Saterdag 20 Februarie 2016

Wees getrou in die minste...


Image result for Mooi Bybel prentjies

'n Gewone Macedoniese soldaat het op 'n dag voor Alexander die Grote 'n muil, belaai met 'n vrag goud, gelei. Die muil het onder die swaar vrag moeg geword en gaan lê.
Die soldaat het die kosbare vrag afgetel, dit op sy skouers gesit en dit self begin aandra. Alexander het hom dopgehou en gesien hy begin ook onder die gewig struikel.
Hy was op die punt om die sak goud op die grond neer te gooi toe Alexander hom toeroep: "Manskap, moenie opgee nie. Dra dit tot by jou tent dan is dit joune. Ek gee dit vir jou."
Dis onnodig om te sê met watter nuwe krag en moed die man die kosbare vrag, wat hom ryk sou maak, verder gedra het.
            “Mooi so, jy is 'n goeie dienskneg. Omdat jy in 'n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede." Luk 19:17
            Die arbeid vir die Here se Koninkryk is ook 'n veeleisende taak. Die vrag wat gedra moet word, word ook soms swaar.
Ons Koning wat Sy eie las tot die bloedige einde gedra het, bemoedig ons: "Volhard, dit is tot jou eie rykdom."
God beloof om Sy dienskneg wat Hom getrou dien, ryklik te beloon. Die loon oortref die arbeid. In Jesus se gelykenis het die kneg met sy een geldstuk tien ander geldstukke gewin. Maar sy beloning was tien stede!
Die een kneg het niks vir sy Heer gedoen nie. Hy moes leë hande staan. Ons kan ons arbeid vir die Here nie bepaal deur dit met dié van ander te vergelyk nie, want: "Die Heer het aan (elkeen van Sy knegte) volgens sy bekwaamheid gegee." Matt 25:15.
Ons weet self of ons die Here na die beste van ons vermoë dien, en of ons, wat God se belange betref, maar laat slap lê.
            Ons kan die wonderlike grootte van ons beloning, omdat ons God gedien het, nie bereken nie. Redding, vergifnis, saligheid is God se gawes aan ons. Ons kan nie sondevergifnis en saligheid verdien nie. God gee dit op grond van die Here Jesus se reddingsverdienste.
Die loon eendag word egter verdien. Dit is God se bonus aan Sy getroue kinders. "...die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is." 1 Kor 3:14,15.
Paulus bemoedig die gelowiges wat hartlik die Here se koninkryk bevorder: "Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Die swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en ewig bly." 2 Kor 4:16
            "Maar julle sal krag onvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem...tot in die uithoeke van die wêreld." Hand 1:8
            Die Bostonse leraar, dr. A. J. Gordon, besoek die wêreldskou in Chicago, skryf Robert L. Sumner in sy boek Biblical Evangelism.
Die krag van 'n man, in Oosterse drag, wat sonder om te rus of sy gemaklike aksie te verander, vir ure lank 'n pomp se slinger draai en 'n dik stroom water laat uitspuit, beïndruk Gordon. Hy stap nader. Dit is 'n houtpop!
Dit is nie hy wat die pomp draai nie, dit is die waterstroom wat die pomp draai en hom aan die gang hou. Sumner maak sy gevolgtrekking: "Thus it is with those in the Lord's work. It isn't our efforts for Him that achieve the results. The flowing river of the Holy Spirit, channeled through our lives and lips keeps us going and yields infinite results through our ministries."
            Ons voel swak en moeg, ons gee moed op, maar 'n groter krag, hou ons aan die gang om die HERE se werk te doen. Dit is wat die HERE vir Paulus, onder groot beproewing, gesê het: "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is." 2 Kors 12:9
Aan die Efesiërs skryf Paulus: "Ek bid dat Hy deur Sy Gees uit die rykdom van Sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte kan woon..." Efes 3:16
Vir die Kolossense bid hy: "Mag God wat oor die mag en die heerlikheid beskik, julle versterk en... die krag gee om in alle omstandighede... te volhard." Kol 1:11.
Siele gaan verlore en dit is elke Gelowige se roeping om hulle in te bring.
“Indien jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik –besoek www.thesower.org.za”
As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com
Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA – Sjibbolet