Wys tans plasings met die etiket Die doop. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die doop. Wys alle plasings

Donderdag 31 Oktober 2019

Massa doopdiens ‘n rekord vir Thailandse Herlewing –

516 nuwe Huiskerke gestig


Op 6 Oktober 2019 is 630 nuwe Gelowiges tydens ‘n enkele diens in Thailand gedoop. Die doopseremonie is deel van ‘n kerkplanting na 13 432 Wedergeboortes. Daar was dusver altesame 5 204 Gelowiges gedoop en 516 nuwe Huisgemeentes gestig.

Dit vestig opnuut die aandag op Huiskerke.

Die wêreldbekende Evangelis, Billy Graham het tydens ‘n groot diens in 1965 gesê: “Multitudes of Christians within the church are moving toward the point where they may reject the institution that we call the church. They are beginning to turn to more simplified forms of worship. They are hungry for a personal and vital experience with Jesus Christ. They want a heartwarming personal faith. Unless the church quickly recovers its authoritative Biblical message, we may witness the spectacle of millions of Christians going outside the institutional church to find spiritual food.”

            Graham is verlede jaar op 99-jarige ouderdom na die Hemel. Sy profesie het reeds waar gekom… huiskerke het reg oor die wêreld, ook in Suid-Afrika, soos blombeddings ontstaan. Hier is selfs groot getalle Sjinese huiskerke in Suid-Afrika.

            In Julie 2014 dra NETWERK24 ‘n berig: Huisgemeentes floreer wêreldwyd. Ene George Lewis se brief hierop lees: “’n oorweldigende suiwering waar God in gees en waarheid aanbid word, is besig om plaas te vind. Huisgemeentes is besig om wêreldwyd te floreer – weg van formalistiese rituele waar die mense se eer pleks van God se eer gesoek word.

Te lank is die Woord van God gemanipuleer om magsbasisse vir mense en regerings te skep. Die enigste ware leermeester is die Heilige Gees en sy handboek is die onvervalste Woord van God. En dit is vir almal, op enige plek, toeganklik.”

            Brief aan Filemon: “Die gemeente wat in jou huis is." Fil strofe 2. Hierdie brief het vir ons bewaar gebly uit die private korrespondensie van Paulus. Dis 'n persoonlike brief wat die lieflike verhouding van Paulus teenoor Filemon verbeeld.

            “Die gemeente in jou huis.” Dit beteken dat Filemon 'n Christen was en dat sy huis 'n Christelike huis was. Die Christelike lewe in sy huis was sodanig dat daar na 'n gemeente in sy huis verwys was. Sy hele huis en moontlike besoekers was volgelinge van Christus lede van hierdie huisgemeente. Huiskerke of -gemeentes was die norm in die Bybel se tye.

            Die hoof van die gesin is pa, maar as hoof van die gemeente is hy God se Hoë Priester. Die HERE hou hom verantwoordelik vir elke lid van die gesin. Die huiskerk moet God lief hê met hul hele hart, gees en siel en hul naaste soos hulself.

Die huiskerk aanbid in Gees en in Waarheid en gemeentes kruis bestuif mekaar. Huiskerke gebruik gereeld Nagmaal… “Want so (Let op) dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Messias totdat Hy kom. “ 1 Kor 11:26

            So is daar ook vroue wat die leiding neem: “Die gemeentes van Asië groet julle. Aquila en Priscílla saam met die gemeente wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die HERE.” 1 Kor 11:26. Dan is daar: “Groet die broeders in Laodicéa en Nimfas en die gemeente wat in sy huis is.” Kol 4:15. Ook die gemeente in die huis van Lidia. Hand 16:40

            En wanneer hulle saamkom is daar hande in die lug lofsange en aanbidding.“Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het (Let op) elkeen, van julle 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitlegging (getuienisse) – laat alles tot stigting geskied.” 1Kor 14:26

            Almal wat musiekinstrumente kan bespeel, speel en die huisgemeente sing te heerlik saam. Soms word ‘n ander huisgemeente oorgenooi waar daar dan ook Koinonia gehou word… saam geëet word… ‘n ware Christusfees.

