Wys tans plasings met die etiket verdriet. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket verdriet. Wys alle plasings

Sondag 15 Julie 2018

Trane... wanneer jou siel ween

Ons sien dit op TV by die wêreld sokkerstryd... trane en nogmaals trane. Groot en klein huil bitterlik wanneer hul span verloor, selfs die spelers op die veld huil onbeskaamd. Ons wat nie so iets ken nie, verstom ons aan al die trane.
cid:image001.jpg@01D418FF.971E4EE0

Kyk baie mooi na hierdie foto. Dis trane by die Wedergeboorte...

As mense nou maar so wou huil oor die Ewige Lewe wat hulle nie het nie. En om te dink dat diegene wat gaan agterbly na die Wederkoms, ook so sal huil, bitterlik ween. Helaas.

Ons is op die rand van die laaste maar grootste Herlewing in die geskiedenis voordat Jesus kom. Ons wag daarvoor, ons loof die HERE daarvoor. Dit gaan groot wees. Ons het so iets nog nooit beleef nie. Die heerlikheid van God gaan ons verswelg.

As jy nie ook gereed is nie, luister intussen hierna:  https://www.youtube.com/watch?v=CkbhxAPadXQ  Die lied is geskryf deur die bekende pianis Charlotte Elliot net na haar Wedergeboorte. George Beverley Shea wat onlangs Huis toe is op ouderdom 104, het hierdie lied male sonder tal oor ‘n periode van 60 jaar by wyle Billy Graham se dienste gesing. Miljoene mense het tot redding gekom. Dit is Lied 203 in ons Hallelujaboek.

Hoekom is daar trane? Wat beweeg mens tot trane? Jy word diep ontroer... soms stort mens bitter trane weens swaarkry, weens smart en berou, weens teleurstelling. Daar is ook droë trane soos knaende berou hê, wanneer mens knaend treur.

Soms smeek jy: Droog tog my trane, iemand troos my... soms huil mens lang trane, wanneer jy baie spyt het oor wat hy gedoen het; soms swem mens in trane, wanneer jy baie, baie huil; soms gaan dit op die ou traan, dit gaan nog op die ou manier, soos altyd, en jy kom nie in die volheid van geestelike oorwinning nie... soms bly mens vol weemoed, In ‘n treurige gemoedstemming, melancholie en smart, en mistroostig.

Ook weemoed bring trane. Selfs heimwee en verlange bring trane... soos wanneer biologiese ouers en aanneemkinders na baie jare versoen; ook wanneer aangenome kinders na hul onbekende biologiese ouers verlang. Trane is wanneer die siel huil; wanneer die siel ween; God se goedertierenheid bring ook trane, trane van blydskap en vreugde, trane van oorwinning! Halleluja!

Dawid deurweek sy "bed met trane." Ps 6; en is dit sy "spys dag en nag." Ps 42. Jesaja se oog "is 'n fontein van trane." Jes 9; en Paulus "dien die HERE met baie trane." Hand 20

Jesus Christus het geween oor die sondes van Jerusalem. Oor die dood van sy vriend Lasarus het Hy gehuil. Aan die einde van Sy aardse lewe het al ons sondes vir Hom smarte en trane gebring.

Daar kom egter ‘n dag wat die trane verby sal wees. Johannes sê in Openb 7:  "God sal al die trane van hulle oë afdroog".  Johannes sien hier 'n menigte mense wat ... ja, nie huil nie ... maar jubel en juig. En die Engel berig dat die verlostes in die Hemel is. Openb 7:13-17

Trane en droefheid is ‘n beeld van lyding en smart ... van sonde en pyn. Trane is bestem vir hierdie lewe, nie vir die Hemel nie. Daarom sien Gelowiges met reikhalsende verlange uit na daardie dag. – Sjibbolet

https://www.youtube.com/watch?v=7Io4m6k9aRo









Maandag 16 Februarie 2015

Hoekom langer ‘n wurm wil wees?


Image result for little worm 




Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob …. Ek maak van jou ‘n skerp dorsslee
wat baie tande het. – Jes. 41:14-16.

Watter groter kontras kan daar wees tussen ‘n wurmpie en ‘n harde staal dorsslee?
            Die nietige wurmpie kan op velerlei wyses eensklaps vernietig word, terwyl die staalharde dorsslee vele dinge kan vernietig sonder om self vernietig te word.
En die Almagtige GOD kan die een in die ander verander!
            Hy kan een persoon ‘n volk maak en albei dus deel van die geskiedenis, terwyl van die wurmpie nooit weer gesien of gehoor sal word nie.
            Wanneer GOD aan ons ‘n wil van staal gee, sny ons ‘n pad deur enige weerstand, deur enige wildernis.
            “Ek maak jou…”  sê Hy, en inderdaad, Hy wil en sal dit doen!
            GOD is besig om Sy Koninkryk te bou. Hiervoor gebruik Hy die gebroke dinge. Die mens wil alles aanpak alleen met die sterkes, die suksesvolles, die triomfantelikes, die ongebrokene, die helde, om hul koninkryke mee te bou.
            GOD het nie Skrifgeleerdes, professore en doktore gebruik nie – nie dat hy hulle nie ook kan gebruik nie – maar eenvoudige ongeredde vistermanne, stamelaars, veewagters.
            Jesus sê Hy heel die gebroke harte. Die Hemel loop vol van die aarde se gebroke lewens.  Maar daar is geen geknakte riet wat Hy sal verbreek nie. Geen dowwe lamppit wat Hy sal uitblaas nie.
            Hy neem die lewens gekneus van pyn, verdriet en ellende en verander dit in Hemelse harmonieuse musiek vol lof.  Hy kan die aarde se mislukking ophef na ‘n glorieryke Hemel.
            Die HERE sê Hy woon in die hoogte en in die Heilige Plek, maar
Hy woon ook by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. Jes. 56:15.
            Mens moet dus nie na jouself kyk as bloot ‘n wurmpie nie. Kyk na wat GOD van jou wil maak! – Sjibbolet