Wys tans plasings met die etiket Bruidegom. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bruidegom. Wys alle plasings

Donderdag 05 September 2019

Berei jouself voor vir die grootste Bruilof in menseheugenis!


Dis September ‘n Nuwe Seisoen het aangebreek. Dit maak nie saak wat jy in die verlede verkeerd gedoen het nie, as jy berou daaroor het en dit bely en jou saak met God regmaak, sê die HERE: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons (boonop) van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9

            Wat doen God dan met daardie sondes?

            Daar is geen groter blydskap as om te weet God het ons sondes afgekoop, ons genees, ons vernuwe en ons vergewe nie!


            En kyk wat doen God met ons sondes en ongeregtighede: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” Ps 103:12

            Van Noord na Suid is 19 865km, maar van Oos na Wes is onmeetbaar.

            Omdat God juis dit met ons sondes doen, beteken dit dat dit nooit gevind kan word. “In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die ongeregtigheid van Israel gesoek word, maar dit sal daar nie wees nie; en die sondes van Juda, maar dit sal nie gevind word nie; want Ek sal vergifnis skenk aan diegene wat Ek laat oorbly.” Jer 50:20

            Kyk wat doen die HERE nog met ons sondes en ongeregtighede: “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.” Ps 7:19

            En verder “.... en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.” Heb 10:17. Dit is dus bitterlik verkeerd vir mense om daaroor te dink en dit steeds teen jou in te bring.

            En weer “.... want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” Jer 31:34

            “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die HERE die sonde nie toereken nie.” Rom 4:7-8

            “Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie.” Ps 32:2

            Nou, as God, die Almagtige God, mense hul sondes en ongeregtighede vergewe en dit neem en in die dieptes van die see gooi en Hy sê Hy sal daar nooit weer aan dink nie, waarom is daar selfs Gelowiges wat gedurig mense se verledes teen hulle opraap?

            So iemand is met ‘n gevaarlike spel besig en hy of sy meng hulle in met God se handewerk. God vergewe, en vergeet, maar sommige wil nie vergewe nie en wil steeds onthou. Staak dit!

            “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” Heb 10:31


            Wanneer ons bely dat ons gered is, of bely dat ons as gereddes gestruikel het, dalk selfs geval het, en ons saak met God reggemaak het, moet elkeen van ons op die Pad na Heiligmaking gevind word.

            Lees die volgende twee strofes stadig en ‘n paar keer deur want hier is ‘n ontsettende groot waarheid op ons pad na die Beloofde Land:

            “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die HERE is, daar is vryheid.
            “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou (Gebeur wat?), word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” 2 Kor 3:17-18

            Dit word ook so vertaal: "Die HERE beteken hier die Gees, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.
            “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die HERE, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe.
Dit doen die Here wat die Gees is.”

            Dit kan egter nie gebeur as daar struikelblokke in jou lewe is nie.

            Dit bring ons by Dawid. Hy het geval, opgestaan  en sy saak reggemaak. God dink nie meer aan Dawid se fout nie. Die wat die Beloofde Land haal, sal Dawid daar kry. Let op na die volgende:

            “En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle 'n herder wees.
            “En Ek, die HERE, Ek sal vir hulle 'n God wees, en my kneg Dawid 'n vors in hulle midde. Ek, die HERE, het dit gespreek.” Eseg 34:23-24

            “En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel.” Eseg 37:24   

            Toe Esegiël hierdie strofes geskryf het was Dawid al 400 jaar lank in die Ewigheid. Esegiël het dus van die toekoms gepraat, die Millennium, die tydperk na die Wederkoms.

            Jesus Christus gaan dan Koning oor die hele aarde wees, en Dawid sal aan Jesus ondergeskik wees.

            Diegene wat langs die pad gestruikel en selfs geval het, en hul saak met die HERE uitgemaak het, hulle is net soos ander Gelowiges ook Koningskinders!

            Ek vra dan: “Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak.

            “En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” Rom 11:11-12 ook Jak 3:2

            “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:

            “Hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

            “Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy 'n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.

            “En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen.” Rom 1:28-32; Rom 2:1-2

            En verder “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.

 
        “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” Gal 6:1-2

            Maar wat doen ons, ons gaan help nie een wat deur ‘n misdaad oorval word nie, nee, ons dra eerder stories aan. Ons verkondig nie die Evangelie van redding en vrymaking nie, maar besing die swanesang van die satan.

            Jou oordele oor ander gaan vir jou kelder. Die lewe is te kort om kortsigtig te wees. Hou die oë op Jesus Christus en nie op mekaar nie. As iemand ‘n las het, bly stil daaroor en bid vir daardie persoon en gaan help hulle. Dis jou opdrag!

            Streef eerder na die verwesenliking van die volgende:

            “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Berei jouself voor vir die grootste Bruilof in menseheugenis. – Wekroep

Maandag 06 Mei 2019

“Laat daar lig wees!”

...en toe was daar lig. Gen 1:3


“En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
John 8:12

            God het nie die duisternis vervloek, gebind of bestraf nie. Hy het die Lig gebied en dit het die duisternis verdryf.

            Christene is geneig om met groot bohaai geestelik oorlog te voer en dan hoor mens van bind en vervloek, bestraf en uitdryf. Hoekom nie net Lig spreek nie? Ons het die gesag om Lig te spreek oral waar ons kom en in wie ook al se lewe of huishouding. So wen ons ‘n oorlog sonder om te veg.

            Om Lig te kan spreek moet ons (genoeg) olie in ons lampe hê! Met te min olie trap ons dieselfde stel af as die dwase lampdraers.

            Ons wag op die Bruidegom se koms. Het ons (genoeg) olie in ons lampe? Leef ons paraat en in afwagting?

            Kennis en wysheid uit die Woord bring die olie, so ook jou persoonlike wandel met Jesus, so ook jou liefde teenoor almal rondom jou.

“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” 1 Joh 1:7

            Eers het Jesus gesê Hy is die lig, maar toe Sy volgelinge begin aanwas, sê Hy: “Julle (ek en jy) is die lig van die wêreld.”

En Hy verduidelik: “'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie.”

En voeg Hy by: “...en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

Let  op: “Laat julle lig só skyn voor die mense, (hoekom?) dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:14-16

            Hoeveel van jou lig is onder ‘n emmer versteek?  Mens moet vra... “Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.” Mark 4:22.

            Komaan, spreek Lig. Wees Lig. Met genoeg Lig kan geen onheil teen jou of in jou teenwoordigheid standhou nie.

            En dink weer mooi na om ten duurste predikers te nooi om julle gemeente te help bou.  Spreek Lig: Lig binne die gemeente en lig buite die gemeente ook in die woonbuurte. Wees Lig en spreek lig en daar sal Lig wees.

Hier is nog groter perspektief: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

En dan, baie, baie belangrik: “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.” Joh 15:5-6

Komaan, spreek Lig, daar’s ‘n oes om in te bring: – Wekroep