Wys tans plasings met die etiket Spiritual and Regional; Ewige lewe. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Spiritual and Regional; Ewige lewe. Wys alle plasings

Dinsdag 29 Januarie 2019

Jy en jou kinders


Matt 19:14


n Man had `n pragtige koringland. `n Vernietigende haelstorm het die koring net voor oestyd verwoes. Die man en sy seuntjie het ná die haelstorm na die land gaan kyk.

            Die seuntjie het doodstil gestaan en gewag vir sy pa se reaksie. Die pa begin saggies sing: “Ewige Rots geklief vir my, laat my skuiling in U kry…”

Jare later, toe die seun ‘n volwasse man was, het hy gesê: “Dit was die grootste preek wat ek ooit in my lewe gehoor het.”

Dit was die geloofkeerpunt in die seun se lewe. Die man het `n land vol koring verloor, maar hy het sy kind gewin!

Hoe anders was dit met die seuntjie wie se pa die Sondagoggend in die gemakstoel sy Sondagkoerant sit en lees. “Toe, toe,” sê hy vir die seuntjie. “Sit nou neer jou strokiesprente. Maak reg. Jy gaan laat wees vir Sondagskool.” Die seuntjie kyk verleë na sy pa. “Kom Pa nie saam kerk toe nie?” “Nee,” brom die pa, “ek gaan nie kerk toe nie, maar ek wil hê jy moet gaan. Toe, maak nou reg.”

“Het Pa Sondagskool toe gegaan toe Pa so groot soos ek was?” vra die outjie weer.” “Natuurlik het ek gegaan. Elke Sondag. Toe, toe, maak gou.”

Traag staan die seuntjie op en sê: “Dan sal dit my tog nie help nie. Ek sal nes Pa word.”

Ouers wat die basiese Christelike handelinge, soos kerk toe gaan, Bybellees, bid, offergawes gee, sorgeloos hanteer, leer hulle kinders die HERE se dinge is nietig en onbelangrik en dat die HERE ook min­derwaardig is.

Hierdie kinders kan nie vir HERE eerbied hê nie. Dit kan gebeur dat kinders wie se ouers toegewyd geleef het, afvallig raak. Maar daardie kinders weet altyd: my ouers was reg; hulle het iets kosbaars besit.

Dikwels is dít die herinneringe wat kinders weer na die HERE laat terugkeer.

            Die belangrikste invloed op kinders is die ouers se gedrag. Tweedens belangrik: voorbidding vir die kinders. Dán kom die plant van die Woord, in `n goed voorbereide hart, aan die beurt.

            Ons weet van kinders wat op 5-jarige ouderdom gered en Jesus getrou gedien het en steeds dien. Hulle gee al Tiendes vandat hulle gered is. Hulle het selfs spaar rekeninge en maandeliks verdeel hulle hul sakgeld onder Tiendes, spaar, nodige aankope en snoeperye.

            Daardie kinders is vandag volwassenes wat steeds die pad getrou stap en dis so mooi om te sien hoe hulle kinders in hul ouers se voetspore volg.

            Kinders verdien meer aandag.

Woensdag 04 Julie 2018

Kom, net soos jy is...


“Elkeen wat die Vader vir my gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Joh 6:37

            Die bekende Switserse Evangelis, dr. Caesar Malan, het net meer as honderd jaar gelede, Londen besoek, vertel Kingdom Evangel.

 

Hy woon ’n onthaal by waar ’n besonder talentvolle jong vrou die klavier te pragtig bespeel. Na haar treffende klavierspel, spreek Dr. Malan, saam met baie ander gaste, sy hartlike waardering uit en voeg by: “God het aan jou ’n buitengewone gawe gegee. Wy dit aan Hom toe.”

Sy het geen sin aan godsdiens gehad nie en hy kon sien sy verstaan nie wat hy vir haar probeer sê nie. Toe sê hy reguit vir haar: “Onthou, as jy nie jou hart vir die HERE gee nie, is jy ’n ongeredde sondaar.”

Net toe loop ’n verflenterde bedelaar by die deur verby. Hy wys na die bedelaar en sê: “Dan is jy net so verlore soos daardie arme mens.”

