Woensdag 31 Augustus 2016

God is groter as El-Nino, groter as enigiets!


Image result for rainWaar is 36-miljoen RSA Christene se Geloof?

“Selfs in Israel het Ek nie so ‘n groot geloof gevind nie.” (En in Suid-Afrika?)
          Dit is wat Jesus Christus in Matt. 8:5-13 aan die offisier van Herodus, Antipas gesê het.  Kon Hy of enigiemand anders dit al van jou, van ons, geloof gesê het?
          Jesus kom in Kapérnaum en die Hoofman oor ‘n Honderd smeek hom:  “My kneg lê verlam en hy ly hewige pyne.”
          Jesus vir hom:  “Ek sal kom en hom gesond maak.”
          Maar die Hoofman antwoord:  “HERE, ek is dit nie werd dat U onder my dak inkom nie, maar spreek  net ‘n woord, en my kneg sal gesond word!”
          En dan motiveer hy sy stelling:  “Want ek is ook ‘n man onder gesag en ek het soldate onder my.  En vir hierdie een sê ek: Gaan!  En hy gaan; en vir die ander een: Kom! En hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! En hy doen dit.”
          Toe Jesus dit hoor, het Hy hom verwonder en aan sy volgelinge gesê:  “Selfs in Israel het ek so ‘n groot geloof nie gevind nie!” (Mens mag weer vra:  En in Suid-Afrika?)
          Altesame 36 miljoen mense in SA klassifiseer hulself as Christene. Die Weerburo het Maandag gesê die droogte duur voort met min of geen kanse op reën vir die lente en somer nie. Die waarheid is dat God ver groter is as weerverskynsels. Laat ons Hom vertrou vir reën. Halleluja!
Aan alle wedergeborenes is ‘n “mate van geloof” gegee.  Dis vir ons om ons geloof uit te bou soos wat ons geestelik tot wasdom groei. God vra dit van ons.
          Maar wanneer ons geloof nie in aksie is nie, dan sê Jesus verder:  “Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van die ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die Koninkryk van die Hemele.  Maar die kinders van die Koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis.  Daar sal geween wees en ‘n gekners van tande.”
          Die offisier was ‘n heiden wat nietemin eerbied gehad het vir die Christen Godsdiens.  Jesus moes dalk vir homself afgevra het:  Moet Ek sy kneg genees?  Dit was ongehoord dat ‘n Joodse leraar by die huis van ‘n heiden ingaan.
          Jesus se optrede en wat Hy daarna sê is, dat nie afkoms van Abraham nie, maar geloof, toegang gee tot die Koninkryk van die Hemele.  Hy genees dus die kneg.
          Eerbied en ware geloof is ook die antwoord op die probleme van vandag.

          Heb. 11 vanaf strofe 17:

•          Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer.
•          Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.
•          Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën.
•          Deur die geloof is Moses na sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek.
•          Deur die geloof het Moses toe hy grootgeword het, geweier om die seun van farao se dogter genoem te word.
•          Deur die geloof het Moses Egipte verlaat.
•          Deur die geloof  het Moses die pasga gehou.
•          Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan.
•          Deur die geloof het die mure van Jerigo geval.
•          Deur die geloof het Ragab die hoer nie saam met die ongehoorsames omgekom nie.

En dan strofe 32:  “En wat sal ek nog meer sê (oor al hierdie geloofs-dinamika)?
            Want die tyd sal my ontbreek as ek (ook) van Gideon, Barak en Simeon en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou vertel ......”
            Let nou op na strofe 33: “... wat deur die geloof:

•          koninkryke oorweldig het!
•          geregtigheid uitgeoefen het!
•          beloftes verkry het!
•          bekke van leeus toegestop het!
•          die krag van vuur uitgeblus het!
•          die skerpte van die swaard ontvlug het!
•          krag uit swakheid ontvang het!
•          dapper gewees het in die oorlog!
•          leërs van vreemdes op die vlug gedryf het!”

