Wys tans plasings met die etiket hou moed. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket hou moed. Wys alle plasings

Dinsdag 29 September 2020

Nie alles is soos dit lyk nie

 

“…omdat Kaleb ’n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het…” Num 14:24

’n Ekonoom is gevra om ’n groep sakemanne oor die depressie toe te spreek. Dit was die dertigerjare van die vorige eeu en almal was moedeloos. Die spreker steek  ’n wit vel papier teen ’n bord vas. Hy maak ’n swart kol op die vel papier. Hy vra een van die manne in die voorste ry wat hy sien.

“’n Swart kol,” was die antwoord. Hy vra dit vir ’n paar ander. Hy kry dieselfde antwoord. Kalm en met nadruk sê hy: “Ja, daar is ’n swart kol, maar nie een van julle het die groot vel wit papier gesien nie. Dit is dus die inhoud van my lesing. Ons kan nou huis toe gaan.” Dit neem ’n rukkie voor die werklikheid van wat hy sê indring het. Toe gaan die tonge los en nuwe perspektiewe vir die sterwende ekonomie kom aan die lig.

            Ons gemoedstemming word bepaal deur die punt van ons konsentrasie. Sien ons net die swart kol van ons omstandighede, word ons moedeloos. Sien ons ook die groot wit vel om die swart kol raak, skep ons moed. Moses het twaalf verspieders uitgestuur Kanaän toe. Tien het op die vyand gekonsentreer: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons… Ons het daar ook reuse gesien…”Num 13:31-33.

Josua en Kaleb daarenteen het op God se belofte en Sy krag gekonsentreer. “Kaleb het egter die manne stilgemaak en gesê: ‘Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.’” Num.14:30

Die geheim van Moses se volharding om die HERE te gehoorsaam en te dien word so gegee: “Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.” Heb.11:27 – Wekroep


 


 

Saterdag 11 Julie 2020

Luther sê nee vir die Pous se goud



Terwyl Luther in die midde van die Hervorming was, het die Pous 'n hewige poging aangewend om hom terug te bring Roomse Kerk toe. Hy het 'n kardinaal gestuur om hom om te praat en 'n groot geskenk in goud saamgestuur.

Die kardinaal het vir die Pous laat weet: "Die gek het geen smaak vir goud nie!"

Toe die kardinaal hom nie kon omkoop nie, het hy hom gedreig: "Wat dink jy gee die Pous om vir die opinies en uitsprake van ‘n eenvoudige Duitse boer? Die Pous se pinkie is sterker as die hele Duitsland (Luther se geboorteland).

Dink jy die Duitse prinse sal wapens opneem om jou – 'n ellendige wurm soos jy – te verdedig? Ek sê nou vir jou, nee, dit sal nooit gebeur nie! En dan, waar is jy dan?"

Luther het kalm geantwoord: "Presies waar ek nou is. In die hande van Almagtige God."

            Luther het egter ook tye van vertwyfeling beleef. Eenkeer was hy so bedruk en bekommerd hy kon nie werk nie; wou nie eet nie; kon nie slaap nie.

Een oggend, in daardie moeilike tyd, kom sy vrou in sy studeerkamer binne, geklee in rouklere. Luther skrik. "Wie is dood?" vra hy angstig. "Het jy gehoor nie?" antwoord sy ernstig, "God is mos dood."

"Moenie laster nie," bestraf hy haar. "Ek laster nie. Ek handel uit wat ek van jou gedrag aflei. As God lewe, watter reg het jy, Sy uitgesproke kneg, om so bedruk en bekommerd te wees?"

Luther het geluister en beskaamd op sy knieë gegaan en sy ongeloof bely en met nuwe moed en oorwinning opgestaan om die Here se werk te doen.

            Geloofsoorwinning en geloofsneerlaag kan mekaar afwissel in die hart van 'n kind van die HERE. Die HERE gee ons nie prys as ons begin twyfel nie, maar bly naby ons en stuur vir ons die versterking wat ons nodig het.

Selfs Paulus het aan bemoediging behoefte gehad. "Die gelowiges daar (Rome) het van ons gehoor, en hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge.

Toe Paulus hulle sien, het Hy God gedank en moed geskep. Hand 28:15

Psalm 91: "U is my toevlug en veilige vesting, my God op wie ek vertrou" (vs.1,2).

            Moet nooit as te nimmer moed opgee nie. – Wekroep

Sondag 14 Julie 2019

Hou moed: Die HERE ken die dae van die Opregtes



“Maar weet dit dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom  —  2  Tim. 3:1, skryf Paulus aan  Timotheus, en noem dan in die daarop volgende strofes verskeie voorbeelde van hoe die swaar tye daar sal uitsien.

