Woensdag 17 Februarie 2016

Eers nà Golgotha is ons God se Volk!


Die Genealogiese Genootskap het tien takke in Suid-Afrika. Veral sedert 1994 is mense in toenemende maat besig om hulle stamregisters na te vors.  Daar is ook ‘n Genealogiese Instituut op Stellenbosch.
          Hulle spandeer baie kosbare tyd  oor lang periodes opsoek na hulle bloedlyne en wortels. Die tendens kom wêreldwyd voor gesien die bedrywigheid op relevante Internet webwerwe.
          In SA is daar ‘n sterk toename in mense wat hulle stambome navors.
          Eintlik is dit alles tevergeefs. Eers nadat jy by Golgotha was en die Wedergeboorte deelagtig geword het, is jy lid van God (Yahweh)se Volk.  Niks van jou geskiedenis tel meer enige punte nie.
          Selfs jou sondes is in die dieptes van die see gewerp, so ver soos die Ooste verwyder is van die Weste, en God belowe om dit nooit weer teen jou in te bring nie.
          God noem jou nà die Wedergeboorte: ‘n Nuwe Skepsel, in 2 Kor. 5:17.
          Jak. 1:18 lees:  Volgens Sy wil – het Hy ons voortgebring – deur die Woord van die Waarheid – sodat ons as eerstelinge van Sy skepsele kan wees.
          Wanneer Paulus uit Efese vertrek, los hy Timotheus agter met die opdrag:  Om sekere persone te beveel dat hulle geen ander leer moet leer nie, en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder, meer as stigting van God wat in die geloof is.
          Voeg hierby Titus 3:9:  Vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor die wet, want dit is nutteloos en doelloos.
          Voeg hierby Mat. 15:1-20 wat handel oor die oorlewering van die ou mense wat nie langer van toepassing is nie.
          Die waarheid is: As iemand in Christus is, dan is hy of sy ‘n Nuwe Skepsel — jy is weer gebore!
          Wanneer die Wederkoms plaasvind sal jou hele aardse geslag agterbly as ook hulle nie by Golgotha was nie!
          Nà Golgotha is jy ‘n Nuwe Skepsel. Eers dan is ons Sy VOLK. Ons is Sy eiendom. Ons is Sy Erfgename. Ons is Sy medewerkers. Ons is Sy Gemeente. Ons is Sy Bruid. Ons het die Ewige Lewe.  Ons is oppad na die Nuwe Jerusalem – Openb. 2.
          Maar, voordat ons by die Nuwe Jerusalem uitkom, het ons ‘n opdrag en ‘n roeping om uit te voer:  Diensbaarheid!
          Ons is nie gered om Hemel toe te gaan nie, ons is gered om die Koninkryk van God te bou. Daar is diegene wat  beweer dat hierdie taak uitsluitlik aan die herders van gemeentes opgedra is.
Nee, elkeen van ons is geroep tot diensbaarheid! Ons moet Christus se werk voltooi...
“En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die Hemel en op Aarde.
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
“En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. Matt. 28:18-20
          Daarom is daar ook aan elkeen van ons toerusting gegee om die taak mee te verrig. Daar staan ook nie geskryf dat ons geboue moet oprig, dit kerke moet noem en dan daar binne moet bidure hou waarin ons bid en smeek: “Here, stuur die siele in,” nie.
          Die opdrag is elke keer dat daar uitgegaan moet word om die siele in te bring, uit te vaar na die diep kant van die lewe toe en  nette der nette vol in te bring.
          “Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die Woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.” Mark 16:20
          “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.” Joh. 20:21
          Die Bybel leer dat die Vader die wedergeborenes as 'n werkende vennoot in Sy planne en werke beskou. God en Abraham tesame het 'n groot “nasie” (Israel) geskep. God en Moses het saamgespan om vir ons die Tien Gebooie te gee wat die grondslag van alle siviele en sedelike wette vandag is.  Dit is deur God en Moses tot stand gebring.
Jesus self was 'n vennoot van die Vader in die werk van verlossing.  Hy sê:  “Het u nie geweet dat Ek in die dinge van My Vader moet wees nie?” Luk 2:49
Paulus, die ywerige en bekwame sendeling, versoek alle Christene om te onthou dat ons gered is om te dien. “Wees nie traag in die ywer nie, wees vurig van gees, dien die Here.” Rom 12:11
          Ons kan ware kinders van God wees, maar die vraag is of ons, ons  lewens  in totaliteit aan Hom oorgegee het. Is ons nog in beheer van sekere sektore van ons lewe, of is God  Heer en Meester van ons ganse  bestaan? Hy sê Hy is ‘n jaloerse God. Hy wil volle beheer hê. Hoe gouer dit gebeur, hoe  gouer begin ons floreer.
