Wys tans plasings met die etiket Regional and Spiritual directories. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Regional and Spiritual directories. Wys alle plasings

Donderdag 27 Julie 2017

In die Laaste Dae ‘Sal ek my Gees uitstort op alle vlees...’


Image result for holy spirit

“En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.” Hand 2:17-18

Oral in Suid-Afrika  word die Heilige Gees uitgestort. Berigte kom van oral af in soos wat die eerste druppels oral val.
            Die dag van Pinkster was die begin van ‘n nuwe era vir die ganse wêreld, ‘n nuwe krag van regverdigmaking en geregtigheid, ‘n nuwe missie van verlossing en ‘n nuwe basis van gemeenskap. Nou ervaar ons dit ook oral op die Platteland, op dorpe wat dit nie verwag was nie..
            Die Gees van God was van die begin af bedrywig oor die ganse aarde. Hy is die kreatiewe “Agent”, die Behoeder en die Vernuwer van die Wêreldnatuur.
            Hy is die HERE God, die Gewer van Lewe!
            Daar is minstens drie elemente waarom die krag van die Heilige Gees in besonder in die Nuwe Testament aan ons gegee is:

·       Sodat ons kan sien, begryp en die eenheid in Christus kan beleef. Joh. 14:20;
·       Om met alle krag bekragtig te word volgens die mag van Sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap, waarvoor ons die Vader dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig.  Kol. 1:11-12;
·       Sodat ons kragtig kan word in die HERE (Efes. 6:10) en in die krag van Sy sterkte.

Die Gees van God het in die Ou Testament onder andere oor mense soos Moses, Simson, Gideon, Samuel en die profete vaardig geraak.
In die Nuwe Testament word hierdie manifestasie deur elke Christen beleef wat met die Heilige Gees vervul is.
Profete soos Jesaja en Joel het getuig van die dag wat sou kom waar die volheid van die Heilige Gees ‘n steeds toenemende gawe van verlossing en genade sou wees.  Daardie dag het op Pinksterdag aangebreek.
In die Nuwe Testament is die Heilige Gees die “Agent” wat die Wedergeboorte bewerk. In die Evangelies was Hy nog nie betrokke nie.
Jesus se missie moes eers voltooi word om die vuur op die aarde te bring Luk. 12:49 en verder.  Die Gees was op die aarde, maar nog nie uitgegee nie. Joh. 7:39
Die volheid van die Gees is op Pinksterdag uitgestort. Van toe af was die Heilige Gees betrokke in ‘n steeds toenemende maat. Hy was die geskenk van God aan Sy Seun, en Sy Seun se geskenk aan ons.
Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie. Vrede is vir almal beskikbaar as hulle dit maar net wil aanvaar.
Die Christendom groei tot die grootste godsdiens in die wêreld. Die Bybel word en is steeds die mees gedrukte en gelese boek in die wêreld.
Elke dag nog word by die gemeentes gevoeg wat gered is en steeds word nuwe gemeentes gestig.
Die dood het geen angel meer nie. Christene gaan nie dood nie, hulle het die Ewige Lewe!
Blindes sien, dowes hoor, kreupeles loop, ja, selfs dooies word opgewek.
In Suid-Afrika weet ons van drie gevalle waar dooies opgewek is: Die geval van die Hatfield-broers, eerw. Van Zyl wat in die Paarl vir ‘n dooie man gebid en wyle prof. Jac Muller wat vir ‘n afgestorwe seuntjie gebid het.
Prof Muller het in ‘n onderhoud vertel dat hy gevra is om vir die siek seuntjie in die hospitaal te gaan bid. Toe hy daar kom was die seuntjie reeds oorlede en ‘n laken oor hom getrek. Hy staan toe maar by die lewelose liggaampie en bid. Toe hy by die huis kom bel die saalsuster en vertel opgewonde, die seuntjie het opgestaan.
Vele gevalle van kliniese dood en opstanding is deur medici in talle boeke vermeld.
Of die genesing deur gebed kom, deur medikasie, fisioterapie of deur chirurgie, dit is en bly die kragtige werking van die Heilige Gees.
Daar is ook ‘n miskenning van die krag van die Heilige Gees onder ons mense, vandaar die geestelike en morele verval.
Dit is waarom dit so dringend noodsaaklik geword het dat mense hulle voor God sal verootmoedig. Dit is waarom die eerste tekens van ‘n geestelike Herlewing oral sigbaar word.
Dit is waarom jy by ‘n Christen Netwerk moet inskakel of ‘n gebedskring moet begin. Wat baat dit om te sê ons is kinders van ‘n Lewende God, maar ons sien nie Sy Gees vaardig in ons lewens en in ons gemeenskappe nie.
Die Herlewingslied, net soos God dit beloof het: https://www.youtube.com/watch?v=CCoq4BY42OQ

Woensdag 12 Oktober 2016

Trek die Volle Wapenrusting aan...