Sy vererg haar bloedig vir hom en draai kwaad van hom af weg. Sy kon die onthaal nie verder geniet nie. Vroegaand gaan sy huis toe.

            Sy wou gaan slaap, maar die slaap was weg. Net die godsman se ernstige woorde bly in haar gedagtegang terugkom. Die volgende dag is sy terug na Malan. Sy het gesê sy wil haar saak met God regmaak maar hoe raak sy van haar verlede en sondes ontslae?

            Malan het geantwoord: “Kom na Jesus toe net soos jy is, Moenie die knoop probeer losmaak nie,  dit sal te lank neem, sny die tou van die verlede eenvoudig af.”

            Sy het Jesus toe as haar persoonlike Saligmaker aangeneem

            Charlotte Elliot het geweet, Jesus Christus het in haar lewe ingekom en vrede het haar wese vervul. Sy staan op en skryf die lied wat ons nou nog sing:

            “Net soos ek is, geen hulp naby; alleen U bloed gestort vir my; getrek tot U deurboorde sy – o Lam van God, ek kom! Net soos ek is, ek wag nie meer; ek kom, hoe vuil bevlek, o Heer, en werp my aan U voete neer – o Lam van God, ek kom!”

            Charlotte Eliot het in haar leeftyd 150 geestelike liedere geskryf. Hierdie lied is in baie tale vertaal. Een vertaler het geskryf: “Hierdie lied het ’n wonderlike geskiedenis gehad. Dit is waarlik soos ’n blaar van die boom van die lewe.”

            Wyle dr Billy Graham het die lied in elk van sy dienste laat sing deur die bekende George Beverley Shea.

            Charlotte het op ‘n keer teen die einde van haar lewe toe sy nie meer kerkdienste kon bywoon nie, geskryf: “My Bybel is my kerk. Dit is altyd oop en my Hoë Priester wag en ontvang my gereeld daar. Daarin is my belydenis, my danksegging, my lofpsalm  en my gemeente wat hierdie wêreld nie waardig is nie – profete, apostels, martelaars en belydenisse.. in kort, daar is alles daarin wat ek ooit sal nodig hê.”

            Kom, jy is ook welkom... kom net soos wat jy is. Jesus weet van jou en Hy wag vir jou. – Sjibbolet

Sondag 26 Maart 2017

Verwagting:- Dit gaan weer gebeur!


Image result for Vrou raak aan Jesus se kleed en genees

In Mattheus word ‘n vrou genees nadat sy aan Jesus se kleed geraak het. Jesus self het erken dat sy genees is.

            Skriftuurlik was haar genesing nie moontlik nie. Sy kon op geen Bybelse strofe staatmaak nie. Daar het niks in die Skrif bestaan oor Jesus se kleed nie, en hoekom sou daar? ‘n Kleed is ‘n kleed. Dit het niks met genesing te doen nie. Daar staan wel geskryf: “... niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” Matt 17:20; Matt 19:26
“Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.” Matt 9:22. Daar staan baie in die Skrif oor geloof, maar niks oor Jesus se kleed nie.
            En kyk hierna: “En daar is meer en meer Gelowiges in die HERE bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee wat op iemand van hulle sou val.
            Ons is op die vooraand van ‘n magtige Herlewing wat sal bestaan uit gevallenes wat na die HERE terugkeer, Wedergeboortes en wonderwerke.
“En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.” Hand 5:14-17
Dit moes darem maar erg gelyk het, byna soos ‘n oorlogsone: “… sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, (waarom?) met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee wat op iemand van hulle sou val.
            Die aanvaarbare manier vir genesing volgens die Skrif, is om die sieke te seën met olyfolie en die hande op te lê.
            Maar kyk nou hierna: “En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.”
            Voordat doeke en voorskote in hierdie geval in die prentjie gekom het, was daar geen Skrif of lering dat so iets gedoen kan word en of dit ooit moontlik kon wees nie.
            Op ‘n dag spuug Jesus in die grond en maak bietjie modder wat hy aan ‘n blinde man se oë smeer en hom stuur om sy oë in die Bad van Siloam te gaan was.
            As die blinde dit nie gedoen het nie, of as hy sy gesig op ‘n ander plek gaan was het, sou hy nie gesien het nie. Hy moes ook gehoorsaamheid leer.
            In Lukas is die verhaal van die blinde man van Jerigo. Hy het genesing versoek en Jesus het gesê: “Jy sien,” en toe sien hy.
            As die twee blindes mekaar eendag sou ontmoet het en die een het van sy modderstorie en die Bad van Siloam vertel, sou die ander sy storie vertel het en die twee sou waarskynlik aan die stry geraak het oor wie is deur wie genees, en net daar sou ons die eerste kerkskeuring beleef het.
            God is soewerein. Sy liefde oorheers alles. Hy sal help, altyd, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Al bestaan daar nie Skrif voor nie, God sê Hy kyk nie na wat ons doen nie, maar hy kyk na die motief van ons hart.
            Bid ernstig vir 22 April se massa Dag van Gebed om 2nm op die plaas “Wilde Als” digby Bloemfontein.
·       Dit word versoek dat alle kerke in die dorpe en stede daardie Saterdagmiddag sal oop wees sodat almal wat nie die
reis na Bloemfontein kan onderneem nie, presies om 2nm in hul kerke sal begin bid. Die hele volk word opgeroep.
“Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.
Die een geslag prys U werke by die ander, en hulle verkondig U magtige dade.
Ek wil spreek van die glans van U heerlike majesteit en van U wonderbare dade.” Ps 145:3-5
Charles Finney sê oor Oorwinnende gebed: “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” Jak. 5: 16