            Besluitneming berus op konsensus… almal stem saam oor ‘n saak. Daar word nooit gestem nie. Die wagwoord is eensgesindheid. Die klem al op verlore siele.

            Die huiskerk beweging groei die vinnigste in Sjina boonop te midde van wrede vervolging. Hoeveel huiskerke daar is, is moeilik om te bepaal weens die erge vervolging, maar dit word bereken op 120 miljoen huisgemeentes. Die groei egter wêreldwyd.

            Die Internet  speel ‘n belangrike rol in kruisbestuiwing, die aflaai van boodskappe en veral musiek.

            Lede is ook ywerig besig om die Evangelie op verskillende wyses te versprei, naastediens te verrig, Bybels te versprei, klere en skoene en kos.

            Pa’s sal vorentoe ‘n al hoe belangriker rol in hul gesinslewe moet inneem. – Wekroep

Preview YouTube video FJCCA Baptism Video - Oct 6, 2019

https://www.youtube.com/watch?v=xBzke9wnaHM&feature=youtu.be




Donderdag 18 April 2019

Kom, staan saam met Jesus op uit die graf



Waarheen is Jesus toe hy op Golgota aan die kruis gesterf het? Let op: “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring – Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; (en nou) in wie (die Gees) Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis.

Wie was hierdie geeste? “Hulle wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is.”

          Die siele in die gevangenis was die ongereddes wat al in die dae van Noag nie die HERE wou volg nie en lank reeds in die Doderyk was.

Die regverdige God het die Evangelie wat my en jou gered het, ook aan daardie mense in die Doderyk gaan gee sodat hulle ook geleentheid kon kry om weens die bloed van Jesus, gered te kon word.

Vandag het ons die Nagmaal waar die brood ons herinner aan Jesus se gestorwe liggaam en die wyn aan Sy bloed.

Ons het egter ook die doop: “Waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as 'n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as 'n bede tot God om 'n goeie gewete – deur die opstanding van Jesus Christus.”

Die doop en die wyn en brood kan ons nie red nie, maar is teëbeelde van wat gebeur het. Die doop is die teëbeeld van die begrafnis. Ons word begrawe en staan saam met Jesus op uit die graf.

Die volgende is ons letterlike heengaan na die Hemel: “Wat heengegaan het na die Hemel en aan die regterhand van God is, terwyl Engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is. “ 1 Pet 3:18-22. Ons wag met reikhalsende verlange op Sy terugkeer.

          Twee strofes wat die doop as teëbeeld van die Sy begrafnis en opstanding weergee, is: Kol 2:12 “Omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.”

          Asook Rom. 6:3-6 “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

          “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel.

“Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan Sy Opstanding;

“aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.”

Die Nagmaal gebruik ons by herhaling want dit is so voorgeskryf. Die doop pas ons net eenmalig toe. Die brood en die wyn het op Jesus betrekking, maar die opstanding het op my en jou betrekking.

“Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die Nuwe Testament in my bloed; doen dit, so (let op) dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.

“Want so (let op) dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Messias totdat Hy kom.” 1 Kor 11:25-26

          Ons word egter nie “dikwels” gedoop nie want ons het opgestaan nadat ons die ou “ek” begrawe het. Dis ‘n triomfantelike oomblik!

          Christus leef en die Wedergeborenes leef en ons leef om Christus se werk op aarde voort te sit en die getal vol te maak. Die Messias is nie meer op die kruis of in die graf nie, maar sit as majesteit op sy Troon in die Hemel.

          Daar word te min gefokus op die Opstanding. Ons het hopeloos te min liedere daaroor. Dis ‘n triomfantelike gebeurtenis... self die Engele in die Hemel jubel.

          “As julle dan (let op) saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.

