Woensdag 24 Augustus 2016

Skinder besmet jou

Image result for skinder

Jy durf nie loop en skinder nie...


As mense maar soveel wil bid soos wat hulle skinder, sal dit soos in die Hemel, ook op die aarde wees.
         Gelowiges, of dan, diegene wat getuig dat hulle Gelowiges is, dop telkens die toets... deur te praat, pleks van te bid.
          “Vriendelike woorde is soos 'n heuningkoek: soet vir die siel en 'n genesing vir die gebeente.” Spr 16:24
“Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Gal 5:22
Is hierdie vrugte by jou aanwesig? Gaan bid jy soms saam met jou predikant en of sy vrou om hulle te versterk en te bemoedig?
Daar is Gelowiges aan ons bekend wat nooit na ‘n skinderstorie sou luister nie, nie eers oor iemand in die familie nie... al was dit ook die waarheid. Hulle maak sulke storievertellers dadelik stil en vermaan hulle om vir die lydende te gaan bid.
Om verkeerd op te tree is ‘n gruwelike sonde. "Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here." Lev 19:16
"Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; 'n betroubare mens bewaar 'n geheim." Spr 11:13.
"Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende." Spr 16:28
"Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; bly weg van iemand wat baie praat." Spr 20:19
As iemand vir jou sê: “Het jy gehoor....” Dan moet jy dadelik op jou hoede wees en daardie een vermaan.
Stories het die gemene manier om langer te word en al hoe meer verdraaid. Soms is die probleem lankal opgelos, dan skinder dit nog steeds. Geen geskinder kan ‘n probleem oplos nie, maar eendragtige gebed wel.
Kyk weer, beskik jy hieroor: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”
Aan watter van vrugte het jy behoefte? Maak dan werk daarvan eerdat jy self in die beskuldigdebank staan.
Een besmette appeltjie maak die hele sak (gemeenskap) vrot. Jy as Gelowige moet jou gemeente en gemeenskap se belange op die hart dra. As een lid ly, ly almal.
Om te skinder en jou gesag te beswadder, beteken jy is besmet en jy besmet die gemeente en dit terwyl jy gewaarsku word: “Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie. Ps 105:15
“Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.” Jak 5:16
Mens bely jou sondes by die HERE, maar as jy teenoor iemand gesondig het, soos deur te skinder, bely dit teenoor die slagoffer en bid vir mekaar. Hoekom? Sodat julle gesond kan word.... een van die redes hoekom mens nie haastig die hande moet oplê nie. 1 Tim 5:22
As mens dit nie doen nie, sny jy jou toevoer na die Hemel af. Dan kwyn jy.
Die strofe lees: Die gebed van die regverdige het groot krag. Vraag is, is jy regverdig?
Feit is dat ons gereed moet wees vir die Wederkoms, sonder vlek en sonder rimpel. Is ons? Ons moet permanent gereed bly want ons kan ook vroeër gehaal word.
Wat moet jy maak wanneer iemand struikel, en selfs val: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid (en let op), terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.
“Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” Gal 6:1-2
En nou die groot vraag: Wat is die wet van Christus? “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
Dawid spreek die situasie aan in Ps 12 “Help tog, Here, want daar is geen vrome meer nie, daar is geen betroubare mens meer oor nie. Die mense bedrieg mekaar; hulle mislei mekaar met vleitaal. Die Here sal al die vleitaal uitroei en die grootpratery van die mense wat sê: In ons tong lê ons krag. Ons lippe help ons. Ons buig vir niemand nie.
“Maar die Here sê: Die swakkes word mishandel en die armes kla. Daarom gryp Ek nou in en gee uitkoms aan dié wat daarna smag. Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in 'n oond gesuiwer is. U, Here, hou oor ons wag. U sal ons vir altyd teen sulke mense beskerm, selfs al pronk goddeloses nog rond en al heers die gemeenheid nog tussen die mense."
Pleks van skinder moet ons so na aan mekaar wees dat self die wind nie tussen ons kan deurkom nie. Job 41:7. As ons so na aanmekaar in eendragtigheid staan, loop ons as gemeente ‘n bende storm en wen ons elke veldslag... en ook die geestelike oorlog.
Ons wekroep moet wees: Eendrag... want tweedrag is ‘n huis wat teen homself verdeeld is en hy gaan vir seker val. Matt 12:25
Woorde kan stig, maar dit kan ook vernietig. Woorde van ongeregtigheid, het menige familie geskeur, vriendskappe verbreek en selfs mense se dood beteken. Vandaar die spreekwoord: Tel jou woorde!
Mense wat skinder gaan ook verder. Dit was erg in Jeremia se tyd en is vandag steeds so erg.
Jeremia sê in Jer 9:1-10 “Ag, was my hoof maar water en my oog 'n fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my volk.
“Ag, het ek in die woestyn maar 'n herberg (gastehuis) vir reisigers gehad! Dan sou ek my volk verlaat en van hulle af wegtrek; want hulle is almal owerspelers, 'n hoop ontroue mense.
“En hulle span hulle tong, soos hulle boog, met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die HERE.
“Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net 'n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery.
“En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery.
“Jou woning is in die midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die HERE.
“Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sou Ek anders handel vanweë die dogter van my volk?
“Hulle tong is 'n moordpyl; dit spreek bedrog; met die mond spreek hulle van vrede met hul naaste, maar in hul binneste beraam hulle listige planne.
“Sou Ek hieroor aan hulle geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op 'n nasie soos hierdie een nie?
“Ek sal geween en geklaag aanhef oor die berge en 'n klaaglied oor die weivelde van die woestyn; want hulle is verwoes, sodat niemand daar deurtrek nie, en 'n mens hoor geen geluid van vee nie; die voëls van die hemel sowel as die diere – hulle het gevlug, weggetrek.”
Het jy al vir die HERE gesê: "Here, ek is innig lief vir U"? Of vir mede Gelowige?
Met woorde en ‘n berouvolle hart, kan enigiets reg gemaak word. Moet jy nie dalk by iemand gaan vergifnis vra nie? Of iemand dalk gaan vergewe nie? Doen dit vandag nog. Kry die rimpels en die vlekke uit jou bruilofskleed. Gaan staan voor hulle, al moet jy 1 000km ry. Bely, maak reg want jy verkeer in uiterste gevaar.
Die HERE het aan die mens die vernuf en wysheid gegee om talle musiekinstrumente te maak om die HERE mee te verheerlik. Vandag word die meeste instrumente vir ‘n verkeerde doel aangewend.
So het die HERE aan ons ‘n tong en woordeskat gegee om Sy lof en eer te besing. Sien, as jy hierin onskuldig is, dan kan jy antwoorde op jou gebede verwag. Jesus sal na jou luister want jou saak is reg voor Hom.
Dis ook hoekom jy die doop in die Heilige Gees kan beleef om ‘n geheime Hemelse taal van die HERE te ontvang om Hom in ‘n Hemelse taal te eer en te aanbid. Dis hoe mens in die Gees aanbid.
“Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid (hoekom?); want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
Dit kan mens net doen wanneer jou lewe waarheid is. – Sjibbolet