Wys tans plasings met die etiket Die Moulose gemeenskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die Moulose gemeenskap. Wys alle plasings

Saterdag 12 Desember 2015

Die Moulose Gemeenskap


Image result for tank top men fashion

Eers die woord Moulose Gemeenskap. Ek vra wat is dit? Toe sien ek ‘n groot groep mans, lede van die Moulose Gemeenskap, ’n geheime organisasie... hulle dra moulose hemde.
            Hulle sit die kerke vol, liefdeloos, huigelaars, geveinsdes. Hulle het hulself gestaal teen die kwellinge van die lewe.
            Hulle staan sterk in eie krag en eie mag. Hulle is mouloos want hulle huil nie op mekaar of enigiemand se skouer nie. Niemand kan ook op hulle skouers huil nie, want dis mouloos.
            Hulle doen nie niks in die kerk nie, hulle is in almal se pad. Hulle profiteer selfs.
            Hulle boer in die dobbelhole, maar huil nooit oor hul groot verliese nie. Niemand durf dit ook waag om by die mouloses te kom huil nie. Dit word nie geduld nie.
            Dit laat my dink aan die Isle of Wight langs die Engelse kus en die baie grotte daar.
            'n Man se geraamte is in een van hierdie grotte gevind. Hy was 'n prisonier wat ontsnap het. Hy het in die grot geskuil met die hoop dat hy saam met een van die skepe sou wegkom. Die goeie geleentheid het nooit gekom nie.
Hy kon nie waag om uit te kom nie. Sy krag het al minder geword. Sy lot was aaklig. So het hy eensaam gesterf. Hy het wel skuiling gevind, maar dit was 'n bedrieglike en noodlottige skuiling.
            Mense verlaat hulle soms ook op 'n bedrieglike en tydelike skuiling, bv. leuens of bedrog. 'n Kosbare lewe word geslyt in die gevaarlike skuiling van oneerlikheid. 'n Bedroewende skuiling is ook die oneerlike voorgee van Christenskap, om in kerklike kringe aanvaarbaar te wees, maar daar was nooit ware bekering en ontmoeting met Christus nie.
Nog 'n gevaarlike wegkruipplek is nuwe godsdiensbeskouinge, omdat dit 'n mens se lewenstyl beter pas. Dit laat ruimte vir sondige praktyke. Die bedrieglikste skuilplek is onkunde, wat jou met jouself tevrede laat voel, maar jou ewige sieleheil is in gevaar.
Ander skuil agter jarelange geheime... so asof hulle dit vir God kan wegsteek.
By die Wederkoms gaan jy summier agter bly, vir seker!
Die Nuwe Lewende Vertaling van die Bybel gebruik in 1 Kor 6:9 'n bekende woord aan mense wat tevrede voel om steeds met sondige praktyke voort te gaan: Moenie julleself bluf nie. Die sin word voorafgegaan met hierdie waarskuwing: Besef julle dan nie dat mense wat 'n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die Koninkryk van God nie?
            Ons het net één betroubare, blywende, ware skuiling: Die kruisdood van Jesus vir ons, en, ás 'n mens by daardie skuiling ingegaan het.
            Jesus het gesê, Hy het nie gekom om die Wet weg te neem nie, maar dit in vervulling te laat gaan... so word die Groot Gebod, die een van Liefde.
            Jesus het verwys na die Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.
“Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf.” Jak 2:8-9
            Jesus vra drie keer vir Petrus het jy My lief en Petrus antwoord ja... en die hoenderhaan kraai. Die verskil was Jesus het verwys na Goddelike liefde (Agapé) terwyl Petrus na menslike liefde (fileo) verwys het.
            Die kerk moet floreer in die Liefde. Die Liefde moet so oorheersend wees dat die ongereddes dit ook begeer en so tot redding kom.
            Liefde dra moue, ‘n skouer om op te huil, te treur. ‘n Skouer vir diegene wat hartseer is, wat pyn en lyding deurmaak.
            ‘n Skouer bied vertroosting en Liefde vir die seer. ‘n Vriend wat die Liefde het, verstaan, het medelye.
Weet dit: Ons gaan mekaar nog bitter nodig kry vorentoe.
            As jy mouloos in die gemeente sit en dink niemand weet van jou en jou geveinsdheid nie, weet net dat God weet.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
Komaan: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15 – Sjibbolet