            Die nuutste is dat daar nou oorlog in 69 lande van die wêreld is. Altesame 824 militante guerrilla groepe tesame met terroriste, anargiste en  separatiste groepe is by die oorloë betrokke. Dit sluit dreigende kernoorloë uit. Die oorloë en en die deelnemers brei steeds uit.

            Hierdie swaar tye gaan gepaard met spanning wat in ons tyd in meeste gevalle aan uiterstes grens.

            Hierdie spanning vernietig gesinne, huwelike, gemeenskappe, en dwing van die grootste maatskappye in die wêreld om spesiale maatreëls te tref om hul werknemers te beskerm en daarvoor te laat behandel.

            Die steeds toenemende spanning van uiterstes raak meer mense se lewens as pandemies soos VIGS. Hospitale en mediese spreekkamers loop oor van mense wat aan  spanning-verwante siektes soos depressie ly.

            In sommige opsigte reeds, is strofe 12 ook besig om in vervulling te gaan:  En almal wat ook Godvrugtig wil lewe, sal vervolg word!

            Vervolging in watter vorm ook al, bring sy eie soort spanning en meesal ook erge spanning.  Spertye bring spanning.  Perfeksionisme bring spanning.  Om iemand geestelik te dra bring spanning.  Ondraaglike werksituasies bring spanning. So ook ondraaglike huwelike.

            In 2 Kor. 11:27-28 praat Paulus oor spanning wat hy persoonlik beleef het en verwys hy onder meer na slapelose nagte en daaglikse bekommernis.

            Ons het almal al dae van druk en uitsonderlike hoë druk beleef, maar Paulus gaan voort en vertel dat hy vasgestaan het en GOD hom daarvan verlos het:

            Bemoediging: 2 Tim. 3:11 lees: “Watter vervolginge het ek nie al almal verdra nie!  En die HERE het my uit almal verlos!”

            As Paulus kon vasgestaan het, dan kan ons ook.  Maar dit sal dieselfde onwankelbare geloof van ons vereis as wat ons by Paulus sien —  aldus  2 Tim. 4:7 lees: Ek het die Goeie Stryd gestry....

            Deurbrake kom nie altyd maklik nie, maar wanneer mens vol vertroue aanhou vertrou, aanhou met klop, dan kom die deurbraak wel die een of ander tyd. Dit sal beslis kom want God self het gesê dat as ons aanhou klop dat sal daar vir ons oopgemaak word.

            Dit bring ook (onnodige) spanning wanneer ons meen dat ons nie genoeg het nie.  Ons vrees tekorte.

Ons gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis en dit omdat ons nie moeite maak om ons Bybels te bestudeer nie.

            As ons wel die kennis opdoen, dan is die volgende aan uit Ps 37:18-19, 25 baie betekenisvol:

            Bemoediging: “Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly.  Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in die dae van hongersnood sal hulle versadig word.  Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien nie, of dat sy nageslag brood soek nie.”

            Koning Dawid sou nie die bogenoemde geskrywe het, as hy nie self getuie daarvan was nie.

            GOD sal ons nie verlaat nie.  Hy sal Hom ook nie aan ons onttrek nie.  Sy Liefde, Genade en Guns, skenk Hy aan ons.

            Een keer was Dawid onseker oor sy verhouding met GOD en toe vra hy in Ps 8:5: “Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”

            Dis ‘n vraag wat ons ook kan vra:  Wie is ons as nietige mens, as gras van die veld, dat die Almagtige GOD  aan ons sou dink?

            1 Pet 5:7 lees: “Werp al julle bekommernisse op Hom (hoekom?) want Hy sorg vir julle!”

            Bemoediging: Asook Ps 55:23: “Werp jou sorg op die HERE en Hy sal jou onderhou;  (let op) Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”

            En dat is daar Ps 9:10: “So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.”

            En strofe 11: En hulle wat U Naam ken, sal op U vertrou, omdat U diegene wat U soek, nie verlaat nie, o’ HERE!”

            GOD behoed en bewaar ons.  Hy dra ons, wat die omstandighede ook al mag wees.  Al wat dit vra is dat ons dit sal erken, bely en glo en Hom daarvoor eer  —  in Gees en in Waarheid aanbid, Sy Naam grootmaak!

            Dan maak dit nie saak hoe hoog die prys van wat ook al word nie,  GOD sal die inkomste voorsien.  Hy sal ons nooit verlaat nie.

            Wat sê onse GOD vandag aan ons?  Eenvoudig:  Moet julle nie bekommer nie. Ek die HERE GOD is in beheer. Bly julle eenvoudig opreg. – Wekroep