Dinsdag 23 Augustus 2016

Die Wind is altyd in ons Guns


Image result for wind blowing 


"Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is." Joh 3:8

           Dr. John Henry Jowett, ‘n prediker van Engeland wat ook lank in Amerika gepreek het,  het een oggend in sy studeerkamer, vir sy preek, die betekenis van Jesus se woorde aan Nikodemus in Joh 3:8 bepeins: "Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is."

            Hy kon die betekenis van Jesus se woorde oor die wind nie heeltemal begryp nie. Hy besluit om 'n ent te gaan stap, die wind oor hom te voel waai en sy hart vir dieper begrip oop te maak. Dit was 'n helder lenteoggend, skoon en koel.
            Hy stap langs die see af en verlustig hom aan die branders. Op 'n afstand sien hy skepe in die hawe lê. Hy sien ook naby die breekwater 'n ou matroos sit; mes in die hand, pyp in die mond, besig om 'n tou te las. "As enige iemand die wind kan verklaar, sal hierdie ou seeman dit kan doen," het Howett gedink.
            Hy gaan sit langs die ou man en vra vriendelik: "Kan jy vir my die wind verklaar?" Die ou seeman trek aan sy pyp, kyk uit oor die golwende Noordsee, rig sy oë op die bollende seile van die skepe in die hawe. "Nee," antwoord hy. "Ek kan nie die wind verklaar nie, maar ek kan 'n seil span."
            Dr. Howett het sy antwoord gekry!
            Die werking van die Heilige Gees in ons en selfs deur ons, is vir ons onbegryplik, maar ons kan ons hart oopstel en die Gees gehoorsaam. Die Heilige Gees is in ons guns.
            Ons moet ons seile span vir die wind van die Hemel. Hoe span ons, ons seile?
            Ons moet eendragtig wees, oopgestel en gehoorsaam. Ook moet ons biddend wees en eendragtig in die gebed. “Die vurige gebed van die regverdige het groot krag.” Jak.5:16
            Ons moet in afwagting of dan verwagting leef, die wind van die Hemel verwag. As ons waarlik in afwagting leef vir die Heilige Gees en die Wederkoms, dan lewe ons in Hoop soos in toekomsfeit, en nie soos “ek wens” nie.  Matt 21:22; Luk 24:49.
            Ware afwagting vereis geloof. Kom ons bid in afwagting van die Hemelse Wind vir die grootste Herlewing wat Suid-Afrika of die wêreld nog ooit beleef het. Hand 2:38. – Sjibbolet