          Die rede hoekom ons nie by die sterwe in Christus uitkom en waarom ons nie groei en floreer nie, is omdat ons nie self die Bybel bestudeer nie. Ons gaan eerder ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. So sit ons dan ook keer op keer onwaardig by die Nagmaaltafel aan en kan nie begryp waarom ons sake nie floreer nie.
          Wanneer ons onwaardig by die Nagmaaltafel aansit, dan drink ons ‘n oordeel oor onsself.
          Maar as ons die Vader opreg en aktief dien, dan kan ons ook verwag om die Vader aktief in ons lewens te sien, dan kan ons God se seëninge verwag, dan kan ons oorvloed verwag.
          Wanneer ons onsself aan God oorgee, begin ons 'n sake vennootskap met God.  Ons word ons “medewerkers van God”. 'n Vennootskap met God is 'n saak waarin God die kapitaal voorsien en ons die arbeid. Hy voorsien die wysheid, die mag en die middele (finansies, ens.) en ons verskaf die diensbaarheid.
          Daardie vennootskap word ook weerspieël in ons huwelike. ‘n Huwelik is ‘n drieledige Verbond tussen man, vrou en God. ‘n Verbond is ‘n kontrak, dit mag nie verbreek word nie en God  sê self dat, wat Hy saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Wat op die aarde gebind is, is ook in die Hemel gebind. Die huwelik is en bly ‘n Goddelike instelling.
          Daardie vennootskap moet ook in ons gemeente geld.
          So is ons wedergeboorte ‘n Goddelike instelling. Ons moet weier dat enigiets of enigiemand daardie verhouding, daardie Verbond, tussen ons en ons Skepper, ons Vader, verbreek.
          God wil Homself betuig en Hy het ons uitverkies as 'n kanaal deur wie Hy Sy mag en besluite kan betuig.
          Ons is geroepe diensknegte en getuies – medewerkers  –  God wil nie Sy werk voltooi sonder om die mens te gebruik nie.
          “Ek sal jou die sleutels van die Koninkryk van die Hemele gee, en wat jy ook op die aarde mag ontbind sal in die Hemel ontbonde wees.” Matt 16:19
God is die enigste Eienaar van Sy saak. Hy besit die planeet Aarde Ps 24:1;  50:10, ook al die rykdomme Hagai 2:8; Hy besit ons lewens (sien Rom 14:8); God, in Sy goedertierenheid het elke mens ryklik bedeel met sekere gawes, talente en moontlikhede.  Die dinge moet nie selfsugtig of tot ons eie voordeel aangewend word nie, maar tot verheerliking van God en die vestiging van Sy Koninkryk.
En moenie jou pligte probeer ontduik deur te beweer dat jy gewen gawes ontvang het nie, want jy het... en jy het beslis ‘n verantwoordelikheid teenoor God, jou gemeente en jou gemeenskap.
          “Doen alles tot verheerliking van God.” 1 Kor. 10:31
          “Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in jul liggaam en in jul gees wat aan God behoort.” 1 Kor. 6:19-20.  Ons is rentmeesters van die gawes wat God ons gegee het.
          Ons is rentmeesters van ons tyd. “Koop die tyd uit omdat die dae boos is.”  Ef 5:16.  Moenie jou tyd verkwis nie. Ons is rentmeesters van ons talente. Jesus het 'n harde oordeel uitgespreek oor die man wat uit vrees sy talent begrawe het. Lees aandagtig Matt 25:28-30.
          Ons is rentmeesters van ons geld. Geld is 'n gawe van God en moet tot Sy eer gebruik word. 1 Tim. 6:10
          Ons is ook rentmeesters van die Evangelie. Die roeping om die grootste nuus op Aarde te verkondig, is aan die verlostes gegee.
          “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.”  Hand 1:8.
          Die Heilige Gees is die Gees van God. God woon en leef in die gelowige. “Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is, God bly in hom en hy in God.” 1 Joh 4:13-17.  Die Heilige Gees is Krag.  Hy is die Krag van God in die lewe van elke gelowige.
