Wys tans plasings met die etiket saai en jy sal maai. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket saai en jy sal maai. Wys alle plasings

Vrydag 26 Julie 2019

Die Bank van die Here


Gee... en jy sal beslis ontvang


Ons kry swaar... nadat ek 46 jaar gelede alles verloor het, geld, beleggings, polisse, huis,voertuie, alles. Al wat ons kon bekostig om in te woon was ‘n probeerslag een slaapkamer woonstelletjie in iemand se agterplaas... vas aan die motorhuis... waar mens menige nag erge geraas moes verduur.

            My nuwe lewe begin as Wedergeborene heel van vooraf... saam met my Wedergebore vrou en tweejarige dogtertjie... Een ding weet ek vir ‘n feit, ek is gered om die Koninkryk te help bou, dat alle Wedergeborenes gered is vir  dieselfde doel, maar meeste besef dit nie (of hulle wil dit nie besef nie).

            Dis al wat ek weet. Wat die res van my lewe betref, weet ek niks, dit sal maar van dag tot dag moet ontwikkel soos wat die HERE aandui.

            Ek gaan vir die eerste keer sedert my gedwonge kinderdae, kerk toe, maar ek soek honderde antwoorde.

            So besluit ek om – met die predikant se toestemming – my Sondae na kerk in ‘n bidkamer toe te sluit en die aangesig van die HERE te soek terwyl ek heel Sondag vas. Ek bid en boer in die Bybel en ek leer ontsaglike dinge uit die Woord.

            Dis of die Bybel skielik vir my oopgaan soos die heerlike verfrissende waterstrome uit die berge na die sneeu in die Boland.

            Ek kry ‘n plan. Alhoewel ek ‘n werk het, sal ek nooit weer finansieel bo kom as ek nie ‘n bykomende inkomste genereer nie.

So besluit ek om ‘n eie besigheid te begin opbou... ek gaan vars vis verkoop, van huis tot huis...Net soos ou Moerat in my kinderdae met sy  een perd kapwa in die Paarl verkoop het. Ek sal vir my ook ‘n Shofar kry om my koms in ‘n straat aan te kondig,

            In die hawe gesels ek met ‘n groot vismaatskappy en hulle sê dis reg, ek kan so veel vis soos wat ek benodig kontant en groothandel by hulle koop.

            Ek ry ‘n ou Mercedes 190. Ek durf nie vinniger as 90km per uur ry nie, dan val die dak in. Selfbejammering bestaan nie, net moed en geloof en durf.

            Vishouers, wat darem in die motor pas, en ‘n skaaltjie is aangeskaf en alles is gereed om die komende week my besigheid te begin.

            Die Sondagoggend sit ek in die kerk en die predikant praat oor die boufonds en doen ‘n beroep op almal om te bid en welke vermoëns ook al in te span om die boufonds en die opgehoopte rente ernstig aandag te gee.

            Die hele storie pla my min. Ek is opgewonde oor my groot planne en eie besigheid.

            Ek sien niks, maar skielik is hier iemand langs my in die bank en ek hoor die

Iemand sê vir my ek moet ‘n offer bring en alles wat ek met die vis verdien moet ek aan die boufonds oorbetaal. Ek mag ook geen onkoste wat ek aangaan uit die opbrengs onttrek nie. Dadelik weet ek dis die HERE wat praat.

            Toe kry ek myself baie jammer. Dis so onregverdig. Ek is ‘n gebreekte man, stukkend, flenters... ek probeer die stukkies optel om weer aan die gang te kom en nou moet ek my vis afgee.

Ek was die res van die dag doodstil, wou met niemand praat nie. Die hele saak lê soos ‘n onoorkombare berg voor my.

Die Maandagoggend gaan ek saam met predikant visvang. Al my hoop is nou op hom vir wyse raad, straks ‘n kompromie. Op pad na die viswaters vertel ek hom in detail van my penarie, van my visplan en die stem gisteroggend in die kerk.