Vrydag 14 Oktober 2016

Verkry die Gees van Wysheid en Openbaring


Image result for heilige gees


Ons is tot alles in staat deur Christus wat ons die krag gee. Fil. 4:13.
            God wil dieselfde krag waarmee Hy Christus opgewek het, vaardig sien in sy kinders.
            Efes. 1:15-23 “Daarom – vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges –
“hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie,
“dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,
“verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van Sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van Sy erfdeel onder die heiliges is;
“en wat die uitnemende grootheid van Sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van Sy sterkte. (watter krag?)
“wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die Hemele,
“bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.
“En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee,
“wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
Kyk weer:

·       Hy is Hoof bo alle dinge in die gemeente
·       Die gemeente is sy Liggaam
·       Die gemeente is die volheid van Hom
·       ‘n Volheid wat alles in almal vervul.

Ons het genade en ons het vrede, maar dit moet deurentyd vermeerder word, en ons vermeerder dit deur die kennis van God en Jesus.  2 Pet. 1:2.
Hierdie kennis wat ons opdoen, beklemtoon ook die volgende in 1 Pet. 1:3-8.
“Immers, sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (Hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,
“waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.
“En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis,
“en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug,
“en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde (Hoekom?).
“Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit     julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie”
Inderdaad —  “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus
Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het
tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,
“sodat ons 'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die Hemele bewaar is vir ons
“wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” 1 Pet. 1-5.
Dis duidelik dat ons, en niemand anders nie, ons kennis van die Skrifte moet verbreed.  Jesus Christus beklemtoon dit verder in Markus 12:24 wanneer Hy sê:  “Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie?”
Ken ons die krag van God?  As ons dit sou ken, dan sou ons ook soos Paulus en baie ander sê: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” Rom. 1:16.
1 Kor. 1:18 sê dat die Woord van die Kruis is dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir my en jou wat gered word, is die Woord, die krag van God. – Sjibbolet

