Maandag 02 Julie 2018

Ware Liefde is Volmaak


Image result for love images


Net liefde kan ‘n herinnering skep. Net liefde kan ‘n oomblik vir altyd vasmaak, sing Nana Mouskouri. Sy sing van ware liefde.

Vergelyk dit met die situasie in jou eie huishouding: Vir jou kinders bedoel jy uit die ware liefde van jou hart, vrede en geluk en dit mag hulle dan ook heeltemal tereg, ryklik smaak, solank hulle gehoorsaam is.

Ouers wil graag in ware Liefde hulle kinders vervolmaak in elke goeie werk solank hulle die ouers se wil uitvoer. Ouers wil liefdevol hul eie talente, kennis, karakters en persoonlikhede vir hulle kinders beskikbaar stel om die kinders ten beste toe te rus vir die lewe wat nog voor hulle ooplê.

As kinders maar net wil luister en gehoorsaam wil wees, kan hulle hulself baie probleme, foute, ellende, verdriet, teleurstelling en ‘n gesukkel in die lewe bespaar.

Dit is ook in ‘n nog sterker graad die verhouding tussen Wedergeborenes en die Vader. Hy wil ons uit ware liefde vervolmaak in elke goeie werk om Sy wil te doen “deur in ons te werk” – as ons Hom net wil toelaat om in ons te werk!

Let op na die volgende verhaal:  'n Vrou is deur omstandighede gedwing om uit haar ouerhuis te vlug en trou toe met 'n man wat sy nie liefgehad het nie. Hy was 'n streng, veeleisende persoon, soms so onredelik, liefdeloos. Sy trots en hoogmoed het alles rondom hom vernietig.

Hy het haar gedwing om elke oggend vyfuur op te staan om sy ontbyt te berei en dit presies om sesuur aan hom te bedien. Sy moes hom volgens presiese, geskrewe reëls dien. Hy het haar lewe ongelukkig gemaak. Uiteindelik is hy dood. Na 'n paar jaar trou sy weer.

Hierdie keer trou sy met 'n man wat sy werklik liefhet. Sy was ook versekerd van die nuwe man se ware liefde. Hy het haar gereeld die hof gemaak, haar soos ‘n vrou laat voel. Jesus se liefde het geseëvier. Hy was ‘n ware Hooglied man, soos beskryf in Hooglied 2. Hy het sy Hooglied vrou bemin.

Sy was nou 'n gelukkige en ontspanne vrou, sonder vrees en angs in haar man se teenwoordigheid.

Op 'n dag maak sy die huis skoon en kom af op die lys van streng reëls wat haar vorige man vir haar uitgeskryf het en waarvolgens sy presies moes leef.

Sy lees dit: "Staan vyfuur op. Bedien ontbyt presies om sesuur." Aan en aan lees sy met beklemde hart.

Toe maak sy 'n wonderlike ontdekking en sy lag spontaan. Sy vervul steeds elkeen van daardie reëls in haar nuwe huwelik, maar sy het dit nie agtergekom nie, omdat sy haar nuwe man liefhet.

Daardie ware liefde is beskikbaar aan elke Wedergeborene deur die “God van Vrede!”

Alles was nie altyd wel tussen ons en God nie. Kol. 1:21 sê: “Ook julle wat vroeër vervreemd was en vyandig gesind deur die bose werke,” het Hy nou versoen.”

Ons was van nature ongehoorsaam en kinders van die toorn, aldus Efes. 2:2-3.

God het egter deur sy Seun, Jesus Christus vir ons vrede en redding bewerk, volgens Efes. 2:14-16. Deur die Wedergeboorte verkry ons nou die Ewige Lewe in Jesus Christus.

            Jy is nou ‘n “nuwe skepsel!” 2 Kor. 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

            Wie het dit gedoen? Strofes 18-19 “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.”

            Watse soort mense is ons nou? Strofe 20 “Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.” – Sjibbolet