          “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

          “Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

          “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” Kol 3:1-4 – Wekroep


Saterdag 21 April 2018

Die doop

Die Doop is ‘n begrafnis


Die  Almagtige God Jaweh het aan Sy volk  Israel en Juda, ‘n skeibrief gegee weens die volk se owerspel. Jes 3:7-8.

            Ingevolge die reël, moet die vrou na ‘n egskeiding wag totdat die man sterf, voordat sy weer in die huwelik mag tree, anders pleeg sy egbreek.

            So sterwe God in sy Seun Yeshua toe aan die kruis sodat ons as vrou weer met God in die huwelik mag tree.

            Dit word genoem die Wedergeboorte. Ons praat ook van die Soendood, omdat ons deur Jesus as Saligmaker aan te neem, te glo en Hom te dien, met God versoen raak.

            As Wedergeborenes staan ons bekend as die Bruid wat op die Tweede Koms van die Bruidegom wag... en dis nie meer lank nie.

            As Bruid gebruik ons die brood en die wyn: Soos wat die brood en die wyn, simbolies is aan Jesus se liggaam en bloed, so is die doop simbolies aan Jesus se begrafnis en opstanding, daarom ‘n watergraf.

            Die besnydenis staan vas, maar vroue is ook nou ingesluit. Let op:

            “Nie hy is 'n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie;

maar hy is 'n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.” Rom 2:28-30 – Dit is die Wedergeboorte.

            Die seuns in die volk is destyds besny om deel van die Verbondsvolk te wees. Nou word mans en vroue en kinders (vanaf hul verstandelike ouderdom) na die hart besny... maar nie met hande nie.

Die Doop is ‘n begrafnis: “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; in wie julle ook besny is met 'n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.”  Kol 2:9-14

            En Rom 6:4-9: Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel.

            “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

            “Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.

            “As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.

            Jaweh se genade en liefde is so groot, dit sluit ander volkere ook in.

            Die yd loop snel uit, Oral word mense nou gered, selfs kinders. Wat opval is dat nuwe bekeerdes sommer dadelik gedoop wil word... sommer in dieselfde diens. – Sjibbolet



‘n Nuwe bekeerling word sommer in ‘n rivier gedoop. Baie mense doop deesdae in die Oranjerivier



In Israel word in die Jordaanrivier gedoop.