Ek vertel hom, neem hom in my vertroue, want ek hoop hy sal vir my sê dis okei, ek hoef nie my visgeld vir die boufonds te gee nie, hulle sal regkom en dat ek die visgeld moet gebruik om my toekoms mee te bou. Daar was niks mee verkeerd om so te hoop nie, of was daar?

Hy sit doodstil hier langs my in die motor, aandagtig en luister, want ek lewer my storie soos ‘n pleidooi... Ag Here Jesus help tog asseblief.

En dan het ek my storie klaar vertel en ek koester ‘n blye hoop.

Ineens praat hy: “Broer, jy sal moet maak soos die HERE sê anders het jy groter probleme.”

En daar bars ek in trane uit terwyl ek bestuur. Maskas, kan ‘n predikant so wreed wees? Die man het geen empatie nie.

Daar is nie ‘n woord verder gepraat nie. Dis visvangery was onsuksesvol en ons is met leë mandjies huis toe.

Op pad om die eerste vis by die vismaatskappy in die hawe te gaan aankoop, kom ‘n blydskap oor my en skielik weet ek: Verkoop soveel vis soos wat jy kan, want dis vir die HERE en die HERE sal jou nooit teleurstel nie. Die seuntjie in die Bybel het sy vissies en broodjies gegee en kyk wat het daarvan geword?

Uiteindelik tog soek ek nie hulp nie, ek het wonderwerke nodig!

En so was dit... die vis was nie langer myne nie, maar die blydskap was.

Die satan het alles gevat wat ek gehad het en my niks teruggee nie. Die HERE vat nie net nie, Hy gee tienvoudig terug.

En so is dit nog my lewe lank, ek gee die 10% en die HERE gee die 90%. Hoe meer ek gee, hoe meer gee Hy.

“Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.” Ps 37:25

“En Ek sal julle vergoed vir die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het...” Joël 2:25

Dis hoe die Bank van die Hemel se ekonomie werk. – Wekroep 

Sondag 10 September 2017

Die saad wat nooit sterf nie


Image result for seeds images

In 1754 het 'n oorlog tussen die Britte en Franse in Kanada gewoed. Die Indiane het die Franse ondersteun.
'n Groep Indiane het op 'n eensame huis afgekom. Die pa, die oudste seun en twee dogters was in die huis. Hulle het die twee mans doodgemaak en die twee dogters, Barbara en Regina, saamgeneem. Regina was 9 jaar oud; Barbara was 11. Van Barbara is nooit weer gehoor nie.
Regina is aan 'n ou Indiaan vrou gegee. Hier het sy gebly totdat sy 19 jaar oud was. Sy het haar opvoeding tuis nie vergeet nie. Sy het aangehou om elke aand te bid. Bybelversies wat sy geken het, het sy gedurig herhaal. Een lied wat sy geleer het, het sy wanneer moontlik gesing. "Alone, yet not alone am I, though in this solitude so drear. I feel my Saviour always nigh".
Sy het bly bid en gehoop dat die HERE haar weer aan haar mense sou teruggee. In 1764 het 'n Britse kolonel die Indiane se blyplek ontdek en aangeval. Nie minder nie as 400 gevangenes kon gered word. Regina was een van hulle.
Na 10 jaar onder die Indiane het meeste hulle taal en name vergeet. Hulle voorkoms het ook heeltemal verander. Hulle het, behalwe vir hulle ligter velkleur, soos Indiane gelyk, gepraat en Indiaan name gehad.
Die kolonel het hulle geklee en gevoed en na die dorpie, Carlisle, geneem. Die nuus is wyd bekend gemaak en mense wie se kinders ontvoer was, is aangemoedig om hulle mense te kom uitken.
Regina se treurende ma het nie op haar laat wag nie. Op en af tussen die rye gevangenes het sy gesoek, maar kon haar dogters nie kry nie.
In haar groot teleurstelling het sy ontroosbaar aan die huil gegaan. Radeloos het die kolonel gevra, of daar nie iets was, soos byvoorbeeld familiename waarop die dogters sou reageer nie.
Op die ingewing van die oomblik het die ma so hard as wat sy kon "Alone, yet not alone, am I…" begin sing. https://www.youtube.com/watch?v=3UR7jxvD5lc
Skaars het sy begin sing of Regina kom singend tussen die ander uitgestorm, reg in haar ma sy arms in.
Die vroeë saadjies het, ongeag die swaar tye, bly groei en die vreugdevolle vrug gedra.
            In elkeen van ons se lewens kan ons die bome en vrugte raaksien, wat lank gelede in ons lewens gesaai is. In ons kinders se lewens is ook bome en vrugte van vroeë saadjies te vinde.
Dit is goed as dit goeie saad was. Dit is baie goed as dit Evangelie- en geloofsaad was! "Ek sal My Gees uitgiet op jou kinders, My seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope." Jes 44:3-5

