Pastoor Henry Porter vertel van ‘n denkbeeldige dag, toe die son nie opgekom het nie. Dié oggend word dit al sesuur, maar dagbreek bly weg.
Twaalfuur die middag is dit steeds middernag donker. Die son kom net nie op nie! Geen voël sing nie. Die agtermiddag breek met donker nagure aan. Groot ontsteltenis begin posvat.
Kerkklokke begin lui. Mense stroom na die kerke toe. Die aand breek donker aan, soos gewoonlik.
Niemand dink aan slaap nie. Oral huil en bid mense. Die hele nag deur gaan dit so.
Miljoene betraande gesigte is angstig Ooswaarts gekeer. Oë tuur angstig na die oosterkim. En toe verskyn die gewone eerste tinte van sonsopkoms en ‘n bietjie later kom die son, soos elke dag, op.
’n Groot gejuig gaan op – uitroepe van vreugde: “Loof die HERE, o, my siel!” Hoekom die groot blydskap? Dit is dan maar net dieselfde sonsopkoms, wat hulle almal al honderde kere gesien het, maar nooit op gelet het nie.
Pastoor Porter skryf: “God stort daagliks seëninge op ons uit, maar ons raak gewoon daaraan. God se seëninge is elke dag soos klokslag oor ons, maar waar is ons konstante dankbaarheid. Sy welwillendheid is nuut elke oggend en nuut elke aand, maar ons let selde daarop en gee Hom selde eer daarvoor.” One beleef eke dag Sy belofte van Sy goedheid en guns wat ons volg...
Ons maak soos kinders wat in ’n goedversorgde huis groot word – neem die goeie dinge as vanselfsprekend aan – sonder om selfs dankie te sê.
Hoe waardeer ons dit nie as iemand, veral ’n kind, kom dankie sê vir die normale goeie dinge, wat ons vir hulle doen nie. Het jy al ooit gehoor ‘n kind sê: “Dankie juffrou dat juffrou ons met vandag se leerwerk gehelp het.”
God het ook ’n behae in ’n dankbare hart en positiewe danksegging. “Luister, my volk… ek wil geen jong bul of bokke uit jou krale hê nie…Lof is die offer wat jy aan God moet bring…Die mens wat My eer, is die een wat lof as ’n offer bring…” Ps.50:7,9,14,23
Kom ons bedink (Porter sê: Neem kennis van) al die goeie dinge wat God sonder onderbreking deurentyd vir ons gee, en ook deur die jaar wat verbygegaan het, ononderbroke vir ons gegee het, en waaraan ons so gewoond geraak het as iets alledaags, dat dit ons nie eens meer raak nie.
Dan kniel ons en ons dank Hom vir al die goeie dinge. “…dit is ’n genot om die loflied te sing wat Hom toekom.” Ps.147:1
“Ek wil die HERE loof en nie een van sy weldade vergeet nie…wat…my die goeie in oorvloed laat geniet…” Ps 103:2,5 – Sjibbolet