Vrydag 15 Januarie 2016

Die mees miskende doop – Die Lydingsdoop


Image result for person being baptised


Daar is vier dope in die Bybel: Die doop in die liggaam van Christus – Wedergeboorte, die doop in water, die doop met die Heilige Gees en die Lydingsdoop.
Ons aanvaar ons bevind ons in ‘n geestelike stryd. Ons aanvaar ook dat hierdie oorlog op ‘n ander vlak en met ander metodes geveg moet word.
          Voordat ons verder kan gaan, moet ons egter eers die sonde van ons tyd, wanpersepsies, aanspreek. Ons kyk hier weer na die menslike vlak en die geestelike vlak. Daar is ‘n reuse verskil.
          Die menslike vlak sê: Verset, weerstand, veg, ja, selfs oorlog. Die geestelike vlak bied egter ‘n heel ander prentjie.
          Die Nuwe Verbond in Christus, soos vervat in die Nuwe Testament, leer dat niemand die Christendom enige skade kan berokken nie. Die Christendom kan net homself skade berokken deur verkeerd op tree op aanvalle teen hom.
          Dit is Skriftuurlik dat die Christendom die gesag wat oor hom gestel is, sal erken en hom sal onderwerp aan daardie gesag.
          Die Liggaam se lojaliteit aan Christus word juis gekenmerk aan sy Skriftuurlike gehoorsaamheid om byvoorbeeld die gesag van die Staat te erken en hom as Liggaam aan daardie gesag te onderwerp, al sou daardie Staat selfs Kommunisties van aard wees!
          Kortom, dit gaan hier om een van die mees miskende dope van Die Bybel, die lydingsdoop.
          Onder die tussenhoof "Pligte van Christelike Diensknegte" in 1 Petrus 2:18, staan: “Diensknegte, wees julle HERE onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed doen  en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.”
          “Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete, leed verdra, deur onregverdig te ly.
          “Want watter roem is daar wanneer julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly  –  dit is genade by God."
          “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle Sy voetstappe kan navolg."
          Strofe 20 sê duidelik dat dit 'n sonde is om nie die Owerheid se gesag te erken nie. En al sou die Owerheid verkeerd wees, en die Christen as gevolg daarvan skade ly, dan moet die Christen dit nogtans aanvaar en ly.” 1 Pet 2:18-22
          Die Christendom word juis gesuiwer deur middel van die lydingsdoop. Om die lydingsdoop deur te gaan is 'n roeping(!) want, sê die Skrif: “Hiertoe is julle geroep!”
          Vanaf strofe 21 lees ons dat Christus ook onregverdig gely het. Ons lees te meer nog dat Christus selfs (boonop) sonder sonde was. Ons wat dan sonde doen, hoeveel te meer moet ons nie die roeping van die lydingsdoop waardig wees nie? Die lydingsdoop bewerk ware verlossing, bevryding.
          In Suid-Afrika bevind ons onsself in 'n demokrasie waar vryheid van spraak deel van die Grondwet uitmaak. Dit is dus heeltemal binne orde om op Christelike toon, diplomaties en taktvol aan die Owerheid te sê dat ons met hom verskil en waarom.
          As die Owerheid egter voet by stuk hou en nogtans “ongewenste” wetgewing en optredes deurvoer, dan is ons geroep(!) om dit te aanvaar, al maak dit ook hoe seer.  Die Liggaam, ook genoem die Kerk, mag dus die Staat teregwys, vermaan, maar hy durf nie die Staat teengaan nie.
          Hierdie besondere roeping, die lydingsdoop, is ‘n voorbeeld wat Christus aan Sy Liggaam nagelaat het en God verwag van ons om in Christus se voetstappe te volg.
          Het die grootste seën in die wêreld – die verlossing en versoening bewerk deur Jesus Christus – dan nie gekom juis vanweë die grootste onregverdige lyding nie?
          Christus had selfs ‘n verraaier in Sy midde. Hy het geweet wie die verraaier is, maar Hy het die man nooit gekonfronteer nie.
          Inteendeel, Christus het die verraaier geignoreer, en Sy aandag by Sy eie missie – om die wil van Sy Vader te volbring – bepaal, en geslaag!
          Hy is sonder verset, sonder wraak, sonder teenstem, deur die lydingsdoop. En, wat 'n fantastiese oorwinning was dit nie! Die beker is nie by hom verby nie. Hy moes dit ledig.
          Die Christendom het ook 'n missie om die wil van die Vader te volbring. Dis waar ons aandag hoort.
          Lees maar die drie boeke van Johannes en sien self waar skiet ons te kort. Ons het nog nie eers die Liefde onder mekaar volbring nie.
          Die Christen, of dan die Liggaam, het sekere roepinge om op aarde te vervul: Die uitdra van die Evangelie van Jesus Christus en dit wat daarmee saamgaan soos byvoorbeeld barmhartigheidswerk, liefde, die dra van mekaar se laste, bid vir mekaar, ens., en ten tweede om die suiweringsproses, die lydingsdoop, deur te gaan, want, wanneer Christus kom, kom hy om Sy Bruid te haal, 'n Bruid wat sonder vlek of rimpel sal (moet) wees.
