in ‘n nuwe samestelling om ‘n baba, ‘n nuwe skepping, voort te bring.          
Soos wat die Heilige Gees met ons gees vervleg het, of dan ‘n fusie plaasgevind het, ‘n versmelting, het my gees en die Heilige gees een geword, dus ‘n nuwe skepping. Dit skep dan Christus in my.
  My liggaam is ook geheilig want dit is nou ‘n tempel waar Christus inwoon. Ek het nou ‘n hemelse DNA, ‘n Goddelike natuur.
  1 Kor 6:17 verklaar: “Maar wie die Here aanhang, is (let op) een gees met Hom.” Hierdie openbaring is nog die hele tyd voor ons oë, maar die werklikheidsbesef dring nou eers tot ons deur.
Dit is Christus in my: “… naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges (en en jy), aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.” Kol 1:17-18  
  Die geestelike DNA is in my menslike gees ingebrand en veroorsaak dat ek nou deel is van God se Goddelike natuur. Ek is inderdaad ‘n nuwe skepping. Soos wat die Heilige Gees en my gees verenig het in ‘n versmelting die een met die ander, is ek Wedergebore. Ek is nie net ’n nuwe ek nie, maar ‘n Christus wese, ‘n totaal nuwe skepping.      
  Ek word een met God, Ek het Sy goddelike natuur en karakter binne my. Ek is ‘n nuwe skepping met nuwe begeertes , ‘n nuwe lewensuitkyk. My identiteit is getransformeer. Ek is nou heilig, geregverdig en skoon.
By die Weergeboorte ontvang ons ook die Ewige Lewe. “Hy wat in die Seun glo, (let op) het die Ewige Lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” Joh 3:36
Volg dan ‘n leefwyse soos iemand wat reeds die Ewige Lewe het en bou daaraan.
Kyk weer: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die Ewige Lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” Joh 5:24
Ek en jy is ‘n God (YAWEH) skepping.
Kyk na die mag wat aan ons gegee word: “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die Hemel ontbonde wees.” Matt 18:18
Jou leefwyse as Wedergeborene verander: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Kol 3:2
Kyk weer: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God (ja, ons is nou God se uitverkore volk), heiliges en geliefdes (hoe?), met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
“En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.
“En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.
“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
“En (let op) wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Kol 3:12-17
“Hulle (ekn jy) is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” Joh 17:16
Selfs ons burgerskap het verander: “Want ons burgerskap is in die Hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die HERE Jesus Christus.” Fil 3:20
Ons durf ons nie soos wêreldlinge gedra nie: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:14-16
Ons leef nie meer onder die Wet van Moses nie, ons lewe nou onder die Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8 asook Matt 22:36-40
En waarvoor lewe ons nou? Om die Evangelie uit te dra en die Koninkryk te bou. “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie.
“Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.
“(let op) Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.” Matt 5:4-6
Wanneer ons waak, nugter is en die HERE verwag, sal Sy koms ons nie oorval soos ‘n dief in die nag nie.
Intussen bid ons ernstig vir ‘n magtige Herlewing, is ons hef aan: Voorwaarts Christenstryders, geklee in ons volle wapenrusting. Efes 6:11 – Sjibbolet