Vrydag 02 September 2016

Die twee soldate..

.
In ‘n Britse hospitaal tydens Wêreldoorlog 11, lê ‘n soldaat ernstig gewond. Sou hy gesond word? Hy was ongered, tel ‘n Bybel langs sy bed op en begin lees. Hy lees dat Jesus leef en dat Hy genees en hy kom agter dat die Bybel 100% op datum is met alles.


Dr Derek Prince
  
Omdat Derek Prince in daardie stadium ‘n filosoof en soldaat was, het hy Efesiërs se verduideliking van die wapenrusting deeglik begryp.
            Hy het Jesus as Saligmaker aangeneem, die HERE vertrou vir sy genesing en is op 88-jarige ouderdom Huis toe. Hy was een van die mees bekende Skrifgeleerdes van sy tyd.        
            Daardie Bybel wat iemand langs sy bed neergesit het, het die ommekeer tot gevolg gehad. So groot dat hy later Dr in Teologie geword het.
            In ‘n ander Britse hospitaal was  'n erg beseerde lugmagman... ook tydens Wêreldoorlog II.
Nadat die dokter sy wonde verbind het, sê die gewonde man vir die lugmagman in die ander bed: "Maat, jy kan 'n ou nie dalk met bietjie godsdiens help nie? Ek het groot geskrik, jy weet."
"Jammer, jong," antwoord die ander man, "ek sal nie kan nie. Maar elke Donderdag kom 'n vrou hierlangs met Bybels en traktaatjies, sy sal jou help."
“Dalk is ek Donderdag nie meer hier nie," sê die eerste man. "Jy kan nie dalk vir my net iets sê nie?"
Die tweede een skud net die kop. Na 'n rukkie sê die eerste man weer: "Ek het gelê en dink. Ek weet nie of dit in die Bybel is en of dit net 'n lied is nie, maar dis iets soos: Laat die kindertjies na My toe kom, want die Koninkryk van die Hemel is hulle s'n."
"Ja, dis definitief in die Bybel," antwoorde die tweede een.
"As Jesus Christus wou hê die kindertjies na Hom toe moes kom, dink jy Hy sal my darem ook vat? Ek het Hom baie nodig, jy weet. In elk geval ek gaan probeer en Hom vra."
Hiermee trek hy die laken oor sy kop. Die laken het nie weer afgekom nie. Sy liggaam is later net verwyder.
            'n Lugmagkapelaan vertel die storie op 'n dag vir 'n groep lugmagmanne in Kingston, Ontario. Na die samekoms kom vra een van die vlieëniers vir hom: "Eerwaarde, dink u daardie man het enige kans gehad?"
Die kapelaan het geantwoord: "Hy het geen kans hoegenaamd gehad nie, hy had net ‘n absolute sekerheid.”
            Jesus self het gesê: "Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie... Dit is die wil van My Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die Ewige Lewe sal hê." Joh 6:37,40.
            Siele word steeds gered en baie moet nog gered word, doen jou deel... bid, glo en getuig sonder ophou. – Sjibbolet