Maandag 15 Augustus 2016

Selfveroordeling bind jou gees


Image result for selfverwyt


Hou op om jouself te veroordeel

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Kor 5:17
            Menige Gelowige sal vandag getuig dat toe hulle Jesus Christus as persoonlike Saligmaker aangeneem het, toe hulle Wedergebore is, het ‘n algehele transformasie in hul lewens plaasgevind.
            Daar is verandering te bespeur aan ons uiterlike, aan ons emosie, maar ons gees is totaal getransformeer.
            Wanneer iemand Weergebore word, dan word hulle gees regverdig en waarlik heilig. Die Bybel praat eintlik van twee tipes geregtigheid. Daar is die geregtigheid wat mens toon deur jou eie optredes, en mens moet daardie tipe regverdigheid behou in verhoudings met ander mense.
            As jy nie reg lewe nie en nie reg doen nie, mag jou werkgewer jou dalk afbetaal, of jou vrou kan jou skei; so ‘n mens het jou eie geregtigheid nodig.
God neem jou egter nie aan op grond van jou uiterlike geregtigheid nie. God gee letterlik aan jou Sy geregtigheid. “En julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.” Efes 4:24
            In 2 Kor 5:21 lees ons dat God die Vader die Seun geskep het om sonde vir ons te word sodat ons die geregtigheid van God in Hom  kan word. Daar is dus ‘n geregtigheid ver bo ons uiterlike geregtigheid en is gebaseer op wat God vir ons gedoen het.
            Ons het letterlik die geregtigheid van God ontvang deur geloof in Christus. Ons is geskep in geregtigheid en ware heiligheid. Ons groei nie daarin nie, ons is reeds geregverdig. ‘n Eenvoudige definisie is ons reeds in die korrekte verhouding teenoor God staan. God is tevrede met ons gesetel in Christus, niks anders nie.
            Ons gees is waar die verandering plaasgevind het. Ons is reeds geskep in geregtigheid en ware heiligheid en is dus nuwe skepsels. Efes 2:10 lees: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.”
            In ons gees is ons perfek en voltooid. Daar is geen sonde of tekortkominge nie. Efes 1:13 lees: “...nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte.
            Sommige mag dink, wel, toe ek die eerste keer geglo het, toe het ek geglo dat ek geheel en al vergewe was en gereinig en alles was goed, maar sedertdien het ek gesondig, ek het God weer gefaal.
            As jy gefaal het, het jy gefaal in jou verstandelike en emosionele deel, maar jou gees het nie gesondig nie. Jou gees is geseël soos wat ‘n vrou konfyt in ‘n fles plaas, paraffien of kerswas oorgooi om dit lugdig te maak om alle onsuiwerhede uit te hou en draai dit dan styf toe. God het jou verseël en sonde kan nie jou gees binnedring nie. Jy het ‘n nuwe identiteit.
            Die wêreld waarin ons, ons bevind is een van veroordeling. Iemand moet altyd die skuld kry. In Christus werk dit nie som nie. Moenie jouself veroordeel oor ‘n fout wat gemaak het nie. Die HERE veroordeel jou nie, waarom doen jy dit?
            Vir jou om ‘n verhouding met God te hê, moet jy met Hom verkeer en Hom aanbid, juis gebaseer op wie jy is in jou gees en nie jou vlees nie. Dit is in werklikheid die groot transformasie in die Christelike lewe, dat ‘n persoon se identiteit moet verander.
            Ons moet aan God verwant wees, nie gebaseer net op wat ons in die fisiese  doen nie, ook nie met wat in ons gedagtes aangaan nie, maar juis met wie jy in jou gees is op grond van wat Hy vir jou gedoen het.
Dit is ‘n voltooide werk, en iets wat nooit verander nie, nooit fluktueer nie. Jy is geskape in geregtigheid en ware heiligmaking. Dit is die geestelike deel van jou. Jy moet gemeenskap met God hê in gees en in waarheid. Jy moet vasstaan in hierdie identiteit van wie jy in Christus is.
            In die Gees leef ons verby die vlees, domineer ons die vlees, vernietig ons die vlees. Let op wat sê Jesus: “Maar daar kom 'n uur wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid (hoekom?); want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
Paulus verduidelik dat ons, ek en jy, is IN hierdie wêreld, maar ons is nie VAN hierdie wêreld nie. Hy sê ook, ons burgerskap is in die Hemel. Dis die laaste uur. Ons moet afskeid neem van hierdie wêreld, soos iemand wat binnekort ver op reis gaan.
Hy voeg by: “Want baie – van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê – wandel as vyande van die kruis van Christus.
“Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.
“Want ons burgerskap is in die Hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander (hoekom?), om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.” Fil 3:18-21
Kyk wat voeg Paulus by: “Daarom, my geliefde broeders, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon, staan so vas in die Here, geliefdes. Fil 4:1
Ons moet ook kan sê: “My blydskap en kroon staan vas in die HERE.”
Wees soos wyse maagde, wees gereed, verwag Jesus die Bruidegom.
Aanbid reeds in Gees en in Waarheid. – Sjibbolet

Image result for god se genade