Saterdag 12 Desember 2015

Die Moulose Gemeenskap


Image result for tank top men fashion

Eers die woord Moulose Gemeenskap. Ek vra wat is dit? Toe sien ek ‘n groot groep mans, lede van die Moulose Gemeenskap, ’n geheime organisasie... hulle dra moulose hemde.
            Hulle sit die kerke vol, liefdeloos, huigelaars, geveinsdes. Hulle het hulself gestaal teen die kwellinge van die lewe.
            Hulle staan sterk in eie krag en eie mag. Hulle is mouloos want hulle huil nie op mekaar of enigiemand se skouer nie. Niemand kan ook op hulle skouers huil nie, want dis mouloos.
            Hulle doen nie niks in die kerk nie, hulle is in almal se pad. Hulle profiteer selfs.
            Hulle boer in die dobbelhole, maar huil nooit oor hul groot verliese nie. Niemand durf dit ook waag om by die mouloses te kom huil nie. Dit word nie geduld nie.
            Dit laat my dink aan die Isle of Wight langs die Engelse kus en die baie grotte daar.
            'n Man se geraamte is in een van hierdie grotte gevind. Hy was 'n prisonier wat ontsnap het. Hy het in die grot geskuil met die hoop dat hy saam met een van die skepe sou wegkom. Die goeie geleentheid het nooit gekom nie.
Hy kon nie waag om uit te kom nie. Sy krag het al minder geword. Sy lot was aaklig. So het hy eensaam gesterf. Hy het wel skuiling gevind, maar dit was 'n bedrieglike en noodlottige skuiling.
            Mense verlaat hulle soms ook op 'n bedrieglike en tydelike skuiling, bv. leuens of bedrog. 'n Kosbare lewe word geslyt in die gevaarlike skuiling van oneerlikheid. 'n Bedroewende skuiling is ook die oneerlike voorgee van Christenskap, om in kerklike kringe aanvaarbaar te wees, maar daar was nooit ware bekering en ontmoeting met Christus nie.
Nog 'n gevaarlike wegkruipplek is nuwe godsdiensbeskouinge, omdat dit 'n mens se lewenstyl beter pas. Dit laat ruimte vir sondige praktyke. Die bedrieglikste skuilplek is onkunde, wat jou met jouself tevrede laat voel, maar jou ewige sieleheil is in gevaar.
Ander skuil agter jarelange geheime... so asof hulle dit vir God kan wegsteek.
By die Wederkoms gaan jy summier agter bly, vir seker!
Die Nuwe Lewende Vertaling van die Bybel gebruik in 1 Kor 6:9 'n bekende woord aan mense wat tevrede voel om steeds met sondige praktyke voort te gaan: Moenie julleself bluf nie. Die sin word voorafgegaan met hierdie waarskuwing: Besef julle dan nie dat mense wat 'n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die Koninkryk van God nie?
            Ons het net één betroubare, blywende, ware skuiling: Die kruisdood van Jesus vir ons, en, ás 'n mens by daardie skuiling ingegaan het.
            Jesus het gesê, Hy het nie gekom om die Wet weg te neem nie, maar dit in vervulling te laat gaan... so word die Groot Gebod, die een van Liefde.
            Jesus het verwys na die Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.
“Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf.” Jak 2:8-9
            Jesus vra drie keer vir Petrus het jy My lief en Petrus antwoord ja... en die hoenderhaan kraai. Die verskil was Jesus het verwys na Goddelike liefde (Agapé) terwyl Petrus na menslike liefde (fileo) verwys het.
            Die kerk moet floreer in die Liefde. Die Liefde moet so oorheersend wees dat die ongereddes dit ook begeer en so tot redding kom.
            Liefde dra moue, ‘n skouer om op te huil, te treur. ‘n Skouer vir diegene wat hartseer is, wat pyn en lyding deurmaak.
            ‘n Skouer bied vertroosting en Liefde vir die seer. ‘n Vriend wat die Liefde het, verstaan, het medelye.
Weet dit: Ons gaan mekaar nog bitter nodig kry vorentoe.
            As jy mouloos in die gemeente sit en dink niemand weet van jou en jou geveinsdheid nie, weet net dat God weet.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
Komaan: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15 – Sjibbolet