          Wanneer die HERE sê: “Ter wille van My naam sal julle vervolg word,” dan is dit nie 'n waarskuwing nie, maar 'n belofte!
          Dieselfde geld wanneer die HERE sê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê,” maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
          Die geestelike lewe, die lewe in Christus, is beslis die interessantste wat enigeen  ooit kan beleef.
          Hoor wat sê die HERE in Openb 8 -11: “En sal God nie Sy uitverkorenes wreek wat dag en nag na Hom roep nie?”
          Natuurlik! Let op hoe duidelik die Skrif dit stel wanneer die Staat, of watter gesag ookal, onregverdig teenoor die gelowiges optree.
          Dit is dan wanneer God aan die Staat, of watter gesag ookal vyandig teenoor die Liggaam van Christus staan, sê: "Vir sovele soos julle dit aan die geringste van My doen, doen julle dit aan My." Matt. 25:45.
          En aan die een wat die lyding deurloop, sê die HERE: “Onthou, aan My kom die wraak toe. Ek sal vergeld."
          Verder sê die HERE: "Bid vir julle gesag sodat julle in vrede kan lewe. Hoop vurige kole op sy hoof op.” Rom: 12:20.
          Wanneer die Christen te na gekom word, of vervolg word, durf hy dit nooit in 'n negatiewe lig sien nie, maar eerder as 'n besondere seën, 'n toets van Bo, en ons moet sekermaak dat ons die toets slaag.
          Dit is seker die vernaamste wyse waarop die HERE sy Liggaam hier op aarde suiwer.
          “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys.” Tit 3:1-2
          'n Verdere interessantheid vind ons in Gen. 15:13 “Daarop sê God vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word, vier honderd jaar lank.”
          Dis God self wat so besluit het, al klink dit ook hoe verskriklik. Sou ons 400 jaar se verdrukking kon deurstaan, boonop deur diensbaar te wees en deur toe te laat dat ons verdruk word deur 'n vreemde owerheid?
          Maar strofe 14 is 'n juweel, wanneer die HERE sê: "Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie die volk diensbaar moet wees...."
          Die een oomblik stel die HERE 'n vyandige Volk oor Sy eie Volk aan, aan wie Sy Volk noodgedwonge diensbaar moet wees, maar die volgende oomblik sê die HERE aan die vyandige volk: Pasop hoe julle My Volk behandel, want  Ek sal daardie nasie wat Ek oor My Volk aangestel het, oordeel!
          Kan jy nou verstaan dat God deurentyd in beheer van sake is?
          Daarom, niemand kan die kind van God, God se Volk, enige skade berokken nie. Die Christen kan net homself skade berokken deur met die verkeerde reaksie  te kom op die aanvalle of verdrukking teen hom. Verstaan jy nou wat dit beteken om die ander wang te draai?
          In Rigters 6:1 sê God aan Gideon: “Maar, toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE die kinders van Israel OORGEGEE in die hand van die Midianiete – sewe jaar lank!”
          Sewe jaar lank! Dis mos nie nodig om langer vrae te vra nie. Ons eie situasie moet vir ons mos nou meer duidelik wees as ooit te vore.
          Dit lei geen twyfel nie. Die Christen moet hom onderwerp aan die Owerheid wat oor hom aangestel is.
          So, loof die HERE, bid vir die owerheid, dien die HERE. Alles is nog lank nie verlore nie. Dit lyk maar net so. Murmurering het nog nooit uitkoms gebring nie.
          Die prentjie word verder ingekleur wanneer God ons verbied om te vergeld. God sê dat Hy 'n jaloerse God is en dat die wraak Hom (alleen) toekom.
          Met ander woorde, terwyl ons wraak wil neem met allerlei verset en optredes, staan God terug, want ons probeer doen wat God sê sy eksklusiewe reg is. Die Christen moet sy verstand afskakel sodat hy kan hoor wat die Gees van God aan hom wil sê.
          Wanneer die HERE sê dat Sy Liggaam vir die regering moet bid, dan is dit 'n opdrag wat eenvoudig uitgevoer moet(!) word, al is dit ook hoe moeilik. As daar nie vrede in die land is nie, dan is dit heelwaarskynlik omdat die Liggaam nie vir die regering bid nie.
          Hoe bid mens vir die regering, vra jy?
          Die HERE is in beheer van die koning. “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil.” Spr 21:1
          Die nuwe vertaling lees: “Die HERE kan 'n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in 'n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” Skitterend!
          Nou bring mens aan die HERE aanbidding en lofprisinge!
          So, kom maar gerus jou plig en opdrag na en bid vir die Owerhede. Hulle dink maar hulle is in beheer.
          Lees weer wat sê Koning Dawid in Ps 149 oor “Lofgesang en Oorlogswaard”:

