’n Meisietjie het elke dag skool toe en terug geloop, omdat hulle huis nie ver van die skool af was nie. Een dag het die wind opgekom en donderweer, met blitse en dreuning, het opgesteek.
Die ma het gedink haqar kind sou bang wees om in so ’n storm huis toe te loop en ry toe met die motor om haar te gaan haal. Die meisietjie kom toe al aangestap, ewe vrymoedig en sonder vrees. Elke keer as dit blits, staan sy ’n oomblik stil, kyk op, probeer net nog mooier lyk en glimlag. Blits na blits beantwoord sy met ’n glimlag. Die ma hou by haar stil, draai die ruit af en vra: “Wat doen jy, Kindjie? Hoekom gaan jy elke keer staan wanneer die weerlig slaan?” Die kind antwoord vrolik. “Ek probeer mooi lyk, want God neem foto’s van my.”
Bewus van God se teenwoordigheid kan ons in ons lewenstorms ook glimlag en vir God in ons omstandighede probeer mooi lyk.
Met die dissipels, en meesal seker met ons ook, het dit anders gegaan: Markus 4:37-40 En ’n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?
En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ’n groot stilte gekom.
Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?
Komaaan, vertrou die HERE altyd en in alle omstandighede.