Maandag 16 November 2015

Ons moet die Getal eers volmaak – dan volg die Wederkoms


Image result for 2nd coming of christ


”Die HERE vertraag nie die belofte (van sy Wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” 2 Pet 3:9
            Die HERE sal sy Belofte gestand doen, vir seker, maar eers wanneer ons, ek en jy, die getal volgemaak het.
            Die volmaakte getal is 144 000... 12 x 12 x 1000. Let op... 12 000 uit elke van die 12 stamme van Israel – 2 stamme uit die Huis (volk) van Juda en 10 stamme uit die Huis (volk) van Israel. Saam staan die 12 bekend as Israel.
            Met ons menslike verstand renedeer ons, daar is op die oomblik 22.9 miljoen Jode in die wêreld. Altesame 6.4 miljoen van hulle woon in die land Israel.
Heeltemal tereg het die Eerste Minister, Benjamin Netanyahu al vele kere gesê: “We are a Jewish State.”
            Iemand wat goed is met somme, kan gaan uitwerk dat as 6 miljoen Jode nie in die Joodse volksmoord gesterf het nie, hoeveel Jode daar vandag sou wees.
            In die Anglo Boere-oorlog sterf meer as die helfte van die kinders in die Boere Republieke, altesame 24 000. Saam met hulle 3 000 Boervroue en sowat 11 000 mans. Gaan maak ook die som dat as daardie mense nie gesterf het nie, hoe groot ons vandag sou wees.
            Daar is sowat 2 biljoen Christene in die wêreld en dit neem steeds toe. Mens sou kon sê daar is genoeg om ons getal vol te maak.
            Maar die 144 000 dui bloot vomaaktheid aan, net soos wat die syfer 7 op ‘n volgetal van tyd dui (en die satan se 6.66 daaraan kortskiet) en die syfer 8 ‘n nuwe begin aandui. Mens kan dus voortgaan met 12 x 12 x 12 x 12, ens.
            Dit dui egter steeds op volmaaktheid, ‘n volmaakte getal en die getal moet vol kom.
            As jy nou hier lees en jy is nog nie deel van die 144 000 dan sal jy vandag nog moet besluit, ‘n besluit wat jou hele lewe en lewenspad gaan verander.
            Gaan lees weer hoe die dissipels 5 000 man en hulle vroue en kinders met ‘n paar vissies en broodjies gevoer het.
            Een van die grootste matesis-wonderwerke in die wêreld vind ons by Moses en die Israeliete in die woestyn.
            Ons beleef  die verskil tussen vlees en gees, tussen geloof en ongeloof.
Sowat 3,5 miljoen mense moes 40 jaar lank in ‘n woestyn versorg word.  Volgens ‘n militêre strateeg sou Moses, as hy nie in die geloof gewandel het nie,  moes sorg vir:

•          1 500 ton voedsel per dag
•          Twee goedere treine van 1,6km in lengte sou die kos moes aanry
•          4 000 ton brandhout per dag sou nodig wees om kos te kook
•          Verskeie  goedere treine van 8km in lengte sou die hout moes aanry
•          Hulle sou 20 miljoen liter water benodig het want daar was geen mere of riviere in die woestyn nie
•          ‘n Trein met tenkwaens van 18.8km in lengte sou die water moes aanry
•          As hulle dubbel-gelid deur die Rooi See sou beweeg, sou die tou 1 280km lank gewees het.
•          Die tog deur die Rooi See sou 35 dae en nagte geduur het
•          Daar moes dus ‘n breë opening van sowat 4.8km gewees het sodat die Israeliete 5 000 in gelid in een nag kon deurbeweeg
•          Elke keer wat hulle gekamp het, het die kamp ‘n area van 1 200 vk  km beslaan, ‘n area van 48km in die lengte en 40km wyd – so groot soos die Groter Bloemfontein?

