Wys tans plasings met die etiket Jy en jou kinders. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jy en jou kinders. Wys alle plasings

Dinsdag 29 Januarie 2019

Jy en jou kinders


Matt 19:14


n Man had `n pragtige koringland. `n Vernietigende haelstorm het die koring net voor oestyd verwoes. Die man en sy seuntjie het ná die haelstorm na die land gaan kyk.

            Die seuntjie het doodstil gestaan en gewag vir sy pa se reaksie. Die pa begin saggies sing: “Ewige Rots geklief vir my, laat my skuiling in U kry…”

Jare later, toe die seun ‘n volwasse man was, het hy gesê: “Dit was die grootste preek wat ek ooit in my lewe gehoor het.”

Dit was die geloofkeerpunt in die seun se lewe. Die man het `n land vol koring verloor, maar hy het sy kind gewin!

Hoe anders was dit met die seuntjie wie se pa die Sondagoggend in die gemakstoel sy Sondagkoerant sit en lees. “Toe, toe,” sê hy vir die seuntjie. “Sit nou neer jou strokiesprente. Maak reg. Jy gaan laat wees vir Sondagskool.” Die seuntjie kyk verleë na sy pa. “Kom Pa nie saam kerk toe nie?” “Nee,” brom die pa, “ek gaan nie kerk toe nie, maar ek wil hê jy moet gaan. Toe, maak nou reg.”

“Het Pa Sondagskool toe gegaan toe Pa so groot soos ek was?” vra die outjie weer.” “Natuurlik het ek gegaan. Elke Sondag. Toe, toe, maak gou.”

Traag staan die seuntjie op en sê: “Dan sal dit my tog nie help nie. Ek sal nes Pa word.”

Ouers wat die basiese Christelike handelinge, soos kerk toe gaan, Bybellees, bid, offergawes gee, sorgeloos hanteer, leer hulle kinders die HERE se dinge is nietig en onbelangrik en dat die HERE ook min­derwaardig is.

Hierdie kinders kan nie vir HERE eerbied hê nie. Dit kan gebeur dat kinders wie se ouers toegewyd geleef het, afvallig raak. Maar daardie kinders weet altyd: my ouers was reg; hulle het iets kosbaars besit.

Dikwels is dít die herinneringe wat kinders weer na die HERE laat terugkeer.

            Die belangrikste invloed op kinders is die ouers se gedrag. Tweedens belangrik: voorbidding vir die kinders. Dán kom die plant van die Woord, in `n goed voorbereide hart, aan die beurt.

            Ons weet van kinders wat op 5-jarige ouderdom gered en Jesus getrou gedien het en steeds dien. Hulle gee al Tiendes vandat hulle gered is. Hulle het selfs spaar rekeninge en maandeliks verdeel hulle hul sakgeld onder Tiendes, spaar, nodige aankope en snoeperye.

            Daardie kinders is vandag volwassenes wat steeds die pad getrou stap en dis so mooi om te sien hoe hulle kinders in hul ouers se voetspore volg.

            Kinders verdien meer aandag.