Dinsdag 29 September 2020

Toe die loods skielik sterf...

‘n Gesin wat in pragtige harmonie saam met die HERE wandel, het in gebed ‘n vliegtuig veilig laat land nadat die loods aan ‘n hartaanval oorlede is.

            Die Tweemotorige King Air is besig om op te styg in Florida op ‘n drie-uur lange vlug na Louisiana. Dis ‘n huurvlug wat vir Doug Whyte (56) sy vrou en twee tienderjarige dogters na sy jonger broer se begrafnis moes neem. Hulle is op pad terug huis toe. 


            Aan boord is Doug en sy vrou en dogters en die loods met baie jare se ervaring, ‘n man wat selfs vegvliegtuie in Viënam gevlieg het. Doug  self het jare laas gevlieg. Sy vlieglisensie geld net vir ‘n klein Cessna.

            Omdat die King Air daardie dag nie ‘n mede-vlieënier had nie, kry Doug toestemming om voor langs die loods te sit want hy wou juis weer begin vlieg en wou ondervinding opdoen.

            Die instrumentepaneel van die King Air “lyk soos ‘n ruimtetuig sin in vergelyking met  die klein Cessna.” Doug verstaan daar niks van nie behalwe dat hy gou agterkom hoe die radioverbinding werk.

            Op ‘n hoogte van sewe duisend voet sterf die loods. Die vliegtuig is op auto-stuur en  klim voort die hoogtes is. Dis ‘n krisis, ‘n erge krisis.

            Nou peul die (geestelike) lewenslesse uit.

            Die vliegtuig verkeer in ‘n noodtoestand. Doug en sy vrou en hul dogters se lewens hang aan ‘n draadjie. Doug skuif agter die stuur in en baie kalm stuur hy ’n boodskap: “Hier is ‘n noodtoestand, die loods is bewusteloos. Ek het hulp hier bo nodig.”

            Grondbeheer kry die boodskap. Ook hulle is baie kalm.

            “Kan jy die vliegtuig beheer?”

“Die viegtuig is op auto-stuur en dit klim al na oor die 14 000vt. Ons moes op 10 000vt al horisontaal gevlieg het.”

Dit was belangrik om dadelik hierdie inligting deur te gee want Doug weet dat hulle kan nie bly styg nie, die enjins sal staak en dan val die King Air soos ‘n baksteen uit die lug.

Toe maak Doug bekend dat hy ‘n klein Cessna lisensie het, maar jare laas gevlieg het. Grondbeheer is in ‘n reuse gebou gesetel. Die hele gebou deur word per interkom gevra of daar iemand is wat ‘n King Air 200 kan vlieg.

‘n Jong meisie reageer, dinkende sy moet iewers heen vlieg. Sy het nog nooit ‘n passasier moes help om ‘n King Air op die grond te kry nie. Sy het geen keuse nie en word met Doug in verbinding gebring.

            Die meisie is die kalmte self. Sy vra vinnig ‘n paar vrae om die situasie te kan vasstel en ontleed. Geen waarskuwings nie, ook nie as dit en as dat nie, net positiewe riglyne en bemoediging.

            Dit was die sleutel tot ‘n uiteindelike suksesvolle landing: Geen vrees hoegenaamd nie, duidelike riglyne en bemoediging. Die vliegtuig moes deurentyd sy spoed behou om steeds betyds te kon land. In daardie stadium kon talle loodse in hul vliegtuie na die gesprek luister. Een het gereageer: “Hierdie man gaan dit nie maak nie.”

            Daarna is die kanaal geïsoleer en geen ander vliegtuigloods kon inluister nie. Doug het intussen gevra dat hulle vir hom die langste en wydste landingstrook gereed moes kry. Wat hy nie besef het nie was dat die landingstrook ook beskerm sou word deur talle brandweerwaens, verskeie  ambulanse, reddingsvoertuie en polisievoertuie.    

            Sowat 60km van die lughawe af, moet Doug oorskakel na ‘n ander frekwensie waar ‘n manspersoon hom moet inlei na die landing. Hy weet  nie hoe om dit te doen nie want voor hom is vier skerms nie net een soos in die Cessna nie. Weer bemoediging. En hy skakel dit oor.


 




 


Dis die derde persoon wat hom nou te hulp kom.  Weer sonder spanning, sonder vrees, duidelik riglyne en bemoediging.  Daar was strykdeur ook geen emosie betrokke nie en weer ‘n keer niemand wat ‘n King Air ken nie.

