Dinsdag 29 September 2020

Nie alles is soos dit lyk nie

 

“…omdat Kaleb ’n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het…” Num 14:24

’n Ekonoom is gevra om ’n groep sakemanne oor die depressie toe te spreek. Dit was die dertigerjare van die vorige eeu en almal was moedeloos. Die spreker steek  ’n wit vel papier teen ’n bord vas. Hy maak ’n swart kol op die vel papier. Hy vra een van die manne in die voorste ry wat hy sien.

“’n Swart kol,” was die antwoord. Hy vra dit vir ’n paar ander. Hy kry dieselfde antwoord. Kalm en met nadruk sê hy: “Ja, daar is ’n swart kol, maar nie een van julle het die groot vel wit papier gesien nie. Dit is dus die inhoud van my lesing. Ons kan nou huis toe gaan.” Dit neem ’n rukkie voor die werklikheid van wat hy sê indring het. Toe gaan die tonge los en nuwe perspektiewe vir die sterwende ekonomie kom aan die lig.

            Ons gemoedstemming word bepaal deur die punt van ons konsentrasie. Sien ons net die swart kol van ons omstandighede, word ons moedeloos. Sien ons ook die groot wit vel om die swart kol raak, skep ons moed. Moses het twaalf verspieders uitgestuur Kanaän toe. Tien het op die vyand gekonsentreer: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons… Ons het daar ook reuse gesien…”Num 13:31-33.

Josua en Kaleb daarenteen het op God se belofte en Sy krag gekonsentreer. “Kaleb het egter die manne stilgemaak en gesê: ‘Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.’” Num.14:30

Die geheim van Moses se volharding om die HERE te gehoorsaam en te dien word so gegee: “Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.” Heb.11:27 – Wekroep