Dinsdag 29 September 2020

Nooi soveel gaste as moontlik!


Dis die einde van die wêreld soos wat ons dit geken het. Ons betree ‘n nuwe era. Alles gaan nou verander op pad na die Wegraping.

            Gelowiges gaan ‘n enorme sprong maak om so dig as moontlik saam met Jesus te wandel. Gelowiges gaan bekragtig word met gawes en geskenke om in die komende Herlewing sleutelrolle te vertolk.

            Volgens Efes 2:6 sit ons binne 'n Hemelse Koninkryk. En: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Kol 3:1-2

            Soos wat dit in die Hemel is, so gaan dit nou op die aarde word… die Bruid wat gereed maak vir die koms van haar Bruidegom.

            “Want ons burgerskap is in die Hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag, die HERE Jesus Christus.” Fil 3:20

            Jesus leer ons bid: “Soos in die Hemel, so ook op die aarde.” Daar is geen misdaad, siekte of armoede in die Hemel nie, ons gebed sal beantwoord word dat dit ook so op die aarde so sal wees… ten minste vir die rukkie wat ons en die Heilige Gees nog op die aarde sal wees.

            Terwyl die Bruid gereed maak vir die koms van die Bruidegom, word nagte deurgewerk om nog en nog gaste na die huwelik te nooi. Dit is die HERE se wens dat almal op aarde daar moet wees, juis daarom wat Sy koms vertraag word. 2 Pet 3:9

            Ons wandel van nou af suiwer in die geloof…op die dinge wat ons hoop (toekomsfeit) en op dit wat nie gesien word nie. Belowe vir ‘n kindjie iets en hy sal jou by jou belofte hou totdat jy dit nakom. Hiervandaan vorentoe staan ons op Sy beloftes… al 3 000 daarvan. Ons doen dit want ons het dit reeds beleef dat God ‘n waarmaker van sy Woord is.

            Hou dop hoe die kerk en die Ekklesia reeds besig is om te skei. Die Bruid sal sonder vlek of rimpel wees. Die wyse en die dwase maagde stap nie dieselfde pad nie, al lyk dit so.

            Ons grootste struikelblok is ons gemoed, ons gedagtes. Paulus beklemtoon dat dit vernuwe moet word. Lees die hele Kol 3 en laat dit in vervulling gaan on lewe. Maak gereed, Jy is die  Bruid. – Wekroep