          Die doping in die Heilige Gees is die werking van die Heilige Gees in die gelowige se hart soos op die dag van Pinkster, m.a.w. bekragtiging tot diens.
          Nêrens in die Woord van God is daar 'n bevel dat Hy Sy magtige seëning op Pinksterdag beëindig het nie, maar die belofte lees steeds: “Want die belofte kom julle toe en jul kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”  Hand 2:39
          Voor die dag van Pinkster het die dissipels uit vrees vir die owerhede gevlug. Na Pinkster het hulle die troon van die Romeinse Ryk geskud.  Hand 17:6
          Maar hulle het hierdie seën nie vir hulself gehou nie. Hulle het uitgegaan en gespreek en duisende het hulle bekeer. Hulle het geleef en gesterf tot verheerliking van die Evangelie en het die hele wêreld geskud.
          God verlang manne en vroue vandag wat gevul is met die Heilige Gees om soortgelyke werke te doen.
            Enigiemand wat ‘n Bybel verlang, kan skryf aan: webmeester@thesower.org.za  (Slegs Afrikaans en Engelse Bybels (OAB) en net in RSA - Net vir individue, geen organisasies)
          As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com
          Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA – Sjibbolet
Die twee soldate...
In ‘n Britse hospitaal tydens Wêreldoorlog 11, lê ‘n soldaat ernstig gewond. Sou hy gesond word? Hy was ongered, tel ‘n Bybel langs sy bed op en begin lees. Hy lees dat Jesus leef en dat Hy genees en hy kom agter dat die Bybel 100% op datum is met alles.
            Omdat Derek Prince in daardie stadium ‘n filosoof en soldaat was, het hy Efesiërs se verduideliking van die wapenrusting deeglik begryp.
            Hy het Jesus as Saligmaker aangeneem, die HERE vertrou vir sy genesing en is op 88-jarige ouderdom Huis toe. Hy was een van die mees bekende Skrifgeleerdes van sy tyd.      
            Daardie Bybel wat iemand langs sy bed neergesit het, het die ommekeer tot gevolg gehad.
            In ‘n ander Britse hospitaal was  'n erg beseerde lugmagman... ook tydens Wêreldoorlog II.
Nadat die dokter sy wonde verbind het, sê die gewonde man vir die lugmagman in die ander bed: "Maat, jy kan 'n ou nie dalk met bietjie godsdiens help nie? Ek het groot geskrik, jy weet."
"Jammer, jong," antwoord die ander man, "ek sal nie kan nie. Maar elke Donderdag kom 'n vrou hierlangs met Bybels en traktaatjies, sy sal jou help."
“Dalk is ek Donderdag nie meer hier nie," sê die eerste man. "Jy kan nie dalk vir my net iets sê nie?"
Die tweede een skud net die kop. Na 'n rukkie sê die eerste man weer: "Ek het gelê en dink. Ek weet nie of dit in die Bybel is en of dit net 'n lied is nie, maar dis iets soos: Laat die kindertjies na My toe kom, want die Koninkryk van die Hemel is hulle s'n."
"Ja, dis definitief in die Bybel," antwoorde die tweede een.
"As Jesus Christus wou hê die kindertjies na Hom toe moes kom, dink jy Hy sal my darem ook vat? Ek het Hom baie nodig, jy weet. In elk geval ek gaan probeer en Hom vra."
Hiermee trek hy die laken oor sy kop. Die laken het nie weer afgekom nie. Sy liggaam is later net verwyder.
            'n Lugmagkapelaan vertel die storie op 'n dag vir 'n groep lugmagmanne in Kingston, Ontario. Na die samekoms kom vra een van die vlieëniers vir hom: "Eerwaarde, dink u daardie man het enige kans gehad?"
Die kapelaan vertel in die storie, in Prairie Pastor en het geantwoord: "Hy het geen kans hoegenaamd gehad nie, hy had net ‘n absolute sekerheid.”
            Jesus self het gesê: "Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie... Dit is die wil van My Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die Ewige Lewe sal hê." Joh 6:37,40.
            Siele word steeds gered en baie moet nog gered word, doen jou deel... bid en getuig sonder ophou.
            Enigiemand wat ‘n Bybel verlang, kan skryf aan: webmeester@thesower.org.za  (Slegs Afrikaans en Engelse Bybels (OAB) en net in RSA - Net vir individue, geen organisasies)
            As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com
            Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA – Sjibbolet