Maandag 17 Julie 2017

Geloof en die Werke gaan hand aan hand


Demosthenes, die groot Atheense patriot – toe dit geblyk het dat sy landgenote te verward en verdeeld was om die Masedoniese aanslag teen te staan – het hy luidkeels uitgeroep: “In die naam van God, ek smeek julle: Dink!
            Vir ‘n geruime tyd daarna het die Athene, Demosthenes bespot. Dit was te begrype want Masedonië was nogal ver en daar was baie tyd.
            Hulle kon nie dink dat hulle oormore sou moes boedel oorgee nie.
            So is dit met ons Christene vandag. Ons is te traag om te dink. Ons kon lankal besef het ons gaan uitlewer word. Daar is 36 miljoen selfverklaarde Christene in Suid-Afrika.
Dink!
Hoekom is die Christendom in SA so verlam? Hoe kan daar 36 miljoen selfverklaarde Christen in die land wees en daar is nie ‘n Christenregering nie en Christen provinsiale regerings nie?
            ‘n Gelowige sonder beginsels, is ‘n beginsellose mens. ‘n Volk sonder beginsels, is ‘n onbeskaafde volk.
            As ‘n Christenvolk sy beginsels vergeet, oorboord begin gooi, dan verval hy in barbarisme, het die geskiedenis getoon.
            As ‘n volk gesonde beginsels verwerp, word hy ‘n dweepsieke volk.
            Die denkende Christen moes 30 jaar gelede sy gesonde beginsels op twee fronte verdedig het. Vandag het hy weer geleentheid om dit te doen:
            Die eerste is teen die verwaarlosing van alle beginsels wat ly tot sosiale en persoonlike agteruitgang.
            Die ander is die aanname van vals beginsels wat die wêreld in anargie dompel.
            Die gevaar op die oomblik is dat ‘n groot deel van ons volk vergeet het dat ons Christen- en politieke beginsels ooit bestaan.
            Die allerantwoord is ‘n magtige Herlewing... hou net an met bid en werk, die eerste druppels val reeds.
            Ons moet dus onsself verdedig deur vernuwing van ons bewuste ware geestelike, morele, politieke en ekonomiese beginsels. Ons moet dit ook onverwyld in elke sektor van ons volks-, gemeenskaps- en gesinslewe toepas.
Dit is die Christen se identiteit in Christus wat uitgeleef moet word. Maar as die Christen nie langer met sy eie identiteit bekend is nie, het ook hy net ‘n klinkende simbaal geword.
Die Gelowiges is gered om ‘n verskil te maak, maar gebeur dit? Is ons werklik anders? Ons behoort te wees! Die Lig het geen gemeenskap met die duisternis nie.  Die Lig moet die duisternis verdryf deur die Koninkryk van God uit te bou.
            Loof die HERE, ons mense in besig om hulself bymekaar te maak, hul ware identiteit in Christus gaan aanneem en dit uit te leef?
            Dit baat nie 36 miljoen Suid-Afrikaners bely hulle is Christene en daar is geen vrug nie... nie eers ‘n Christenregering nie.  “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?” Jak 2:14
            Op ‘n ander terrein gaan dit veel beter daaraan toe.
            In Krugersdorp verlede week het twee mense wat mekaar glad nie geken het nie, byeen gekom, saam gebid en gesê hulle gaan die Evangelie, tesame met kos aan die armes verkondig. Die afgelope naweek was dit toe so... en met ongekende welslae.


            Die getal wat wou saamwerk het eenvoudig toeneem. Gelowiges wat van die plan verneem het, het van oral af kos gebring.. Ander het die kos voorberei. Een vroutjie vertel: Ek het ‘n vrag hoenders in my vrieskas en baie daarvan uitgehaal en gaargemaak. Toe ek later weer in die vrieskas kyk, toe was dit weer vol... sodat ek hardop gevra het: En wie het dit nou gedoen?
            Daar was 80 mense wat betrek is. Een was kreupel en is 100% genees. ‘n Vrou het haar besondere groot erf aangebied en almal het daar byeen gekom. Intussen het ‘n groot kerk ook hulle kompleks gratis vanaf Augustus aangebied.
            Iemand het vyf groot bosse rose kom aflewer en daar was ‘n roos vir elke vrou by die geleentheid. Nog iemand het genoeg sjokolade kom aflewer sodat almal kon kry. Mense kon kos ook huis toe neem. Vir die kinders was daar lekkergoedpakkies.
Daar was ‘n kort boodskap en getuienisse en mense is gered en genees. Dit was ‘n fees.
            ‘n Gemeente in Kaapstad stuur elke Sondag 50% van die gelowiges in die oggenddienste uit op die strate. Meer en meer gemeentes begin uitreik na die verworpene, die verstotelinge, die boemelaars, straatvroue en lei hulle die Koninkryk binne.
            In gemeentes vind restourasie tussen gemeentelede plaas. Dis oral soos die eerste druppels van die Herlewing in die lied Strome van Seën van Bowe.
            Ons kry berigte van oral oor die land. Die gebeur in die stede, op dorpe, in woonbuurte. As jy jaloers is op wat gebeur, begin dan presies dieselfde doen: Reik uit... vaar uit na die diep kant toe en gooi die nette aan die anderkant van die skuite uit.

https://www.youtube.com/watch?v=V9UoDI7IJgU