Kyk weer na die tweede laaste reel:  DAPPER gewees het in die oorlog!  DAPPER beteken:  Vasberade, onverskrokke. Dit beteken ook: onwankelbaar en onbuigsaam, beginselvas, dus, ook iemand wat geen kompromie aangaan nie.
            Het ons geloof?  Natuurlik het ons geloof?  Ons het dit by die wedergeboorte ontvang. Maar,  Lewe ons deur die geloof....... ?
Om te sê ons sal probeer om deur die geloof te lewe is so goed as om vir die satan te sê mens is nie toegewyd nie. Jy het nog nie in Christus gesterwe nie.  By die eerste hekkie slaan jy neer.
            Om deur die geloof te kan lewe moet ons beslis (committed) wees, moet ons determineerd wees, moet ons dapper wees, moet ons weier om kompromieë aan te gaan, moet ons rus (vind) in die HERE.
Of ons vertrou God absoluut, of, anders lewe ons in twyfel, ons probeer maar.....
            Jak. 1:6-7 .... hy wat twyfel moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie!
            Dus… ons moet weier om te twyfel.
            "Ons is God se magtige manne (en vroue) vol dapperheid, onverskrokkenheid. Ons weier om te twyfel. Ons staan soos rotse, onwankelbaar. Onthou, ons is GOD se eiendom. Vat iemand aan ons vat hy aan GOD, want, GOD sê: Vir sovele as wat julle dit aan die geringste van My doen, doen julle dit aan My. Matt 25:40 Dit is presies dieselfde as die dag toe jy jou maatjie beskerm het toe iemand hom wou boelie.
          Dit is ook hoekom ons nie wraak moet uitoefen nie. GOD sê:  Hom kom die wraak toe. Hy sal vergeld. Ons moet net besef dat as iemand ons leed aandoen, speel hy of sy met vuur, want hulle het GOD se eiendom aangetas. En daar staan ook geskrywe: Dit is vreeslik om te val in die hande van die Lewende GOD!
          Ons vrees niks, want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar ‘n gees van Krag, en van Liefde en van Selfbeheersing. Dit is wat ons ontvang het en dit is wat ons elke dag moet bely.
          Let weer op wat staan reg aan die begin geskrywe ... volgens die KRAG wat IN ons is.
          Daar is geloofskrag in ons om ook die dinge te kan doen wat ons voorsate deur die geloof gedoen het..  volgens ...  dui daarop dat ons daardie geloofskrag moet uitbou, soos 'n gewigopteller sy krag ook uitbou. Hoe groter sy krag, hoe groter die gewig wat hy kan baasraak.
          Ons moet dus deur Sy Woord en deur praktiese toepassing daarvan, ons geloofskrag uitbou. Kyk hoe waar is die volgende:
          Om nederig te wees is God se Wil. Om jouself te verkleineer, is nie nederigheid nie en is sonde. In die oë van God is ons baie belangrik. Ons is Sy VOLK. Ons is Sy eiendom. Ons is Sy Erfgename. Ons is Sy medewerkers. Ons het die geloof van 'n mosterdsaadjie  –  ons (moet) groei tot 'n reuse Geloofsboom !
          Bely dit,  glo dit, want dit is die Waarheid, en nie die twyfel en onwaarhede wat die satan ons mense mee teister nie.
          Onthou, wanneer mens naby die deurbraak is, sal die druk altyd toeneem. Teenspoed lyk maar soos teenspoed. Hoe harder die stryd hoe groter die oorwinning, want in Christus Jesus IS ons meer as Oorwinnaars !!!
          Probleme wat oor die wêreld aan die kom is, moet maar kom. Ons is Gereed daarvoor!
          God se Koninkryk is op aarde gevestig om ‘n verskil te maak sodat reg en geregtigheid sal geskied.  Ja, ons sal tot die heidene genees, want Hy het gesê ons sal doen wat Hy gedoen het, behalwe dat ons baie meer sal doen as wat Hy gedoen het.
          Waarom verkleineer ons onsself?  Waarom tree ons nie op met eerbied teenoor Hom en met Sy gesag nie?  Waarom wil ons altyd soos smartvrate op die negatiewe teer, onder die omstandighede woon in plaas van bo die omstandighede?
          Iemand het gesê:  “We are majoring on minors.  We should be majoring on majors. We should initiate our own majors!”
          Komaan!  “Rig die slap hande en die verlamde knieë weer op, en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.”  Heb. 12:12.
          Dan sal die HERE ook kan sê:  Ek het nie in die wêreld so ‘n geloof gesien soos in Suid-Afrika nie! – Sjibbolet