'n Seun, in 'n Christen huisgesin, het namate hy ouer word, eiesinnig en spandabelrige gewoontes aangekweek. Hy het met sy besadigde pa baklei omdat hy hom nie die geld, wat hy wou hê, wou gee nie.
Hy het die huis stormagtig verlaat en hom oorgegee aan 'n roekelose lewe. Soos die Verlore Seun in Jesus se gelykenis, het hy 'n verdorwe rondloper geword. ‘n Tipiese nikswerd.
Die dag het aangebreek dat hy totaal platsak en wanhopig was. Toe dink hy aan sy pa en sy huis, maar ongelukkig níé soos die Verlore Seun nie.
"My pa skuld my 'n bestaan," redeneer hy met homself. "Ek sal dit self vat." Hy hou die huis dop en een aand, toe die hele gesin uit is, breek hy in. Hy het die huis en die veiligheidstelsel goed geken. Die inbraak was vir hom maklik. Hy het ook geweet waar al die waardevolle goed, ook die brandkluis se sleutel, se bêreplekke is.
In die nagstilte soek hy geld. Tussen ander waardevolle dokumente kry hy sy pa se Testament. Met nuuskierige oë lees hy die Testament. Dit weerspieël 'n groot boedel.
Sy naam staan tussen dié van ander erfgename, met 'n groot erflating by sy naam. As sy pa sou sterf, gaan hy 'n rykman wees. 'n Moordgedagte kom in hom op. Hy skrik vir homself. Hy lees die Testament weer en 'n stilte kom in sy gemoed.
Die pa met wie hy so getwis het, wie hy gevloek en verwens het, teen wie hy so verbitterd was, het nie sy naam uit die Testament geskrap nie.
"Kan dit wees," vra hy homself af, "dat my pa my nog liefhet? Wil hy my, na al die skande en smart wat ek oor hom gebring het, nog as seun hê?" Hy is verbysterd.
Herinneringe oor die aangename jare wat hy as kind en gehoorsame seun in sy ouerhuis gehad het, spoel oor sy gemoed. Hy sien in sy gedagtes die goeie jare wat vir hom kan voorlê, in sy huis by sy ouers.
Hy sak in een van die groot gemakstoele neer, druk sy sakdoek teen sy gesig en begin huil. Later die nag kry sy ouers hom in die stoel, sakdoek nog oor sy gesig, aan die slaap. Op sy knieë lê die Testament, sy vinger by sy naam.
Sy pa en ma weet met diepe liefde en ongekende blydskap, hulle kind het huis toe gekom.
Jesus het die verhaal van die Verlore Seun vertel om sélf te illustreer hoe God die mens, wat sy rug op Hom gedraai het, Hom verag en gesmaad het, steeds liefhet en as kind wil verwelkom. Ons erflating in God se Testament, die Ewige Lewe, is met Christus se bloed geskryf. Die Heilige Gees bring deur die Evangelie die wete van 'n erfenis by God, na ons toe. Hy werk in ons hart die sondebesef en gebrokenheid, wat ons na God toe laat keer.
In Suid-Afrika het menige ouers met sulke seuns en dogters gesukkel. Dit was vir hulle ‘n sware las, maar by hulle laaste stilhouplek, het die kind na Jesus teruggekeer.
So is ‘n alkoholis op sy knieë by sy bed gekry met sy oop Bybel voor hom. HERE, wat ‘n deurbraak.
In ander geval het ‘n ouerpaar deur groot trauma met hul seun gegaan. Hy is een nag in sy slaap Huis toe. Skrywer het kort daarna na ‘n bandopname van die seun geluister. Hy het in trane Jesus se lof besing.
By so ‘n begrafnis moet geen swart en rou wees nie... liewer ‘n wit kar, ‘n wit kis en oorwinningsliedere.
Gaan lees weer self die lewensverhaal van Petrus en hoe ook hy teruggekom het. God se Genade is onmeetbaar.
Is jy flenters? Jesus heel die gebroke harte: "So is ons dan deur Sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die Ewige Lewe wat ons verwag." Titus 3:7
Jou naam staan in die Boek van die Lewe en jy is en bly ‘n erfgenaam... dis jou beurt om terug te kom. – Wekroep