Image result for wapenrusting van god


“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.” 1 Joh 4:1
            In hierdie tyd waarin ons leef, is dit ‘n dringende noodsaaklikheid om oor die gawe van onderskeiding te beskik. Nie alle geestelike aktiwiteite kom vanaf die Heilige Gees nie. Soms is dit moeilik om die oorsprong te bepaal, maar nie wanneer jy die gawe van onderskeiding het nie.
Gelowiges en hulle kinders beleef ‘n totale aanslag.                    
Soos wat enige gawe ontwikkel, ontwikkel die gawe van onderskeiding ook in diepte van waarneming, kennis en openbaring. Soos wat die boosheid op die aarde toeneem, is dit nodig om hoër vlakke van onderskeiding te reik.
Daar is verskillende gawes: “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
“Want aan die een word deur die Gees...
·       'n woord van wysheid gegee,
·       en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
·       aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees,
·       en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
·       aan 'n ander werkinge van kragte,
·       aan 'n ander profesie,
·       aan 'n ander onderskeiding van die geeste,
·       aan 'n ander allerhande tale,
·       aan 'n ander uitleg van tale.” 1 Kor 12:7-10

Watter van hierdie gawes het jy of strewe jy na?
Op aarde beleef ons ‘n fisiese wêreld, maar ook ‘n geesteswêreld. Ons ken die fisiese wêreld, maar meeste van ons is onbekend met die geestelike.
“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
(Let op) “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Efes 6:10-12
Dit kan mens alleen op geestelike vlak aandurf. Later kan jy sien in die geesteswêreld, neem jy persepsies waar in die Heilige Gees, beide goed asook onheil afkomstig van demoniese engele. Mens verkry in die groei- en ontwikkelingsproses totale insig in die bonatuurlike geesteswêreld.
Jy lê nie iemand haastig die ander op nie sodat jy rein kan by bly en nie straks gemeenskap het met die sondes van die sieke nie. 1 Tim 5:22
Jy beweeg en leef in die Gees. “Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; (hoekom?) want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.”
Net om seker te maak ons het reg gehoor, herhaal Johannes: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
Die gawe van onderskeiding van geeste is die Godgegewe vermoë om die geeste wat sit agter verskillende manifestasies of aktiwiteite, te kan identifiseer. So kan mens ook die persoon of toestand identifiseer.
‘n Man vertel in ‘n diens hy ly aan geweldige rugprobleme gepaard met erge pyn. Hy vertel vier mense het al vir hom gebid. Elke keer was alles binne ‘n oomblik normaal en geen pyn nie en binne 24 uur later was alles van vooraf net soos dit was.
Die gawe van onderskeiding wys die fout lê by sy vrou, sy is die medium waardeur die bose gees werk. Sy was onbewus hiervan. Die vrou vertel hoe haar ma altyd die toordokter op die buurplaas laat kom het wanneer daar siekte in die huis was. Die toordokter het hulle dan gesond gemaak.
Daardie gees van die toordokter is uit die vrou gedryf en onmiddellik was haar man vir altyd volkome genees.
Wyle oom Moses van Rooyen van Kakamas het gereeld kom kyk hoe dit met weduwee Hester Brand en haar kinders gaan. Hulle het weerskante van die watervoor gewoon. Een oggend vra Hester vir oom Moses of dit sy baadjie is wat agter haar kombuisdeur hang. Hy het nee gesê.
In daardie stadium is goed oral in huis deur ‘n onsigbare hand rondgeskuif en verplaas, genoeg om enige mens met doodsvrees te vul.
Oom Moses had die gawe van onderskeiding van geeste. Hy het die eienaar van die baadjie binne minute uitgewys en die saak opgelos.
Daar is hope sulke gevalle om aan te haal.
Vir mense wat nie die gawe het, mag dinge obskuur klink, maar vir die een wat die gawe het, is dit ‘n normale lewensgang soos enige van sy ander talente.
Met die gawe van onderskeiding kan mens ‘n diens hou en jy sal skielik weet van mense en hul probleme en dadelik werk daarvan maak.
Hoe lank is jy al ‘n Gelowige? “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat 'n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.
“Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy 'n kind is.
“Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat (let op) geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” Hebr 5:12-14
Iemand met die gees van onderskeie begin ook later Engele sien beleef. Kyk maar wat gebeur het in Luk 22:43; Joh 20:11-13; Hand 27:23-24
Paulus onderskei ‘n gees van geloof in ‘n verlamde man. Hand 14:8-10. Paulus het dit nie met elke verlamde gedoen nie, maar in hierdie geval kon hy die gees van geloof onderskei.
Soms, nie altyd nie, is liggaamlike gebreke vanweë bose geeste. Iemand met die onderskeiding van geeste sal dit weet. Jesus het tydens Sy bediening dit hoevele kere beleef. Luk 13:11-13
Iemand moet nooit probeer voorgee of selfs lieg vir iemand wat die gawe van onderskeiding het nie.
‘n Man vra vir gebed vir sy verbrokkelde huwelik, maar die gees van onderskeiding wys hom op die botteltjie muti (toorgoed) wat hy in sy sak het. Toe vir hom gesê word die HERE weet van die muti, toe sê hy maar as die gebed nie sou help nie dan wou hy die muti gebruik. Helaas, God laat Hom nie afdreig of bespot nie.
‘n Hoteleienaar reis byna 1 000km om vir sy rug te laat bid. Ons besoek hom nikswetend. Hy vertel sy storie. Verwese staan hy daar. Die gees van onderskeiding sê vir hom: “Jesus wil jou genees, maar Hy kan nie. Jy verkoop drank onwettig en jy sit gereeld onwaardig by die nagmaaltafel aan. Toe loop sy trane onbedaarlik.
Die gawe van onderskeiding het niks met suspisie te doen nie. Dit wat jy beleef, is nie vir goedkoop praatjies nie. Die Heilige Gees gee jou die gawe om te bou en te genees. Wanneer jy ingryp in ‘n situasie, vra die HERE om wysheid en bly nederig.
Saam met Petrus sê ons vir jou ook: “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here!” 2 Pet 1:2 – Sjibbolet