Hierdie lysie sou vir elke dag oor ‘n tydperk van 40 jaar moes gegeld het.
            Dink jy Moses het aan al hierdie dinge gedink voordat hy vertrek het?  Sekerlik nie.
Hulle het ook geen materiaal gehad om nuwe sandale en klere van te maak nie.  Hulle sandale en klere het 40 jaar lank gehou.
Die groter wonderwerk is dat die kinders se sandale saam met hulle voete groter geword het.
            Moses het God geglo.  Hy het geweet God sal na al hierdie dinge omsien.
            Die verskil tussen om in die vlees en in die gees te wandel, is enorm en onvergelykbaar, soos toe die vissies en broodjies aan 5 000 man en hulle vroue en kinders uitgedeel was.  Dit verbyster mens se verstand, maar om die dinge van God te verstaan skakel mens juis jou verstand af.
            Ons het presies dieselfde God vandag as wat die Israeliete destyds gehad het.  God het nie verander nie en sal nooit verander nie.
            Ons probleme lyk vir ons soms so oneindig groot, maar dink dan daaraan wat God kan doen!
            Skep moed, ons het dieselfde God.
            Ons moenie God by ons planne en strategieë inskakel nie.  Kom ons skakel liewer by Sy plan in want dan onderneem Hy in alles.
            Laat ons onverskrokke voortgaan om die siele in te bring en die getal vol te maak.
Die 144 000 is in Jesus Christus vrygespreek. Daarom dra hierdie 144 000 die teken van die Vader en die Lam.
 Dit is die uitverkore volk! Toe die skape en die bokke van mekaar geskei is, het Jesus as die goeie Herder Sy skape geneem die ewige saligheid in. Hulle name is in die Boek van die Lewe verseël, hulle het die kroon van die lewe ontvang, hulle is God se eiendom, hulle is die 144 000.
Die 144 000 is simbolies. Twaalf stamme sal in God se Ewige Koninkryk die nuwe aarde bewoon. Die getal twaalf die simbool van volheid. Elke stam sal twaalf keer vol wees — weer die simbool van volheid. Elke stam sal ook in duisende verteenwoordig wees.
Sien ook die simboliek in hoevele kere ons moet vergewe...  sewentig maal sewe keer. Matt 18:27. Dit beteken “vir altyd”.
Die 144 000 wys dus op die volk van God, wat in sy volheid en totaliteit in die Ewigheid sal regeer. Maar dit sê nog meer. Soos 12 x 12 x 1 000 vir ons 144 000 gee dus — 'n presiese getal, so sal 'n presiese getal die Ewigheid beërwe.  Niemand wat tot dié getal behoort sal verlore gaan nie.
Elkeen wat daarby hoort sal daar wees om die Lam te volg waar Hy gaan. Elkeen wie se naam verseël is in die boek van die Lewe is deel van die 144 000.
Kom, help dat ons die getal volmaak. Bid vir ‘n magtige Herlewing, bid vir siele om in te kom, reik uit na verlorenes en bring die gerwe in. – Sjibbolet

Donderdag 10 September 2015

As die Rol daar afgelees word...


James Black was 'n ywerige man, prediker in die Metodiste kerk,  'n musiekonderwyser, komponis en uitgewer van talle Evangeliese liedere. Hy het ook as Sondagskoolonderwyser en leier van 'n jeuggroep onder kinders en jongmense gewerk.


Eendag ontmoet hy 'n 14-jarige meisie. Sy was armoedig geklee en die kind van 'n dranksugtige man. Op Black se aandrang het sy Sondagskool begin bywoon en by die jeuggroep aangesluit. Een aand, by 'n toewydingsvergadering van die jeuggroep, moes die jongmense met 'n teksvers antwoord wanneer hul name uitgelees word.

Toe die dogter se naam gelees word, was daar net stilte. Sy was nie daar nie!  Black gebruik toe die geleentheid om te praat oor hoe hartseer dit sal wees as iemand se naam die dag met die opening van die Boek van die Lewe uitgelees word en die persoon is nie daar nie.

Hy is daarna na die huis van die 14-jarige dogter en ontdek dat sy nie in die klas was nie omdat sy baie ernstig siek in die bed was. Hy het sy eie dokter ontbied. Die diagnose was dubbele longontsteking. Weens ‘n gebrek aan doeltreffende medikasie destyds, was daar nie veel hoop vir haar nie.

James Black is ontsteld huis toe en het gaan soek na ‘n lied wat sou pas by die aflees van ‘n naam wat nie daar sou wees nie. Sy vrou stel toe voor: “Skryf jou eie lied...” Die uiteinde: As die Rol daar afgelees word....

         

When the trumpet of the Lord shall sound

 and time shall be no more

And the morning breaks eternal, bright and fair -

When the saved of earth shall gather over on the other shore,

 And the roll is called up yonder, I 'll be there."



            James het die lirieke en die musiek geskryf. Die lied is ‘n paar dae later by die 14-jarige meisie se begrafnis gesing.

            Hy skryf: "The subsequent death of the missing girl from pneumonia, after an illness of just ten days, furnished the dramatic finale to this account and gives a poignancy to the 'roll call' song."

            Die tyd loop uit. Siele moet gered word. Ons benodig ‘n magtige Goddelike Herlewing. Bid en getuig sonder ophou. – Sjibbolet