Wys tans plasings met die etiket China druk Bybels. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket China druk Bybels. Wys alle plasings

Maandag 16 Maart 2020

Amity druk 200 miljoenste Bybel


Die Nanjing Amity Printing Company in China, die grootste Bybeldrukpers in die wêreld, het Dinsdag die druk van sy 200 miljoenste Bybel gevier.

Chinese kerkleiers en regeringsbeamptes, verteenwoordigers van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe asook verteenwoordigers van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) het die spesiale geleentheid bygewoon.

Daar het groot opgewondenheid geheers toe 'n foto van die 200 miljoenste Bybel op die skerm verskyn het  – een van die BSA se Bybels! "Dit is vir die BSA 'n spesiale voorreg dat een van ons Bybels die 200 miljoenste Bybel is wat deur Amity gedruk is. Ons is ook oorstelp om deel te wees van die merkwaardige storie waar die Bybel in China 'n herlewing beleef. Dit is egter nie net die 200 miljoenste Bybel wat ons vier nie, maar elkeen van daardie 200 miljoen Bybels aangesien elkeen 'n saad is wat 'n oes van geloof, hoop en liefde kan lewer,” het Dirk Gevers, Uitvoerende Hoof van die BSA, gesê nadat hy 'n spesiale sertifikaat van Luke Liu, Amity se Uitvoerende Hoof, ontvang het.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika druk sedert 2007 Bybels by Amity. Tot op hede is bykans 12 miljoen Bybels gedruk om so die lewegewende boodskap van God se Woord aan Suid-Afrikaners te voorsien.

Qiu Zhonghui, raadsvoorsitter van die Amity Stigting en Amity Drukpers, het hulde gebring aan die stigters van die drukpers en die aansienlike bydrae wat hulle tot die Bybelbediening van die kerke in China en regoor die wêreld gemaak het.

"Van die 200 miljoen Bybels wat gedruk is, is meer as 85 miljoen eksemplare vir kerke in China gedruk en versprei. Dit sluit Braillebybels en Bybels in 11 inheemse minderheidstale in," het hy gesê. Inwoners van 147 lande is deur die 200 miljoen Bybels bereik.

Die Amity drukpers is in 1987 geopen, met 'n prioriteit om Bybels vir Chinese Christene en kerke te druk. Die eerste Bybel het op 14 Oktober 1987 van die drukpers afgekom. Vandag spog die pers met hipermoderne toerusting wat deur 500 personeellede beman word en wat meer as 20 miljoen Bybels per jaar kan druk, teen 'n gemiddelde van een Bybel per sekonde.

http://www.amityprinting.com/en/gsyw/info.aspx?itemid=245