Maandag 01 Julie 2019

So, herbou ons Suid-Afrika

Hoeveel regmerkies sal julle as gesin vir julle self in hierdie boodskap kan gee? En jy wat geskei is, of wil skei, wat sou jy eendag voor die Regterstoel antwoord wanner jy gevra word oor waar jou huweliksmaat en jou kinders is?

God se ideale situasie is dat die man die hoof van sy huis moet wees – nie om baas te speel nie, maar om verantwoordelikheid vir sy huis te neem... juis omdat God die man verantwoordelik hou vir sy gesin – maar meer nog, hy moet die priester van die huis wees, God se verteenwoordiger in die huisgesin. God hou die man verantwoordelik vir die geestelike welsyn van die vrou en die kinders.       

            Mans verlaat hul ouerhuise om hul vroue aan te kleef en lief te hê. “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” Gen 2:24

            ‘n Man is die hoof van die vrou. “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.” 1 Kor 11:3. God hou elke man verantwoordelik vir hoe die man sy vrou hanteer.

            Mans moet hulle vroue liefhê. “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.” Efes 5:25. ‘n Man moet sy vrou dus so liefhê dat hy bereid moet wees om homself te offer vir haar.

            Liefde gee die deurslag. Liefde is en bly die grootste Gebod. Met ware getroue liefde vermag mens enigiets, verskuif jy berge.

            Mans moet hul vroue eer. “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is – sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.” 1 Pet 3:7

            Let op: As ‘n man nie verstandig met sy vrou saamlewe nie en aan sy vrou as die swakkere een, eer bewys nie, word die man se gebede verhinder.

            Baie is altyd gou om strofes aan te haal dat die HERE ‘n mens se gebede beantwoord en dat mens kan vra net wat jy wil, maar hulle laat na om te besef dat die beloftes ook voorwaardes bevat.

            In 1 Pet 3:7 sê die HERE bv. Dat ‘n man se gebed verhoor sal word as hy verstandig met sy vrou saamlewe, as hy aan haar as die swakkere eer bewys.

            Mans moet beheer oor die huishouding neem. “'n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig;

            “geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie;

            “een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou.” 1 Tim 3:2-4

            Let weer op: ‘n Man moet sy kinders in alle waardigheid... in onderdanigheid hou.” Nie met ‘n gevloek en ‘n geskel en dreigemente nie, maar in alle waardigheid.

            Waardigheid kweek liefde en eerbied. Enige ander manier is vernietigend.

            En strofes 12-13: “Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer.

“Want diegene wat goed gedien het, verkry vir hulle 'n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.”

Net so die vroue ook. “Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadsprekers nie, nugter, betroubaar in alles.” 1 Tim 3:11.

Die vroue is ook die man se helper en die man mag dus sekere take aan die vroue delegeer. Onthou altyd, die man en die vrou is een vlees. Sodra hulle gemeenskap gehad het, is hulle een vlees. Matt 19:5-6

Ons is voorstanders daarvan dat pleks van geslagsvoorligting, daar gesinsvoorligting op skool moet wees, en op grond van die volgende:

“'n Opsiener (die hoof van die huis, die hoof van enigiets in die lewe) dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig;

“geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie;

“een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou.

“Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?

“Hy moet nie 'n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie.

“Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie.” 1 Tim 3:1-7

Mans tree in die huwelik sonder dat hulle die vaagste benul het waaroor dit gaan.

Omdat die man die hoof van die huis is, is hy ook verantwoordelik vir alle besluite wat geneem word. Dit beteken nie dat vroue geen seggenskap het nie, maar dat hulle optree onder die sekuriteit van die man se gesag. Daar moet orde en dissipline wees, asook ‘n begroting.

Dit is interessant om te sien dat mans hulle vroue moet liefhê. Dit is ‘n opofferende liefde.

“Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die (Koninklike) wet vervul.” Rom 13:8

“Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Rom 13:9

As jy jouself liefhet, respek het vir jouself, vir jouself omgee voor God en die mens, dan sal jy nie egbreek, doodslaan en dergelike dinge doen nie nie.

En weer ‘n keer: “Want die hele (Koninklike Wet - Jak 2:8) word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Gal 5:14

Het jy jouself lief? Hoeveel het jy jouself lief, ‘n bietjie of met jou hele hart? Kyk na die waarskuwing: “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.” Gal. 5:15

Liefde is en bly die Groot Gebod. Wandel in die ware liefde en daar sal nooit probleme wees nie. Die liefde, is ‘n Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

As ons nie onsself lief het nie, kan ons nie ons naaste liefhê nie, nie mekaar liefhê nie, dan doen ons nie goed nie. Naaste aan ons is sekerlik ons huismense.

Dat ‘n man sy vrou moet liefhê, is ‘n opdrag, ‘n Koninklike opdrag. Om daarin te kan slaag om so lief te wees, moet ‘n man sekerlik sy vrou wil liefhê.

As alle mans hierdie opdrag ter harte wil neem, dan sal dit alle struikelende huwelike oornag salf en regruk.

Onthou ook, die vrou is uit die man se ribbebeen gemaak, nie uit sy mond, of sy vuiste of sy voete nie, ook nie uit sy strydlustige gees nie. Uit sy ribbebeen beteken na aan sy, sy... koesterend, liefkosend, beskermend.

“So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;

“want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.” Efes 5:28-29

Let weer op: Wie sy vrou liefhet, het homself lief!

‘n Man sonder ‘n vrou is nie volledig nie. Wanneer hy in die huwelik tree word hy eers volkome man.

Is hulle ‘n eenheid? Nee. Hulle kan nooit ‘n eenheid wees nie want elkeen het sy eie karakter en persoonlikheid. Eenheid beteken noodwendig eendersheid. So ‘n eendersheid huwelik sou ook maar eentonig gewees het.

Maar hulle kan eendragtig wees, vir seker. Die eendragtigheid word ook gesien in die kinders wat hulle in die lewe bring.

Die vrou moet haar onderwerp aan die gesag van die man. “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. (respekteer julle mans)

“Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.

“Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.” Efes 5:22-24

Die egskeidingsyfer is Suid-Afrika is skrikwekkend hoog. Daar moet ‘n rede voor wees. Berading dui telkens op liefdeloosheid, soos wat sogenaamde Christene se liefde teenoor God ook verflou het.

Almal wat hieraan skuldig is, staan skuldig voor God! “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” Heb 10:31

“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die HERE sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15

In die proses van restourasie, kry ook die Huisaltaar weer aan die gang.  – Wekroep