          Halleluja! Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied,
          Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
          Laat Israel hom verheug in sy Maker;
          Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
         Laat hulle Sy naam loof in koordans,
          Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
          Want die HERE het ‘n welbehae in Sy volk;
          Hy versier die ootmoediges met heil.
          Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
          Laat hulle jubel op hul bedde.
          Lofverheffinge van God is in hulle keel,
          en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
          (Hoekom?)
          om wraak te oefen onder die heidene,
          strafgerigte onder die volke;
          om hulle konings met kettings te bind
          en hulle edeles met ysterboeie;
          om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
          aan hulle te voltrek.
          ‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
          Halleluja!
       
          Dus, nie deur krag of geweld nie, maar deur lofprysinge aan die God van ons heil. Lofprysinge is ‘n tweesnydende swaard: Terwyl ons God loof, oefen ons ook wraak uit onder die heidene, strafgerigte onder die volke, om hulle konings in kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie… Waarom? Om ‘n vonnis te voltrek wat reeds opgeskrywe is!
          Dit moet onthou word: Terwyl die Liggaam van Christus onregverdig ly, is die hoeksteen van God se heerskappy op aarde, juis Sy onbeperkte en onverskrokke geregtigheid.
          Die morele wet is so onveranderlik soos die natuurlike wette: Wat die mens saai sal hy maai. Gal. 6:7.
          Net soos die Wet op swaartekrag nie verbreek kan word nie, net so kan die wette, verordeninge en insettinge van God, ook nie verbreek word nie. Die een wat hier oortree, bring 'n oordeel oor homself. Onthou Sy waarskuwing: Dis vreeslik om te val in die hande van die Lewende God!
          Dit beteken, ons moet ook uiters versigtig wees hoe ons teenoor mekaar optree.
          Ons dink altyd verootmoediging gaan oor ons sondes teenoor die HERE, maar om dit te bely is nie genoeg nie. Ons moet ook ons misdade wat ons teen mekaar gepleeg het, bely. Kyk na die volgende: 1 Pet 3: 8-9.
          “Wees almal eensgesind, medelydend, VOL Broederliefde, en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad vir kwaad of skelwoord  met skelwoorde nie......   maar  INTEENDEEL... Seën mekaar!
          Waarom? Want hiertoe is julle G E R O E P!!!
          Hoekom? OM SEëN TE KAN BEëRWE!
          Ons mis ons ROEPING. Ons is GEROEP om mekaar te SEëN. Omdat ons ons roeping mis, daarom is ons nie eensgesind nie, nie medelydend nie, nie VOL  Broederliefde nie, ontferm ons, ons nie oor mekaar nie, is ons nie vriendelik nie. Bid ons nie vir mekaar nie, dra ons nie mekaar se laste nie.
          Inderdaad is ons gedurig besig om in een of ander vorm kwaad met kwaad te vergeld, en maak ons ons skuldig daaraan om skelwoord met skelwoorde te vergeld.
          Ons MIS ons ROEPING. Dis 'n SONDE. Dit vra om diepe verootmoediging teenoor God, maar groter nog, teenoor MEKAAR!
          Ons kan nie seën beërwe nie, want ons seën nie mekaar nie. Wanneer het een van ons ooit 'n ander geseën? Ons doen dit nie. Seën jy ooit as Hoë priester oor jou huis, jou vrou en kinders?
          Ons beroof onsself van seëninge. Ons beroof mekaar van eensgesindheid, van medelye, van ontferming, van volle broederliefde, van vriendelikheid. Ons is  slagoffers van ons eie optrede.
          Daarom, verootmoediging teenoor God moet geskied, maar ons moet ook ons saak met mekaar regmaak en dit reghou.
