Woensdag 10 Februarie 2016

Jou woord is jou eer!

Moenie ooit jou woord breek nie
Sir William Napier, ‘n Britse militaris, historikus en skrywer, gaan een aand stap. Hy kom af op 'n klein meisietjie wat bitterlik staan en huil.




Sir William Napier  1785 - 1860

Hy had ‘n goedige geaardheid, en hy gaan sit op sy hurke by haar, om te hoor waarom sy so huil. Sy vertel haar ouers is baie arm. Sy is gestuur om te gaan melk koop. Sy het gestruikel en geval en al die melk is vermors. Daar is nie geld vir ander melk nie.
Sir William staan op, streel oor haar koppie en vee haar trane met sy eie spierwit sakdoek af. "Moenie huil nie, kindjie, hier gaan koop vir jou 'n ander kannetjie melk."
'n Blye glimlaggie breek deur. Hy steek sy hand in sy sak om sy beursie uit te haal. Sy gesig val. Hy het nie sy beursie by hom nie!
            Verleë sê hy: "Ag, kindjie, ek het nie geld by my nie. Maar môre­aand, dieselfde tyd, kry ons twee mekaar hier. Ek bring vir jou geld vir genoeg melk. Sê vir jou mamma en pappa."
Tuisgekom, kom sy vrou hom met 'n breë glimlag tegemoet. In haar hand het sy 'n pragtige vergulde uitnodigingskaartjie. Baie lank al wag Sir William vir 'n uitnodiging na só 'n onthaal. Dit kon sy loopbaan 'n hupstoot gee.
Opgewonde neem hy die kaartjie en lees dit vinnig deur. Dit is vir die volgende aand en dit is dieselfde tyd wat hy beloof het om die meisietjie te ontmoet.
Tot sy vrou se verbasing skud hy sy kop. "Nee, ek kan nie gaan nie. Ek het reeds 'n afspraak." Hy vertel haar van die meisietjie.
Sir William het die gulde geleentheid van die hand gewys, om sy belofte aan 'n klein, arm meisietjie na te kom.
Dis wat tradisie, maar ook die Bybel leer: Hou by jou woord!
            “So waar as God getrou is – ons woord tot julle was nie ja en nee nie!
            “Want die Seun van God, Jesus Christus, wat deur ons onder julle verkondig is, deur my en Silvánus en Timótheüs, was nie ja en nee nie, maar was ja in Hom.
            “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” 1 Kor 18-20
            In skrywer se kinderjare was volksgenote erg daarop gesteld dat mens jou woord moet hou en dat jy dit nooit mag verbreek nie. Die Bybel sê ook so...
“As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.
“Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.
“Laat jou mond nie toe om op jou liggaam 'n sondeskuld te laai nie, en sê nie voor die gesant van God: Dit was 'n vergissing nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?” Pred 5:3-5
            Dit is ontstellend wanneer mense so maklik hulle woord breek.

Enigiemand wat ‘n Bybel verlang, kan skryf aan: webmeester@thesower.org.za  (Slegs Afrikaans en Engelse Bybels (OAB) en net in RSA - Net vir individue, geen organisasies)

As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com

Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA – Sjibbolet