Woensdag 21 September 2016

Kerk! Dis tyd vir Herlewing!


Image result for crowd of people

Tragies, dog ook ironies, soek die wêreld  na die HERE God YAWEH, maar die Christene sit aan die slaap in die kerkbanke, rustig in hul tradisie en botheid.
Volgens opnames   deur die Gordon-Conwell Teologiese Seminarie is daar sowat 43 000 soorte kerke in die wêreld. Die tempo waarteen dit groei gaan beteken dat daar in 2025 altesame 55 000 soorte kerke gaan wees.

Baie van hulle beskik natuurlik nie oor die Waarheid nie. Sommige is gestig weens tweespalt en skeuring.

Die wêreldling skud sy kop. So baie soorte kerke is vir hulle ‘n Babelse verwarring. Hoe kan so baie mense een boek, die Bybel, so deurmekaar verstaan... veral, wanneer die HERE sê dat ‘n kind dit sal verstaan.

Volgens tradisie is dit die predikant se werk om die siele in te bring. Hoe gouer hierdie klug nek-om gedraai word, hoe gouer gaan ons die getal volmaak vir die Wederkoms.
Herders versorg die skape, maar herders kry nie lammers nie. Dis die skape, ek en jy, wat moet lam. Met goeie sorg lam ons sommer twee- drie- en vierlinge... en word dit ons nommer een prioriteit in die lewe... om siele te wen.

Die wêreld vra en moet weet hoe kom mens by God uit. Die wêreldlinge kyk na ons leefstyl, hulle soek na modelle van gesaghebbende Christen leefwyses. Hulle wil God sien. Hulle wil God hoor.
Die wêreld het nie inligting oor God nie. Kan God hulle persoonlike probleme help oplos. En ook wêreldprobleme? “Geregtigheid verhoog 'n volk, maar die sonde is 'n skandvlek vir die nasies.” Spr 14:34
“Maar soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Matt 6:33

Hoor 2 Kron 7:13-15 “As Ek die Hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die Hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”
En kyk wat voeg die HERE hier by: “Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek (Suid-Afrika).”
Wat baat dit om te beweer ons is Christene, maar die wêreld sien God nooit in aksie in ons lewens nie.”

Altesame 36 miljoen mense in SA het verklaar dat hulle Christene is. Waar is hulle? Hoekom is hier nie ‘n Christen regering nie? Hier is Christen politieke partye, maar die Christene steun dit nie. M.a.w., daar is ‘n oop deur, maar bitter min stap daardeur.

Ons toon geen honger na God nie, geen bekommernis oor die verlorenes nie. Weet jou buurman dat jy Wedergebore is en wat Wedergeboorte is? Bid jy vir jou bure?
Die wêreldlinge haas na ‘n afgrond en ons keer hulle nie. Ons durf nie passief net toekyk nie. Ons staan skuldig voor God. Eseg 3:17-21

Herlewing is om dit wat eens lewendig was en in ‘n geestelike slaap verval het, weer te laat herlewe. Eseg 1: 1-14 verleen ‘n skitterende woordbeeld van die toestand.
Jy het redes en verskonings hoekom jy nie vir die HERE kan presteer nie. Jy is soos die man met die verdorde hand. Dis boonop jou regterhand wat verdor is, sê Lukas. Jou rede en verskoning is nie perfek nie want die HERE staan voor jou en sê: “Steek jou hand uit.” As daai man nie sy hand uitgesteek het, was hy nooit genees nie, het hy vir homself, sy gemeenskap en die HERE, niks beteken nie.

Daar is kerkraadslede wat liewer nooit in ‘n kerkraad moet dien nie. Of hulle doen niks, of hulle manipuleer ander en selfs die predikant. Die kerkrade skiet ver te kort aan die uitleef en onderwerping van die Koninklike Wet (Jak 2:8)

Baie kerke sit vandag vol mense, maar mense wat leeg is. Hulle het ‘n selfgenoegsame gees, ‘n apatiese hart en ‘n dooie ongehoorsame leefstyl. Kan hierdie bene weer herleef? Mense kom kerk toe toe, maar beleef niks. Sulke mense is geestelike lyke, mense met verdroogde beendere, verdorde hande en verlamde knieë.

            Hierdie toestand word gekenmerk aan die volgende:
·       Daar is nie meer ‘n behoefte aan Bybelstudie en gebed nie

·       Geestelike gesprekke is vir jou ‘n verleentheid en jy vermy dit

·       Wanneer jy sonde begin rasionaliseer

·       Wanneer jy kerk bywoon en wel Skrif aanhaal, maar dit het geen uitwerking op jou leefstyl nie

·       Wanneer jou lewe oor geld gaan, oor aardse besittings

·       Wanneer dit  nou nie meer pla dat ander verarm en geestelik verlore is nie

·       Wanneer die aanbiddingsdiens jou nie meer opgewonde maak nie

·       Wanneer jy nie meer daardie blye versekering het nie

·       Wanneer jy jou oorgee aan klaagliedere pleks van lofliedere

En ons neem dit waar wanneer die gemeente:

·       Begin swaar trek weens die effek van die moderne samelewing

·       Wanneer die gemeentes versplinter, rondval en die eenheid kwyn

·       Wanneer ons skielik wonder waarheen baie van die lidmate is

·       Wanneer  gemeentelede in ‘n staat van hopeloosheid verval

·       Wanneer die probleme in die kerk so groot word dat ons nie weet waar en hoe om te begin om dit reg te ruk nie

·       Wanneer die predikant vir alles geblameer word

Esegiël het vir sulke mense, sulke dooie beendere gepreek en herlewing het uitgebreek.
“Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” Matt 4:4
            Herlewing kom deur gebed. 2 Kron 7:14
            Diegene wat die Wil van die HERE doen, wat die Koninklike Wet gehoorsaam (Jak 2:8) hoef nooit oor sukses te twyfel nie.
            Die dooie beendere het begin lewe toe Esegiël God se opdrag uitgevoer het. Alle dooie beendere kan herleef. God sê dit en dis geprofiteer.
            Erken die doodsheid in ons lewens. Bely alle sonde en verkeerdhede. Laat ons onsself verbly in ons Wedergeboorte en laat ons weer toetree tot ure van aanbidding.
            Lees Ps 32 op jou knieë. Doen dit... Herleef! Ons kan nie in hierdie toestand verkeer – vol vlekke en rimpels – wanneer Jesus kom nie.

            “Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.
            “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
            “Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees.
            “Ek wil die oortreders U weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
            “Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
            “Here, open my lippe, dat my mond U lof kan verkondig.
            “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
            “Die offers van God is 'n gebroke gees; 'n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! Ps 51:12-19
            Herskep en hervestig geestelike gemeentes; Openb 3:15-21 en strofe 22: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.”
            Net in Israel is daar al 271 Messiaanse gemeentes. Sulke gemeentes van geredde Jode kom wêreldwyd, ook in SA, voor. Die vyeboom bot nie net nie, dit dra reeds vrug! Ons leef in die Laaste Uur!
            Leef in oorwinning. Leef bo en nie onder die omstandighede nie!
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete (hoekom?), sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12:12-15 – Sjibbolet