Sondag 07 Februarie 2016

Hou deurentyd jou oë en hoop op God.



In 1760 verlaat die 13-jarige John Paul Jones sy tuiste in Arbigland, Skotland, om by die bemanning van die Friendship, 'n tweemas seilskip, in die Britse hawe, Whitehaven, aan te sluit.
 

John Paul Jones

Omstandighede op die skip, was eintlik bietjie knap vir die Atlantiese seevaart. Dit was moeilik, vertel Terry Livingstone en David A. Sargent, die storie, op hulle Internetrubriek.
Die leefruimte was knap, die lugsirkulasie swak, die kos gemuf en die water skaars. Die werk op dek was moeilik: gedurig moes die maste gestut en die seilposisies verander word.
Kaptein Robert Benson, van die Friendship, het die vaart vir jong John Paul Jones egter die moeite werd gemaak. Hy het hom op dek geneem en hom geleer om met die oktant (hoekmeetaparaat) die ligging van die hemelliggame, son, maan en sterre, bokant die horison, vas te stel en dan so die skip se lengte- en breedtegraadposisie te bepaal.
Die seun het met groot ywer die sterremeting en talle ander ingewikkelde besonderhede oor die hantering van seile en toue en hoe om 'n groot skip veilig te laat seil, bestudeer en bemeester.
            'n Paar jaar later, in 1767, in Kingston, Jamaica, na sy soveelste oseaanvaart, besluit hy om na Skotland terug te keer. Kapt. Samuel McAdam, van die seilskip John, bied hom 'n vernietvaart na Kerkcudbright, 'n hawe naby sy tuiste, aan.
            Onderweg word kapt. McAdam, sowel as die skip se eerste offisier, siek en sterf aan koors. Niemand anders op die skip weet hoe om die skip te navigeer nie.
            Skielik was die John 'n skip sonder koers en uit die rollende branders en deinings was dit onmoontlik om die koers te bepaal. Gelukkig, vir almal op die skip, was jong John Paul Jones 'n passasier op die skip. Hy het geweet: om die skip op koers te kry, moes hy na bo, na die hemel, kyk.
Eerw. David A. Sargent vertel: “John het geweet dat om by die hawe te kom, hy Hemelwaarts moes kyk. Met sy oktant het hy die hemele bestudeer want hy kon al daardie tekens vertrou.
“Hulle was in die nag in ‘n stormsee vasgevang, maar John kon vir hulle die rigting van die vaart aandui. Om in ‘n stormsee honderde seemyle op die oop see vasgevang te wees en boonop in die nag, en sonder rigting, is doodsake. Die rigting wat John vir hulle via die hemelliggame aangedui het, het hulle veilig tuis laat aankom.”
Die eienaars van die skip was so in hulle skik met die 21-jarige jongman se prestasie, dat hulle hom sy eerste posisie as kaptein van 'n skip aangebied het.
Gou was hy eskaderleier in die Amerikaanse oorlogsvloot. Hy het nooit 'n neerlaag gely nie.
Hy is begrawe by die kapel van die Amerikaanse Vlootakademie  in Annapolis, Maryland. 'n Opskrif by sy graf lui: "Admiral John Paul Jones gave our navy its earliest tradition of heroism and victory."
            Hierdie seun het geleer om sy aardse koers te kry en groot belonings te bereik, deur op te kyk hemel toe. Die onbeweeglike hemelliggame, en nie die veranderlike aardse seebranders nie, was vir hom in sy skeepsvaart betroubare riglyne.
Die een oomblik was daardie skip vasgevang in ‘n nagtelike stormsee, totaal rigtingloos. Dan bepaal John die rigting deur die betroubare hemelliggame te ontleed.
Abraham was skatyryk. Hy leef op vrugbare aarde met sy mense en sy diere... Dan skielik die opdrag: Pak op en trek (van alle plekke) deur die woestyn. Hy is gehoorsaam en begin trek. Hy weet nie waarheen nie, maar hy hou sy oë en hoop op die HERE en bereik die nuwe bestemming veilig.
"Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het…. en Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies… en sy tente tot by Sodom opgeslaan." Gen 13:10,11,12.
Abram het na die Here gekyk: "En die Here sê vir Abram: 'Slaan tog jou oë op en kyk… die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee…" Gen 13:14-18
            Ons het ook 'n oktant om vir ons die hemel se koers te bepaal: die Bybel. Die Heilige Gees rig ons gedagtes as ons, ons lewenskoers soek uit God se Woord.
            Ons kan nie die pad na die Nuwe Jerusalem stap sonder om ons oë en hoop op God gevestig te hou nie.
            "Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het… Omdat dit Sy wil was, het God ons deur die Woord van die Waarheid tot die Lewe gebring…. " Jak 1:17
            Wees dankbaar en loop oor van lofprysinge tenoor God omdat ons weet waarheen ons op pad is en saam met Wie, maar dink aan die ander wat nie hierdie oortuiging en sekerheid het nie en bring aan hulle die Evangelie van Jesus Christus.
            Bid ook vir ‘n magtige Herlewing in Suid-Afrika. – Sjibbolet