Maandag 19 September 2016

Die Hysbakman


Image result for liftman 


’n Handelsreisiger moes uit die aard van sy werk dikwels in hotelle tuisgaan. Hy het dan gereeld vir die hysbakman gevra: ”Jy ry gedurig op en af, gaan jou laaste rit op aarde boontoe wees?” Dit het hom aanleiding gegee om met die man ’n gesprekkie oor sy ewige bestemming aan te knoop en vir Christus te getuig.
            Dit laat mens dink aan Paulus se woorde: “...  omdat ek slim was, het ek julle met lis gevang.” 2 Kor 12:16
            Op ’n dag vra hy dit vir ’n jongman wat in die hysbak diens doen. Die hysbakman antwoord: "Ek hoop dit sal boontoe wees.”
“As jy in die Here Jesus Christus glo, sál dit boontoe wees,” verseker die verkoopsman hom.
Die jongman kyk hom verbaas aan en sê: “Elke verstandige mens glo tog aan Christus Jesus.”
“Ja, maar nie almal glo in Hom nie,” vervolg die reisiger. Hierop antwoord die hysbakman: “Wel, ék sien geen verskil tussen aan Hom te glo of in Hom te glo nie.” Die hysbak het die vloer bereik waar die man se kamer was. Hy gee die jongman ’n drukkie op die skouer en stap sonder ’n verdere woord uit.
            Die middag wil hy weer die hysbak gebruik. Hy druk die hysbakknoppie en toe die hysbakdeur oopskuif, is dit dieselfde jongman van die oggend wat in die hysbak staan.
            “Gaan die hysbak af na die eetkamervloer toe?” vra die verkoopsman. “Verseker,” antwoord die jongman.
Die man bly buite staan en kyk na die vervaardiger se handelsnaam wat teen die hysbak se agterkant vertoon word, en sê: “Ek ken daardie firma. Ek glo aan hulle hysbakke, so ek dink ek sal die hysbak gebruik.”
Hy bly egter buite staan. Die hysbakman kyk verwonderd na hom en vra: “Wil u na die eetkamer toe gaan?"
"Ja, sekerlik. Ek moet mos net aan jou hysbak glo en dan sal ek by die eetkamer uitkom?” antwoord die man, maar bly steeds buite staan.
Effens ongeduldig sê die jongman: “Ek is eintlik bietjie haastig. Kom in asseblief.”
Die man kyk hom in die oë: “So? Om by die eetkamer te kom, moet ek aan jou hysbak glo, maar dit is nie genoeg nie, ek moet ook in die hysbak glo en inklim om die nut te ervaar?”
Die jongman knik met sy kop. Die man stap in en die hysbak begin ondertoe gly. Dan sê die jongman “Ek sien dit nou. Ek moet nie net aan Christus glo nie. Ek moet ook in Hom glo, dan sal ek gered word!”
Om in Christus te glo is om Hom aan te neem deur eenvoudige geloof. Glo dat Jesus vir jou sondes gesterf het, dat Hy op die derde dag opgestaan het as jou Redder om jou dag na dag te dra en dat Hy terugkom om jou te haal.
Die Christendom is mense wat aan Christus glo, soos die Mohammedane mense is wat aan Mohammed glo en Boeddhiste mense is wat aan Boeddha glo. Maar ewige redding berus nie op net ’n verstandserkenning nie, maar redding berus op die persoonlike vertroue in die hart, en (let op) belydenis van die mond... dat Christus Jesus my Verlosser is wat ek aangeneem het en in Wie ek vertrou dat Hy my sondes aan die kruis gedra het en uit Wie se opstanding ek die ewige lewe ontvang het.
“As jy met (let op) jou mond bely dat Jesus die Here is, en (let weer op) met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. Die Skrif sê tog: ‘Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” Rom.10:9,10
            “Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. ’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel.” Hebr 9:26-27 – Sjibbolet