Wys tans plasings met die etiket verstaan die Bybel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket verstaan die Bybel. Wys alle plasings

Maandag 23 Julie 2018

Die Woord wat nooit leeg sal terugkeer nie

Jacob Daniel DeShazer het na skool by die Amerikaanse weermag aangesluit, Hy was eendag besig om aartappels te skil toe hy verneem dat Japan Pearlhawe aangeval het. Hy het na daar besluit: “Hiervoor moet Japan boet!”

 
Jacob Daniel DeShazer

            Saam met talle ander het hy aangemeld om as vrywilliger aan ‘n spesiale sending deel te neem om Japan terug te slaan. Jacob is as bombardier opgelei met die rang van stafsersant. Hulle aanvalsmag is op 18 April 1942 onder leiding van Lt-Kol Jimmy Doolittle na Japan.

Hulle moes vanaf ‘n vliegdekskip opstyg of die aanval te loods. Hulle bombardeer Nagoya suksesvol maar sommige beland egter in moeilikheid en moes met valskerms na veiligheid spring. Van alle plekke op hierdie aarde val Jacob in ‘n begraafplaas en is beseer.

            Hy is deur die Japanese gevang en in die tronk ge­stop. Twee van sy makkers is deur ’n vuurpeleton doodgeskiet. ’n Ander een is deur stadige uithongering doodgemaak. Jacob DeShazer was ’n ongelowige; ’n uitgesproke ateïs.

Gedurende die lang maande van sy gevangeskap het hy begin peins oor die vraag: hoekom haat die Japanese hom so en hoekom haat hy die Japanese.

Dinge wat hy oor Christenskap gehoor het, het in sy gemoed begin terugkom. Hy het sy Japanese bewaarders vir ’n Bybel gevra. Eers het hulle hom uitbundig uitgelag asof dit ‘n grap is.  Toe word hulle kwaad.

Hulle het hom gewaarsku om sy onnodige lollery met ’n Bybel te staak. Hy het aanhou vra. Byna ’n jaar later, in Mei 1944, het ’n bewaarder in sy sel ingekom en vir hom ’n Bybel gegooi met die woorde: “Drie weke het jy hom. Drie weke, hoor, dan vat ek hom weer weg!”

Die be­waarder het woord gehou. Presies drie weke later het hy die Bybel by Jacob weggeneem. Jacob het vir die res van sy gevangeskap nie weer ’n Bybel te siene gekry nie.

In 1948, na die vrede, was Jacob Daniel DeShazer, sy vrou en seun op pad terug Japan toe – as sendelinge! Dit was die vrug van die Bybel wat die Japanese bewaarder vir drie weke aan Jacob gegee het!

            Die Skrif het groot krag. “Die hele Skrif kom van God af…”2 Tim.3:15. Die Heilige Gees vertolk die Skrif wat ons lees aan ons hart. In ons hart word dit ’n lewende, herskeppende krag.

“Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike saad: die Lewende en Ewige Woord van God… En hierdie woord is die Evangelie wat aan julle verkondig is.”1Pet.23,25

Liewe leser, jy het nie nodig om jou lewe te waag nie. Versprei net Bybels. God doen die res. Besoek een van ons medewerkers se webblad http://www.thesower.org.za/vol%20indeks%20blad.htm en begryp hoekom die Bybel steeds die grootste verkoper ter wêreld is. Doen dit vir Jesus en vir die verlorenes – Sjibbolet .

Maandag 08 Februarie 2016

Die Kosbaarheid van die Bybel


Image result for prent van die bybel


... en  “JOU”  Bybel?
In The Living Power of God's Word vertel Dennis M. Mulder, wat geestelike werk onder die Chinese doen, dat hy in 'n kerk in Shangai langs 'n vrou, in haar midde sestiger jare, sit.
Die aandagtige wyse waarop sy na die preek luister en die eerbiedige manier waarop sy die sangbundel hanteer, tref hom.

Wat hom aangryp is haar verminkte hande. Dit lyk of haar vingers, teen mekaar gestrengel, versteen het.
Na die diens vra hy: "Het jy 'n Bybel?" Verras dat hy haar in haar eie taal aanspreek, met 'n gretigheid in haar houding, antwoord sy nederig: "Nee, ek het nie 'n Bybel nie."
Hy is nie verbaas oor haar antwoord nie, want hy weet dat daar in die hele kerk net ‘n paar Bybels beskikbaar is.

"Ek vetrek môre," gaan Dennis verder, "en ek het twee Bybels in my hotelkamer. Kan ek dit vir jou en een van jou vriende gee?" Sy is dadelik gewillig. Saam stap hulle na sy hotel toe. Hy vra haar na haar hande.

            "Gedurende die kulturele rewolusie hier in ons land," vertel sy, "het die Rooi Wagte my huis binne gekom en deursoek vir Bybels. Ek het my Bybel in die koue as van my stoof weggesteek, maar hulle het dit daar gekry.