            As Doug in die passasierskant agter by sy vrou en kinders gaan sit het, sou hulle waarskynlik te laat besef het die loods is dood. Die HERE se voorsienigheid en Doug se gehoorsaamheid het beteken Doug kon onmiddellik oorneem.

            Hy het sy vrou na die stuurkajuit geroep om die liggam van die  loods daar weg te kry want dié het oor die kontroles gelê. Hy was in Doug se pad. Toe sy vrou nie die loods geroer kon kry nie het sy die veiligheidgordels so styf moontlik getrek sodat die loods penregop in sy stoel gesit het.

            Doug het toe gevra dat sy vrou en kinders agter in die vliegtuig moet gaan sit en bid dat die HERE hom sal help om veilig te land.

            Die volgende boodskap was dat die manne wat hom mos help, geen kennis van ‘n King Air had nie. Byna duisend km verder spoor hulle ‘n vriend op wat in sy kantoor sit en ‘n King Air soos die palm van sy hand ken. Hy gee die opdragte per selfoon aan die manne by die lughawe en hulle gee die opodragte weer deur aan Doug.

           Sien  daai stuurkajuit as jou binnekamer. Niemand weet jy is daar behalwe jyself en die Hemel nie. Jy verkeer daar in die Gees, sonder vrees, want die HERE het jou nie ‘n gees van vrees gegee nie. 2 Tim 1:7

Jy is kalm, jy het belangrike sake om net die HERE uit te praat. Moenie soos ‘n CD laat waai nie. Gee kans vir die HERE om met jou te kan praat. Wees vol hoop, rustig, kalm en bid wagtend. As Doug bly praat het, sou hy nooit al die antwoorde en opdragte gehoor het nie.

Let op, langs Doug sit die loods dood in sy stoel. Nie hy of grondbeheer het een keer oor die loods gepraat nie.  Dood was nou van geen belang nie. Net lewe was van belang. Doug het net reg aan die begin kortliks verduidelik hoekom hy die radio hanteer.

Dan is daar die doemprofeet: “Hy gaan dit nie maak nie.” Doug ignoreer die boodskap. Steur hom glad nie aan die man nie. En hoeveel keer leen ons nie ons ore uit aan oningeligtes nie? Vir die doemprofeet was dit ‘n uitgemaakte saak: Die King Air gaan val. Doemprofete is of ongelowiges of vleeslike Christene.

Doug het nie gehuil en gesmeek, om hulp nie, geen trane of emosie nie, net genoem dat hy hulp benodig om die vliegtuig op die grond te kry. So kan  ons ook leiding van die HEE kry, maar dan moet ons luister. Ons moet ook die handboek, die Bybel, ken. Ons moet gehoorsam wees.

Soos wat Doug sy vrou en kinders gevra  het om vir hom te bid, mag ons ook ander vra om vir ons te bid.

Ons loods het ook gesterf, maar Hy het opgestaan. Lugpersoneel op lughawens is nie vliegtuigloodse nie. Hulle beheer bloot lugverkeer. Daar moes  vir King Air loodse gesoek word om Doug te kon help. Ons het die Heilige Gees en die Heilige Engele altyd byderhand.

Tien mense het almal ‘n rol gespeel in Doug  se veilige landing. Al 10 is vereer vir hulle kordaatstuk. Sien die 10 as Engele. God het die hoogste eer ontvang. Doug het spesiale eer ontvang. Hy het voortgegaan met gevorderde opleiding en vlieg steeds op veral kommersiële  roetes.

Doug was in beheer van die King Air danksy die hulp van 10 ander mense. Moet nooit huiwer om die hulp van ander Gelowiges in te roep nie. Ons is soos een familie wat mekaar in en deur liefde en groot omgee dra. 

As dit oor siekte, jou probleemkind, jou huwelik, of oor wat ook al gaan...“Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” “Bid vir mekaar.” Jak 5:16 Die oplossing van jou probleem, is presies dieselfde as om veilig te kan land.

Almal wat by die King Air betrokke was, was eendragtig. Een-dragtig, beteken al 10 was swanger (dragtig) met die situasie. Hulle het saam ‘n veilige landing gebaar. Kry vir jou  Gelowiges wat eendragtig met jou die geestelike pad sal stap.

Doemprofete en twyfelaars kan “niks” van die HERE ontvang nie. Jak 1:6-7. – Wekroep