          Ons mis ons ROEPING!
          Ons mag nooit as kinders van die HERE in konflik teenoor mekaar staan nie. Die Liggaam en die Staat, die Christen en sy gesag, mag ook nooit in konflik teenoor mekaar staan nie.
          Die Christen vergeet so maklik, maar dit is noodsaaklik dat die Liggaam, bewus bly van die Vader se regverdigheid en geregtigheid, want so verseker 'n mens dat jy nooit in die versoeking kom om self te wil vergeld nie.
          Ons moet versigtig wees dat ons nie ten gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis nie.
          In plaas van vergelding, moet die Christen eerder bid: "Vader, vergewe hulle want hulle weet (tog) nie wat hulle doen nie." Dan gryp God in!
          Vir die Christene om teen die Staat op te tree, is dieselfde as om die Staat by die Satan aan te kla. Daar sal nie 'n verhoor wees nie.
         As die Christen God se hand in beweging wil sien kom, begin dan onder andere bid vir die Owerhede.
          Ons moet God meer gehoorsaam wees as die mens. God sê aan die een wat Sy kind mishandel: Vir sovele soos wat hulle dit aan die geringste van My doen, doen hulle dit aan My, en onthou, My kom die wraak toe, Ek sal vergelde sê die HERE.
          Twyfel jy nog? Rom 13: vanaf strofe 1 lees:
          "Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.
          “…sodat hy wat hom teen die mag van God versit, die instelling van God weerstaan; en diegene wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.
          “want die Owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte....”
          As mens jou dus verset teen die owerhede wat oor jou aangestel is, dan sondig jy teen die HERE, want die HERE is in beheer van daardie owerheid.
          Laat ons dus voortgaan om die HERE te behaag deur alles wat ons sê en doen, Hom te verheerlik. Kom ons onderhou weer Sy insettinge, Sy verordeninge. Kom ons verbly die hart van die HERE.
          Ons staan op die drumpel van ‘n reuse oorwinning. Ons moet net ons saak met God en met mekaar regmaak.
          Ons sal onsself nie net voor God moet verootmoedig nie, maar ons sal ook moet terugkeer na ons eerste liefde:
          “Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart, en met jou hele siel en met jou hele verstand en uit jou hele krag, en jou naaste (mekaar) soos jouself".
          Die liefde wat onder ons moet heers, is net nie langer daar nie. Ons eerste liefde het verflou. Ons het kragteloos geword, soos sout wat laf geword het.
          Die strafgerig is egter nie daar om ons te vernietig nie, maar juis om ons terug te kry op die plek waar ons hoort.
          Met menslike liefde sal ons nie kan slaag nie. Petrus kon ook nie.
          Toe Christus Goddelike (Agape) liefde bedoel het, het Petrus menslike (fileo) liefde verstaan. Daarom dat hy so maklik gesê het: “Ja HERE U weet ek het U lief.”
          Toe die toets kom, moes hy in trane na die gekraai van die haan luister.
          Daar is diegene wat redeneer dat ons nie geroep is om te ly nie, maar om te oorwin. Feit is dat ons in Christus Jesus reeds oorwin het. Deur onreg te ly is deel van die oorwinning.
          En as die regerende gesag ons sou verbied om die Bybel te lees en die Vader te aanbid, dan moet ons die Vader meer gehoorsaam wees as die mens. Dan gaan ons voort om die Bybel te lees en die Vader te aanbid, en, as ons as gevolg daarvan deur die regerende gesag gestraf sou word, dan is dit bloot deel van die lydingsdoop.
          Mag hierdie skrywe ‘n ewewig, 'n korrekte persepsie, 'n nuwe visie, nuwe moed, 'n nuwe ywer, in die midde van ons mense plaas.
          Laat die Liefde, die Koninklike Wet, heers! – Sjibbolet