Maandag 12 September 2016

Bly liewers stil


Image result for person keeping quiet


‘Ik houd liefs mijn smoel’


"Dieselfde gesindheid moet ook in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was...tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld". Fil 2:5-15
            "Bust-Me-Up" was 'n lomp en lelike ou sleepboot wat tussen Londen en Portsmouth gewerk het en gereeld by botsings betrokke was. Dit kon nooit in 'n hawe inkom sonder om teen een of ander boot of die kaai te stamp en skade te veroorsaak nie. Daarom was die boot se naam "Bust-Me-Up".
Een dag kom die boot pylreguit die hawe ingeseil en word netjies vasgemeer sonder om teen 'n enkele iets te stamp. 'n Matroos wat op die kaai staan, kan nie help om uit te roep: "Wat het met jou gebeur, Bust-Me-Up?"
Een van die boot se bemanning leun oor die reling en skreeu terug: "Nuwe kaptein gekry!" Dit was die geheim van die nuwe gedragspatroon.
            'n Mens kan baie onbedagsaam teenoor mense optree, selfs onbeskof wees en hulle seermaak. Dit kan opsetlik wees, as jou hart nog ver van die Here af is. Of dit kan ook gebeur dat, die dinge uitglip. Wanneer Christus die beheer in die lewe oorneem, verander 'n mens se gedrag.
Eie Ek,  is nie meer aan die stuur nie. Jesus het die kapteinskap oorgeneem en 'n mens se lewensgedrag verander al hoe meer na Jesus se voorbeeld.
            Iemand vertel eendag van ‘n vooraanstaande Suid-Afrikaanse sakeman se onchristelike gedrag. ‘n Toehoorder vra: Wanneer laas had jy met die sakeman te doen gehad?
            Die persoon sê toe dat dit maklik 15 jaar gelede was. Die toehoorder antwoord: Dan weet jy niks van sy Wedergeboorte nie. Daai man is vandag ‘n sieraad van God. ‘n Nederlander wat by die gesprek betrokke was, het opgemerk: Ik houd liefs mijn smoel.
            Iets van Jesus se nederigheid en vriendelikheid kom deur die werk van die Heilige Gees in so 'n lewe te voorskyn. "Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie." Rom 13:14 – Sjibbolet