Maandag 08 Februarie 2016

Die Kosbaarheid van die Bybel


Image result for prent van die bybel


... en  “JOU”  Bybel?
In The Living Power of God's Word vertel Dennis M. Mulder, wat geestelike werk onder die Chinese doen, dat hy in 'n kerk in Shangai langs 'n vrou, in haar midde sestiger jare, sit.
Die aandagtige wyse waarop sy na die preek luister en die eerbiedige manier waarop sy die sangbundel hanteer, tref hom.

Wat hom aangryp is haar verminkte hande. Dit lyk of haar vingers, teen mekaar gestrengel, versteen het.
Na die diens vra hy: "Het jy 'n Bybel?" Verras dat hy haar in haar eie taal aanspreek, met 'n gretigheid in haar houding, antwoord sy nederig: "Nee, ek het nie 'n Bybel nie."
Hy is nie verbaas oor haar antwoord nie, want hy weet dat daar in die hele kerk net ‘n paar Bybels beskikbaar is.

"Ek vetrek môre," gaan Dennis verder, "en ek het twee Bybels in my hotelkamer. Kan ek dit vir jou en een van jou vriende gee?" Sy is dadelik gewillig. Saam stap hulle na sy hotel toe. Hy vra haar na haar hande.

            "Gedurende die kulturele rewolusie hier in ons land," vertel sy, "het die Rooi Wagte my huis binne gekom en deursoek vir Bybels. Ek het my Bybel in die koue as van my stoof weggesteek, maar hulle het dit daar gekry.

“Een van die wagte het dit in sy hande gehou, maar ek het dit uit sy hande gegryp en teen my vasgedruk. 'Gee vir ons daardie boek vol mites!' het hulle geskreeu, maar ek het dit vasgeklou. 'Ek kan dit nie vir julle gee nie,' het ek terug geskreeu. 'Dis al wat ek het om my van Jesus, my Here, te vertel'

“Hulle het kwaad geword en my buite toe gesleep en my klere van my afgestroop. Hulle het die omstanders beveel om my te beledig en op my te spuug.

Na ure in die warm son het hulle weer geskreeu: 'Gee daardie boek!' Ek het weer geantwoord: 'Ek kan dit nie prysgee nie. Dis al wat ek van Jesus, my Here en Verlosser, weet.'

Hulle het my op die sypaadjie platgegooi. Een van hulle het sy voet op my nek gesit en die ander drie het met loodpype oor my hande begin slaan. Hulle het aangehou totdat daar geen gevoel meer in my hande was nie. Die Bybel het uit my hande, in die stof op die sypaadjie, gegly. Die skare het gejuig. Dit was die laaste keer dat ek 'n Bybel in my hande gehou het."

            Dennis sê dit het hom net minute geneem om na sy hotelkamer toe te gaan en die twee Chinese Bybels te bring.

Sy kon nie praat nie. Sy het net met groot, traangevulde oë na hom gekyk. Sy het omgedraai en in die stroom van verbygangers verdwyn.

Hy het haar nooit weer gesien nie, maar hy skryf: "Daardie dag in Shangai het ek gesien hoe waardevol die kosbare Woord van God vir iemand kan wees.”   Ons is maklike besitters van Bybels. Hoe kosbaar is die Woord vir ons? The Baptist Challenge skryf dat 'n opname aan die lig gebring het dat 23% van mense wat 'n Bybel het, dit nie lees nie. Net 18% van belydende Christene het gesê hulle lees die Bybel elke dag, 18% het gesê hulle lees dit van drie tot ses keer per week. Bybellesers het gesê hulle bestee gemiddeld 22 minute per dag aan die lees van hulle Bybel.

            Die Bybel is die voedingsbron van ons geestelike lewe. Petrus verwys na die "onvervalste melk van die woord." 1 Pet 2:2.
Christus het gesê: "Daar is geskrywe: 'n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom." Matt 4:4
"...sal jy 'n goeie dienaar van Jesus Christus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy 'n aanhanger geword het." 1 Tim 4:6

Enigiemand wat ‘n Bybel verlang, kan skryf aan: webmeester@thesower.org.za  (Slegs Afrikaans en Engelse Bybels (OAB) en net in RSA - Net vir individue, geen organisasies)

As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA – Sjibbbolet