Saterdag 30 Julie 2016

Wie volop Saai sal (vir seker) volop Maai


Image result for saai

Hieroor is daar geen twyfel nie. 2 Kor. 8 en 9 leer dat aan elke Christen die rentmeesterskap van geld toevertrou is. Iemand mag miljoene bymekaarmaak en steeds ‘n mislukking wees – selfs die Ewigheid misloop.
            Die rykste mens is hy wat ander rondom hom die meeste verryk. As jou geld in jou sak nog nie aan God behoort nie, het jy nog nie ‘n volle oorgawe aan die HERE gemaak nie.
            Die lewenswet oor rykdom en oorvloed, is soos die wet op swaartekrag – niemand kan dit verander nie want dit is deur God self ingestel. Wie volop saai sal volop maai en wie spaarsamig saai sal spaarsamig maai.  Om te kan ontvang moet jy gee!
            Daar is mense wat wel hulle tiende gee en met die res maak wat hulle wil.  Ook dit is ‘n probleem want alles wat jy besit behoort aan God en hoe jy dit spandeer raak Hom want Hy het jou as rentmeester aangestel oor alles wat jy besit.
            Wat sê die Skrif: Hoe moet ‘n Christen se geld en besittings tot eer van God aanwend?

•          Gee, is ‘n Geestelike Genadegawe 2 Kor 8:6-7. Om geld tot God se werk by te dra, is nie ‘n handelstransaksie nie. Ons is nie in ‘n sake vennootskap met God nie.
            Om te kan gee is ‘n verpligting en vorm deel van ons geestelike aanbidding. God sê Hy het ‘n blymoedige gewer lief. 2 Kor 9:7
Die klem val op die blymoedig. Dit moet vir ons blydskap wees om vir God te kan gee want ons help om die Koninkryk te bou.
            Dink daaraan: Wanneer hulle jou lyk hier begrawe is jy in die Hiernamaals. Gaan lees maar in Openbaring wat ‘n wonderwêreld dit nie gaan wees nie, boonop met sy nuwe hoofstad Jerusalem.
            Dis hoekom jy hier op aarde is: Om vir God te lewe, om jou voor te berei vir die wonder van die Hiernamaals, vir die Ewige Lewe, om intussen te help om daardie wonder Koninkryk te bou.
            Ja, in die oë van God is ons baie belangrik. Ons is Sy Volk. Ons is Sy eiendom. Ons is Sy Erfgename. Ons is Sy medewerkers.
            Goedhartigheid en goud is nodig vir die onderhoud van die Godsaak. ‘n Goeie kwaliteit goedhartigheid sal altyd ‘n goeie kwaliteit goud voortbring. Dit beteken nie dat waar daar baie goud is, daar baie goedhartigheid is nie, want daar kan  baie goud wees en geen goedhartigheid nie.
            Gee is egter ‘n geestelike genadegawe. As jy dit op hierdie wyse beoefen sal daar nooit enige gebrek in die Koninkryk van God wees nie en ook nie in jou huis en in jou lewe nie.

•          Gee is ‘n bewys van Liefde. 2 Kor 8.8. Liefde sal altyd gee; gee sonder berekening van koste; gee sonder oorweging van die offer. Die Liefde van God is bewys deur die gawe van God aan ons (Joh. 3:16).

