Dinsdag 29 September 2020

Loof en Dans voor Hom oor al ons geskenke

 

Die HERE gee ons ‘n naam wat met die Wedergeboorte in die Boek van die Lewe geskryf word. Die satan gee aan ons ‘n nommer, 666. Die satan staan bekend a ‘n leuenaar en hy staan vir alles wat vals is . Sy 666 is bv baie naby aan die volmaakte getal 7.

            Maar ons, wat maak ons, ons wat die volmaakte besit, ons wat ‘n hoop geskenke van Hom ontvang het  waarmee ons satan en sy magte moet teenstaan en uiteindelik verslaan. Wat maak ons met al die Mag en Gesag wat aan ons gegee is?

            Gelowiges wat hier lees: Geseënd is julle in die naam van Jesus Christus! O ja, julle is beslis geseënd. Let op die volgende:

            Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën het met alle geestelike seëninge in die Hemele in Christus,” Efes. 1:4 Ons triomf berus op ontvang en dankie sê deur middel van Lofprysinge... want ons is reeds geseën.

            Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” Rom. 8:32. Ons triomf berus op Lofprysinge want Hy skenk ons alles genadiglik.

            Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godsaligheid lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

            In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloedgewaste ontvanger. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.

            Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.

            Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op Lofprysinge want ons is reeds genees.

            Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, Lofprysinge is ons triomf vir die gawe van die Heilige Gees. Ontvang net die Heilige Gees in jou lewe soos wat jy die Wedergeboorte ontvang het.

            “Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.

            Nou kan jy sien wat word bedoel met “kennis” en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.

            Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13

            God bevestig dit aan Hosea: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” Hos. 4:6

Mens moet jouself met Lofprysinge beklee. Dans sommer voor die HERE soos wat Dawid gedooen het.

            Let op watter mag en gesag God ons ook gegee het:

            “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Efes 6:12

            Dit beteken dat ons as Christene by totale oorlogvoering betrokke is teen verskeie onsigbare leërinstellings...  wesens sonder fisiese liggame. Hulle ontvang hul opdragte vanaf ‘n hoofkwartier wat in die ruimte gevestig is. Hulle doel is ‘n globale oorname. 

            Gebeure die afgelope jare en ‘n toename van belangstelling in die okkulte en die geestelike werkinge het Christene genoop om inligting en raad te kry oor geestelike oorlogvoering.

            Alhoewel die klem in die verlede op die bedrywighede van demone geval het, begin al hoe meer Christene besef dat demone nie die hoof kragte is wat ons bedreig nie.

            Omdat ons oorlogvoering op ‘n geestelike vlak afspeel, het God aan ons wapens voorsien om in hierdie besondere oorlog te kan optree.

            “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.” 2 Kor 10:3-5

            Hierdie wapens is dus nie fisies nie, maar geestelik, en “kragtig deur God om (satan se) vestings neer te werp” asook “om planne te verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.”

            Alhoewel dit die magtigste wapens is, sê die HERE in Sag. 4:6 “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”

            Kyk weer: “Om elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God...” Dit kom vanaf die satan se geestelike koninkryk in die “lug”.

            Daar is net twee magte op die aarde aan die werk, die mag van God en die mag van die satan. Die twee staan lynreg teenoor mekaar. Satan wil God se koninkryk vernietig en ons is die soldate wat die mag het om die aanslag af te weer en die satan se werke te vernietig.

            Ons, die ware gelowiges, is die enigste mense op aarde wat die mag het om hierdie wapens op te neem en die sataniese koninkryk te vernietig.

            Die mees belangrikste aspek van hierdie oorlog egter, is om te onthou dat God deur Jesus Christus reeds die werke  van satan totaal vernietig het. Ons moet dus op ‘n vlak van oorwinning lewe.

            In Kol. 2:15 staan dat God die “vyandskap” van die satan “tot niet gemaak het” deur sy “vrede” wat hy tussen Christus en ons bewerk het sodat ons en Christus nou een is.

            Dit word herhaal in 1 Kor. 2:14 “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.” ‘n Triomf is nie net die eintlike oorwinning wat behaal word nie, maar die feesvieringe van die oorwinning wat reeds behaal is.

            Net terloops: Ons weet dat die volk ten gronde gaan weens ‘n gebrek aan kennis, maar daardie kennis moet deur ons versprei word want 1 Kor. 2:14 sê God wil die reuk van Sy kennis deur ons versprei.

            Christus het die oorwinning oor satan namens ons behaal, maar Christus het die verantwoordelikheid aan ons opgedra om die oorwinning te bevestig en dit te administreer namens Hom. “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” Luk 10:19. “Hy sal sy Engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.” Ps 91:11.

Dank die HERE elke oggend vir nog ‘n wonderlike belofte: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe.” – Wekroep