“Een van die wagte het dit in sy hande gehou, maar ek het dit uit sy hande gegryp en teen my vasgedruk. 'Gee vir ons daardie boek vol mites!' het hulle geskreeu, maar ek het dit vasgeklou. 'Ek kan dit nie vir julle gee nie,' het ek terug geskreeu. 'Dis al wat ek het om my van Jesus, my Here, te vertel'

“Hulle het kwaad geword en my buite toe gesleep en my klere van my afgestroop. Hulle het die omstanders beveel om my te beledig en op my te spuug.

Na ure in die warm son het hulle weer geskreeu: 'Gee daardie boek!' Ek het weer geantwoord: 'Ek kan dit nie prysgee nie. Dis al wat ek van Jesus, my Here en Verlosser, weet.'

Hulle het my op die sypaadjie platgegooi. Een van hulle het sy voet op my nek gesit en die ander drie het met loodpype oor my hande begin slaan. Hulle het aangehou totdat daar geen gevoel meer in my hande was nie. Die Bybel het uit my hande, in die stof op die sypaadjie, gegly. Die skare het gejuig. Dit was die laaste keer dat ek 'n Bybel in my hande gehou het."

            Dennis sê dit het hom net minute geneem om na sy hotelkamer toe te gaan en die twee Chinese Bybels te bring.

Sy kon nie praat nie. Sy het net met groot, traangevulde oë na hom gekyk. Sy het omgedraai en in die stroom van verbygangers verdwyn.

Hy het haar nooit weer gesien nie, maar hy skryf: "Daardie dag in Shangai het ek gesien hoe waardevol die kosbare Woord van God vir iemand kan wees.”   Ons is maklike besitters van Bybels. Hoe kosbaar is die Woord vir ons? The Baptist Challenge skryf dat 'n opname aan die lig gebring het dat 23% van mense wat 'n Bybel het, dit nie lees nie. Net 18% van belydende Christene het gesê hulle lees die Bybel elke dag, 18% het gesê hulle lees dit van drie tot ses keer per week. Bybellesers het gesê hulle bestee gemiddeld 22 minute per dag aan die lees van hulle Bybel.

            Die Bybel is die voedingsbron van ons geestelike lewe. Petrus verwys na die "onvervalste melk van die woord." 1 Pet 2:2.
Christus het gesê: "Daar is geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom." Matt 4:4
"...sal jy 'n goeie dienaar van Jesus Christus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy 'n aanhanger geword het." 1 Tim 4:6

Enigiemand wat ‘n Bybel verlang, kan skryf aan: webmeester@thesower.org.za  (Slegs Afrikaans en Engelse Bybels (OAB) en net in RSA - Net vir individue, geen organisasies)

As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA – Sjibbbolet

Maandag 27 April 2015

Hoe om die Bybel te lees en te verstaan.


Image result for george mueller 



George Mueller was ‘n Pruis wat in Kroppenstaedt gebore is op 27 September 1805. Hy is na die Hemel op 10 Maart 1898, so kort voor sy 92e verjaardag. Hy het die groot Herlewing beleef wat in 1859 uitgebreek het en waarin honderde duisende mense gered is. Hy was 66 jaar lank predikant van die onafhanklike Calvinistiese Baptistekerk in Bristol, Engeland.

Mueller het reg  deur sy vrugbare lewe, gebede en geloof 'n groot weeshuis in Bristol in stand gehou. Hy vertel self hoe hy sy stiltetyd gehou het.

“Vroeër het ek in my binnekamer dadelik begin bid. Nou lees en oordink ek eers die Here se Woord. Ek lees die Woord van vooraf deur, maar elke oggend minstens een hoofstuk uit die Nuwe Testament. Eers vra ek die Here om my deur die werking van sy Heilige Gees deur die Woord te seën. Dan lees ek stadig en aandagtig. 'n Woord of gedagte of teks wat my aanspreek oordink ek.

“So praat die Here deur Sy Woord met my. Hy bemoedig my, of waarsku my, of ek raak oortuig van 'n verkeerde ding wat in my lewe is. Dit bring mee dat ek in die midde van my Bybellees 'n sonde bely, of ek dank die Here vir 'n seën waaraan ek nie voorheen gedink het nie. Of 'n teks gee my vrymoedigheid om iets van die Here te vra. Die Woord laat gebed in my hart ontwaak en terwyl ek voortgaande lees, bid ek vir myself of vir ander mense of vir die Here se werk.

“Dit het 'n groot verskil in my stiltetyd gemaak. Ek kon voorheen lank op my knieë wees, sonder om te ondervind ek is met die Here in aanraking. My gedagtes het afgedwaal en eers na 'n lang ruk het ek besef ek is mos besig om te bid. My stiltetyd het nou 'n gespreksvoering tussen die Here en myself geword. Ek word meer en meer bewus van die Persoon van die Here. "Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie" (Rom.8:26).

Ons het weer ‘n magtige Herlewing nodig. In jou stiltetyd en in gebedsgroepe, waar ook al, bid asseblief sonder ophou vir die Herlewing. – Sjibbolet