Saterdag 30 Julie 2016

Wie volop Saai sal (vir seker) volop Maai


Image result for saai

Hieroor is daar geen twyfel nie. 2 Kor. 8 en 9 leer dat aan elke Christen die rentmeesterskap van geld toevertrou is. Iemand mag miljoene bymekaarmaak en steeds ‘n mislukking wees – selfs die Ewigheid misloop.
            Die rykste mens is hy wat ander rondom hom die meeste verryk. As jou geld in jou sak nog nie aan God behoort nie, het jy nog nie ‘n volle oorgawe aan die HERE gemaak nie.
            Die lewenswet oor rykdom en oorvloed, is soos die wet op swaartekrag – niemand kan dit verander nie want dit is deur God self ingestel. Wie volop saai sal volop maai en wie spaarsamig saai sal spaarsamig maai.  Om te kan ontvang moet jy gee!
            Daar is mense wat wel hulle tiende gee en met die res maak wat hulle wil.  Ook dit is ‘n probleem want alles wat jy besit behoort aan God en hoe jy dit spandeer raak Hom want Hy het jou as rentmeester aangestel oor alles wat jy besit.
            Wat sê die Skrif: Hoe moet ‘n Christen se geld en besittings tot eer van God aanwend?

•          Gee, is ‘n Geestelike Genadegawe 2 Kor 8:6-7. Om geld tot God se werk by te dra, is nie ‘n handelstransaksie nie. Ons is nie in ‘n sake vennootskap met God nie.
            Om te kan gee is ‘n verpligting en vorm deel van ons geestelike aanbidding. God sê Hy het ‘n blymoedige gewer lief. 2 Kor 9:7
Die klem val op die blymoedig. Dit moet vir ons blydskap wees om vir God te kan gee want ons help om die Koninkryk te bou.
            Dink daaraan: Wanneer hulle jou lyk hier begrawe is jy in die Hiernamaals. Gaan lees maar in Openbaring wat ‘n wonderwêreld dit nie gaan wees nie, boonop met sy nuwe hoofstad Jerusalem.
            Dis hoekom jy hier op aarde is: Om vir God te lewe, om jou voor te berei vir die wonder van die Hiernamaals, vir die Ewige Lewe, om intussen te help om daardie wonder Koninkryk te bou.
            Ja, in die oë van God is ons baie belangrik. Ons is Sy Volk. Ons is Sy eiendom. Ons is Sy Erfgename. Ons is Sy medewerkers.
            Goedhartigheid en goud is nodig vir die onderhoud van die Godsaak. ‘n Goeie kwaliteit goedhartigheid sal altyd ‘n goeie kwaliteit goud voortbring. Dit beteken nie dat waar daar baie goud is, daar baie goedhartigheid is nie, want daar kan  baie goud wees en geen goedhartigheid nie.
            Gee is egter ‘n geestelike genadegawe. As jy dit op hierdie wyse beoefen sal daar nooit enige gebrek in die Koninkryk van God wees nie en ook nie in jou huis en in jou lewe nie.

•          Gee is ‘n bewys van Liefde. 2 Kor 8.8. Liefde sal altyd gee; gee sonder berekening van koste; gee sonder oorweging van die offer. Die Liefde van God is bewys deur die gawe van God aan ons (Joh. 3:16).

            God het nog altyd liefgehad. Daardie Liefde het in dié gawe ‘n brandpunt gevind. As ons God liefhet, sal ons, ons geld aan God gee vir die werk van God op aarde.
            As ons die Liefde nie het nie, het ons ‘n luidende simbaal geword. Jesus vra drie keer aan Petrus: Het jy My Lief? Petrus verstaan elke keer fileo (menslike liefde) en antwoord elke keer ja. Maar Jesus het bedoel agapé (Goddelike Liefde).
            Ja, ons moet God en mekaar met Goddelike Liefde liefhê. Goddelike Liefde faal nooit. Toe Jesus Christus die aarde verlaat het, het Hy vir ons die Nuwe Gebod, die Gebod van Goddelike Liefde nagelaat. Dit is ‘n gawe, ‘n gawe wat ‘n geskenk is, wat ons in ontvangs moet neem soos wat ons, ons redding as geskenk in ontvangs geneem het.
            Goddelike liefde gee en gee onvoorwaardelik. Menslike liefde huiwer, twyfel, vrees, is vol komplekse, is nooit eg nie en faal keer op keer!

•          Die besieling van Gee. 2 Kor 8: 9. Jesus Christus was ryk aan voorregte en krag. Hy het ‘n woning by die Vader prysgegee vir ‘n stal, ‘n sondelose Hemel vir ‘n sondebevlekte aarde, ‘n onoortreflike heerlikheid in majesteit vir ‘n skandvolle dood, ‘n troon vir ‘n kruis. Fil. 2:5-11. Maar daarmee het hy die wêreld verryk en aan almal geleentheid gebied om die Nuwe Jerusalem te bereik.

Dis die besieling waarmee ons moet gee – ons geld moet gee, ons besittings moet aanbied, ‘n helpende hand moet uitsteek, altyd gasvry moet wees.

•          Hoe om te gee:
a)        Ruimskoots 2 Kor 8:1-3. ‘n Armoedige beursie maar ‘n vrygewige hart. Lukas 6:38 is die Bybel se beskouing van vrygewigheid.
b)        Vrywilliglik 2 Kor 8:3). Die klem val op vrywillig in 1 Kron. 29:6-17).  Geen dwang behalwe die van Liefde nie.
c)         Proporsioneel 2 Kor 8:11-15.  Volgens wat iemand besit, en nie in vergelyking met iemand anders gee nie, maar namate God hom reeds geseën het.  1 Kor. 16:1,2.
d)        Oorvloediglik  2 Kor 9:6.  Die Jood het sewe-dertigstes van sy hele inkomste vir die tempeldiens gegee; dit was onder die Wet. Behoort ons dan te waag om minder te gee onder die Genade? Is jy besig om God te beroof volgens Mal. 3:8-10? As jy God beroof, beroof jy ook jouself en jou gesin want wie volop saai sal (beslis) volop maai!
e)        Blymoediglik 2 Kor 9:7. Geen gekla of bittere afskeid van jou geld nie, dan kan jy dit maar net sowel los. Met so ‘n gesindheid sal jy beslis geen seën ontvang nie. Gee blymoediglik, met ‘n glimlag, gee omdat jy graag wil gee, omdat jy God waarlik liefhet.

•          Voordele van Gee 2 Kor 9:12:
a)        God se behoeftiges word gehelp (vs 12)
b)        Ontwikkel die Genadegawe van danksegging (vs 12)
c)         God verheerlik deur hierdie gawes (vs 13)
d)        Die gemeenskap van Liefde en gebed word ontwikkel (vs 14).

•          Ewige verryking 2 Kor 9:8,11). Oorvloedige rykdom in alle goeie werke, te alle tye, deur algenoegsame genade, kristalliseer uit op die verryking van die lewe vir ander. Dit is Hemel op aarde.

Spr 11:25: “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf”. Om te kan ontvang moet ons gee. Om bymekaar te maak, moet ons steeds meer gee. Om geestelik in oorwinning te leef, moet ons die geestelike heil van ander soek. Deur ander te laaf, laaf ons onsself.
Dit is God se manier van doen en vorm ‘n skrille kontras met die menslike vlak van dinge doen. God sê: Met die maat waarmee jy gee, sal jy gemeet word! – Sjibbolet