Maandag 31 Julie 2017

Leef in die Geloof en Beleef jou Gawe


Image result for geloof

Geloof is die sleutel waarmee ons God se wonderwerkende krag oopsluit, en ook ons eie toekoms! Dink net, deur geloof het die mure van Jerigo ingetuimel.
“Alle dinge is moontlik vir die een wat glo,” sê Markus 9:23.
Het jy geloof? As kind van God het jy beslis geloof. Jy het die gawe van geloof by die Wedergeboorte ontvang.
Al wat jy moet doen is om dit uit te bou!
En aan Hom wat MAG het om te DOEN... ver bo alles(!) wat ons  BID of  DINK... volgens  –   die Krag wat in ons is! Efes. 3:20.
            Heb. 11: 1-33  is die Bybel se  meesterstuk van geloof, en, die mooiste is, dat ek en jy deel daarvan is.
            Strofes 32 en 33: “En wat sal ek nog meer sê (oor al hierdie geloofs-dinamika), want die tyd sal my ontbreek as ek (ook) van Gideon, Barak en Simeon en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal...”
            Hoekom?  Want kyk wat het hulle  – strofe 34 ... wat deur geloof bereik:

·       koninkryke oorweldig het !
·       geregtigheid uitgeoefen het !
·       beloftes verkry het !
·       bekke van leeus toegestop het !
·       die krag van vuur uitgeblus het !
·       die skerpte van die swaard ontvlug het !
·       krag uit swakheid ontvang het !
·       dapper gewees het in die oorlog !
·       leërs van vreemdes op die vlug gedryf het !”

Die tweede laaste reël: DAPPER gewees het in die oorlog! DAPPER beteken:  Vasberade, onverskrokke. Dit beteken ook:  onwankelbaar en onbuigsaam, beginselvas,  dus, ook iemand wat geen kompromie aangaan nie.
            Om deur die geloof te kan lewe moet ons beslis (committed) wees, moet ons gedetermineerd wees, moet ons dapper wees, moet ons weier om kompromieë aan te gaan, moet ons rus (vind) in die HERE. Of ons vertrou God absoluut, of, anders lewe ons in twyfel, ons probeer maar.....
            Let op: “...hy wat twyfel moenie dink dat hy iets van die HERE sal ontvang nie! Dus…  weier om te twyfel.” Jak 1:6-7
            Ons, ek en jy,  is God se magtige manne (en vroue) vol dapperheid, onverskrokkenheid.  Ons weier om te twyfel. Ons staan soos rotse, onwankelbaar.
Onthou, ons is GOD se eiendom. Vat iemand aan ons vat hy aan GOD, want, GOD sê: Vir sovele as wat julle dit aan die geringste van My doen, doen julle dit aan My.
            Dit is ook hoekom ons nie wraak moet uitoefen nie. GOD sê:  Hom kom die wraak toe. Hy sal vergeld. Ons moet net besef dat as iemand ons leed aandoen, speel hy of sy met vuur, want hulle het GOD se eiendom aangetas. En daar staan ook geskrywe: Dit is vreeslik om te val in die hande van die Lewende GOD!
            Ons vrees niks, want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar ‘n gees van Krag (hier sien ons weer die krag), en van Liefde en van Selfbeheersing. Dit is wat ons ontvang het en dit is wat ons elke dag moet bely.
            Let weer op hoe die boodskap begin het:  ... volgens die KRAG wat IN ons is, of dan, volgens die geloofskrag wat in ons is.
            Daar is geloofskrag in ons om ook die dinge te kan doen wat ons voorsate deur die geloof gedoen het..  volgens ...  dui daarop dat ons daardie geloofskrag moet uitbou, soos 'n gewigopteller sy krag ook uitbou. Hoe groter sy krag, hoe groter die gewig wat hy kan baasraak.
            Ons moet dus deur Sy Woord en deur praktiese toepassing daarvan, ons geloofskrag uitbou. Kyk hoe waar is die volgende:
            Om nederig te wees is God se Wil. Om jouself te verkleineer, is nie nederigheid nie en is sonde. In die oë van God is ons baie belangrik. Ons is Sy VOLK. Ons is Sy eiendom. Ons is Sy Erfgename. Ons is Sy medewerkers. Ons het die geloof van 'n mosterdsaadjie – ons (moet) groei tot 'n reuse Geloofsboom!
            Let op wat gee Hy ons nog: “Hy aan julle mag gee na die rykdom van Sy heerlikheid (hoekom?) om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens (hoekom?) sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is (hoekom?) en julle in staat kan wees om saam met al die Heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, (hoekom?) sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.” Efes 3:16-19
            Bely dit,  glo dit, verheug hierin,want dit is die Waarheid, en nie die twyfel en onwaarhede wat die satan ons mense mee teister nie.
            Onthou, wanneer mens naby die deurbraak is, sal die druk altyd toeneem. Teenspoed lyk maar soos teenspoed. Hoe harder die stryd hoe groter die oorwinning, want in Christus Jesus is ons meer as Oorwinnaars!
            Lees ook Psalm 149 (sommer gereeld) en let veral op wat gebeur vanaf  strofe 6... hoekom ek en jy ‘n tweesnydende swaard in ons hande het!
Dit gebeur wanneer ons met daardie geloofskrag wat in ons is, die HERE begin loof: Lofverheffinge is ‘n tweesnydende swaard. Aan die een kant verbly ons die hart van God, aan die ander kant vernietig ons die vyand, wie en wat hy ook al mag wees !
            Hoekom snoei mens ‘n wingerd?  So dat dit meer en beter vrug kan dra. Om dieselfde rede oefen atlete en ander sportlui – te kan wen. Ander oefen op musiekinstrumente om beter te kan speel.
            Dis dieselfde met ons geloof.  Ons moet dit beoefen – in die werkplek, by die huis, in die gemeente, teenoor ander rondom jou – al doen jy niks verder nie as suiwer om te bid vir Herlewing. Jy durf nie niks doen nie, jy moet jou geloof uitbou!
            Dit word vertel van ‘n sieklike man wat gereeld vir 30 dorpe en gemeenskappe om Herlewing gebid het.  Hy het gereeld aantekeninge in sy dagboek gemaak van sy gebede.  Nadat hy die Ewigheid in is, het Herlewing op elkeen van die dertig plekke uitgebreek.
            Die geheim, die sleutel, is geloof.  Geloof neem jou veilig werk toe.  Geloof neem jou veilig op vakansie en bring jou veilig terug.  Geloof laat jou huwelik slaag.
            Geloof laat ‘n boer voor die storm in sy koringlande op sy knieë neerval en in geloofskrag uitroep:  “HERE, asseblief, spaar my oes!”  En die storm trek verby.
Geloof laat jou vir jou siek kind of ‘n gemeentelid bid.  Geloof laat jou kinders presteer.  Geloof laat jou op ‘n stoel gaan sit sonder om te kyk of die ding nie intussen dalk gebreek is nie.
Geloof laat jou die Bybel bestudeer om nader aan God te kom sodat jy siele vir die Koninkryk kan wen. Bou jou geloof uit! – Sjibbolet