            God het nog altyd liefgehad. Daardie Liefde het in dié gawe ‘n brandpunt gevind. As ons God liefhet, sal ons, ons geld aan God gee vir die werk van God op aarde.
            As ons die Liefde nie het nie, het ons ‘n luidende simbaal geword. Jesus vra drie keer aan Petrus: Het jy My Lief? Petrus verstaan elke keer fileo (menslike liefde) en antwoord elke keer ja. Maar Jesus het bedoel agapé (Goddelike Liefde).
            Ja, ons moet God en mekaar met Goddelike Liefde liefhê. Goddelike Liefde faal nooit. Toe Jesus Christus die aarde verlaat het, het Hy vir ons die Nuwe Gebod, die Gebod van Goddelike Liefde nagelaat. Dit is ‘n gawe, ‘n gawe wat ‘n geskenk is, wat ons in ontvangs moet neem soos wat ons, ons redding as geskenk in ontvangs geneem het.
            Goddelike liefde gee en gee onvoorwaardelik. Menslike liefde huiwer, twyfel, vrees, is vol komplekse, is nooit eg nie en faal keer op keer!

•          Die besieling van Gee. 2 Kor 8: 9. Jesus Christus was ryk aan voorregte en krag. Hy het ‘n woning by die Vader prysgegee vir ‘n stal, ‘n sondelose Hemel vir ‘n sondebevlekte aarde, ‘n onoortreflike heerlikheid in majesteit vir ‘n skandvolle dood, ‘n troon vir ‘n kruis. Fil. 2:5-11. Maar daarmee het hy die wêreld verryk en aan almal geleentheid gebied om die Nuwe Jerusalem te bereik.

Dis die besieling waarmee ons moet gee – ons geld moet gee, ons besittings moet aanbied, ‘n helpende hand moet uitsteek, altyd gasvry moet wees.

•          Hoe om te gee:
a)        Ruimskoots 2 Kor 8:1-3. ‘n Armoedige beursie maar ‘n vrygewige hart. Lukas 6:38 is die Bybel se beskouing van vrygewigheid.
b)        Vrywilliglik 2 Kor 8:3). Die klem val op vrywillig in 1 Kron. 29:6-17).  Geen dwang behalwe die van Liefde nie.
c)         Proporsioneel 2 Kor 8:11-15.  Volgens wat iemand besit, en nie in vergelyking met iemand anders gee nie, maar namate God hom reeds geseën het.  1 Kor. 16:1,2.
d)        Oorvloediglik  2 Kor 9:6.  Die Jood het sewe-dertigstes van sy hele inkomste vir die tempeldiens gegee; dit was onder die Wet. Behoort ons dan te waag om minder te gee onder die Genade? Is jy besig om God te beroof volgens Mal. 3:8-10? As jy God beroof, beroof jy ook jouself en jou gesin want wie volop saai sal (beslis) volop maai!
e)        Blymoediglik 2 Kor 9:7. Geen gekla of bittere afskeid van jou geld nie, dan kan jy dit maar net sowel los. Met so ‘n gesindheid sal jy beslis geen seën ontvang nie. Gee blymoediglik, met ‘n glimlag, gee omdat jy graag wil gee, omdat jy God waarlik liefhet.

•          Voordele van Gee 2 Kor 9:12:
a)        God se behoeftiges word gehelp (vs 12)
b)        Ontwikkel die Genadegawe van danksegging (vs 12)
c)         God verheerlik deur hierdie gawes (vs 13)
d)        Die gemeenskap van Liefde en gebed word ontwikkel (vs 14).

•          Ewige verryking 2 Kor 9:8,11). Oorvloedige rykdom in alle goeie werke, te alle tye, deur algenoegsame genade, kristalliseer uit op die verryking van die lewe vir ander. Dit is Hemel op aarde.

Spr 11:25: “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf”. Om te kan ontvang moet ons gee. Om bymekaar te maak, moet ons steeds meer gee. Om geestelik in oorwinning te leef, moet ons die geestelike heil van ander soek. Deur ander te laaf, laaf ons onsself.
Dit is God se manier van doen en vorm ‘n skrille kontras met die menslike vlak van dinge doen. God sê: Met die maat waarmee jy gee, sal jy gemeet word! – Sjibbolet